Skip to main content
Fakulteit Opvoedkunde pas innoverende benadering op nuwe honneursprogramme toe

Fakulteit Opvoedkunde pas innoverende benadering op nuwe honneursprogramme toe

Pia Nänny
26 Augustus 2016

​Die Fakulteit Opvoedkunde by die Universiteit Stellenbosch (US) sal in 2017 'n metode van gemengde leer gebruik om verskeie nuwe honneursprogramme aan te bied.

Die nuwe Minimum vereistes vir Onderwyseropleidingkwalifikasies vereis dat alle onderwysopleidingprogramme geherkurrikuleer moet word en die Fakulteit het hierdie geleentheid gebruik om al sy honneursprogramme opnuut te deurdink en te herontwerp.

"Wanneer beleidsdruk verandering vereis, moet mens dit as 'n geleentheid vir vernuwing beskou," het prof Magda Fourie-Malherbe, koördineerder van die honneursherkurrikuleringproses, gesê.

Die nuwe honneursprogramme sluit almal 'n navorsingskomponent van 25% in, wat studente die geleentheid bied om by navorsingsprojekte betrokke te raak en hul navorsingsvaardighede te ontwikkel.

Naas die navorsingskomponent, is die grootste verskil tussen die ou en nuwe programme die wyse waarop hulle aangebied sal word. Studente wat in die verlede vir BEd-honneursprogramme ingeskryf het, moes óf in die aande klas op kampus bywoon, óf hulle was deel van die telematiese program wat beteken het dat hulle feitlik geen kontak met ander studente gehad het nie.

Volgens prof Fourie-Malherbe wou die Fakulteit meer geleentheid skep vir interaksie tussen studente, asook tussen studente en dosente, sodat hulle by mekaar se diverse ervarings en menings kan baat. Dit word moontlik gemaak deur die innoverende gebruik van toonaangewende tegnologieë.

Die gemengdeleermodus sluit persoonlike kontaksessies op kampus, telematiese uitsendings na bestaande satellietlokale, sowel as elektroniese leer deur middel van SUNlearn in. SUNlearn is die US se leerbestuurstelsel. Hierdie stelsel maak dit vir studente moontlik om saam met mede-studente en dosente aan aanlynbesprekingsgroepe deel te neem, toegang tot 'n verskeidenheid inhoud soos poduitsendings en video's te kry, aan e-assessering deel te neem, opdragte elektronies in te dien, ens.

Studente sal twee weke se kontaksessies tydens skoolvakansies bywoon. Dit beteken dat mense van enige plek in Suid-Afrika, hetsy hulle pas gegradueer het of reeds binne die onderwystelsel werk, vir hierdie programme kan registreer.

Die volgende programme sal in 2017 geïmplementeer word: BEd Hons (Onderwysontwikkeling en demokrasie); BEd Hons (Opvoedkundige ondersteuning); BEd Hons (Grondslagfase-onderwys) en BEd Hons (Taalonderwys). Die Fakulteit is ook besig met die ontwikkeling van 'n nuwe program in Kurrikulumondersoek vir implementering in 2018.

Studente kan óf voltyds (een jaar) of deeltyds (twee jaar) vir die program van hul keuse registreer.

Aansoeke sluit op 30 Oktober.

Vir algemene navrae, kontak Melissa van der Vyver by [email protected] of 021 808 2122.

Meer oor die nuwe programme:

BEd Hons (Grondslagfase-onderwys)

Die doel van die program is om studente te bemagtig met vakspesifieke en pedagogiese inhoudskennis wat hulle vermoëns sal ontwikkel om op akademiese en professionele gebied as onderrigleiers in Geletterdheidsonderrig en Wiskundeonderwys vir Grondslagfase te kan optree.

BEd Hons (Opvoedkundige ondersteuning)

Die program beoog om ʼn koherente en kritiese verstaan te verseker van die omvang en beginsels van die opvoeding en opvoedkundige ondersteuning vir leerders wat leerhindernisse ervaar. Dit berei studente daarop voor om diverse en unieke leervaardighede en leerhindernisse te identifiseer en dit op sinvolle en voldoende wyse te akkommodeer.

BEd Hons (Onderwysontwikkeling en demokrasie)

Die doel van die honneursgraad in onderwysontwikkeling en demokrasie is om voorgraadse kennis te verryk en te verdiep deur die ontwikkeling van navorsingskapasiteit. Na voltooiing van hierdie kwalifikasie sal studente in staat wees om konsepsuele skakels tussen die teoretiese perspektiewe van die modules en die professionele omgewing te bepaal en te verduidelik.

BEd Hons (Taalonderrig)

Die doel van die honneursgraad in taalonderrig is om voorgraadse opleiding te verryk en te verdiep deur die ontwikkeling van navorsingsgegronde taalonderwyspraktyk. Die honneursgraad beklemtoon die teoretiese en navorsingsbasis van taalonderwys. Daarbenewens sluit die program ʼn fokus op veeltalige onderwys, kreatiewe skryfwerk en leksikografie in.