Digitale versamelings
Digitale versamelings
Die Stellenbosch Universiteitsmuseum huisves verskeie kunsversamelings asook ’n kultuurhistoriese en antropologiese versameling. Die Museum se missie is om die ryk erfenis van die Universiteit Stellenbosch te bewaar, te transformeer en te bevorder deur versamelings uit te brei, navorsing te onderneem en openbare programme aan te bied ter uitbouing van ’n inklusiewe samelewing. Verskeie versamelings van die Museum is gedigitaliseer en word op hierdie platform vir die publiek beskikbaar gestel.
“Die digitalisering van die kunswerke verhoog toegang tot die Universiteit se versameling en is ’n opwindende mylpaal in die Stellenbosch Universiteitsmuseum se geskiedenis,” sê die kurator van die Museum, Ulrich Wolff. Volgens Wolff is die aanlyn versameling nie bedoel as ’n plaasvervanger vir die persoonlike besigtiging en ervaring van die kunswerke in die Museum nie, maar is dit daarop gemik om die versamelings meer toeganklik te maak en aan die publiek bekend te stel. “Digitale toegang skep bewustheid van die versamelings by die Museum. Ek hoop dat meer mense die werke kan besigtig en moontlik ’n reis na die Stellenbosch Universiteitsmuseum sal beplan om die versamelings persoonlik te kom besigtig,” sê Wolff.
Christo Coetzee-Versameling
Christo Coetzee is in 1929 in Turffontein, Johannesburg, gebore. Hy studeer vir ’n BA-graad in Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Witwatersrand. In 1951 ontvang hy ’n nagraadse beurs om vir twee jaar in Londen aan die Slade-skool vir beeldende kunste te studeer (Berman, 1979: 68). Ná sy verblyf in Londen vertrek hy in 1956 via ’n reisbeurs na Italië, en in 1959 besoek hy Japan op ’n studietoer. Hy hou sy eerste solo-uitstalling in 1951 in Kaapstad, waarna sy eerste internasionale solo-uitstalling in die Hanover-galery in Londen volg. Hy neem ook deel aan groepuitstallings in Europa en Amerika. Volgens Ballot (1999: 1) word Coetzee geassosieer met avant-garde-bewegings en die “Art Informed”-, “Assemblage”-, en neo-Barok-kunsbewegings in Parys en ander plekke wêreldwyd. Sy vroeë skilderye was hoofsaaklik toegespits op figuurstudies, familiegroeperinge en solo-portrette. Volgens Stevenson en Viljoen (2001: 13) is sy stillewes verbeeldingryk en onderskeidend, soos sy skilderye van kruike en ornamente wat vreemde vorms aanneem.
Nel Erasmus-Versameling
Nel (Petronella Margaretha) Erasmus is in 1928 in Bethal gebore. Sy behaal haar BA-graad in Beeldende Kunste in 1949 aan die Universiteit van die Witwatersrand. In 1951 doseer sy kuns aan die Kunsskool van die Witwatersrand Tegniese Kollege en in 1952 aan die Johannesburgse Hoër Meisieskool. Tussen 1953 en 1955 verhuis sy oorsee om haar studies voort te sit. Sy neem privaat lesse by ’n Tsjeggies-Duitse kunstenaar, Gina Berndtson, wat hoofsaaklik op ’n begrip van kleur gerig is (US Museum, 2000: 16). Terwyl sy haar in Engeland bevind, doseer sy vir ’n paar maande kuns en studeer verder in Parys aan die Sorbonne, Ecole des Beaux Arts en Academie Ranson. Sy hou haar eerste belangrike uitstalling saam met twee ander skilders by die Galerie Bogroff in Parys. In 1966 word sy as Direkteur van die Johannesburgse Kunsmuseum aangestel. Sedert haar aftrede in 1977 spits sy haar meer op haar loopbaan as kunstenaar toe. Sy word beskou as een van die belangrikste na-oorlogse skilders met ’n loopbaan wat oor meer as 60 jaar strek (Stellenbosch Modern and Contemporary Art Museum, 2009).
Dr Peter & Catherine Freund-Versameling
Herine Fourie-Versameling
Herine Niehaus Fourie is in 1952 in Pretoria gebore en ontwikkel in haar hoërskooljare ’n liefde vir kuns as ’n stokperdjie. Haar belangstelling in kuns en fotografie groei terwyl sy in die Kantoor vir Openbare Betrekkinge van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing werk. As huisvrou en moeder doen Herine portrette en ontwerp bemarkingsmateriaal op ’n kommissiebasis. In 1987 verhuis die Fourie-gesin na Stellenbosch en vind sy as amateurfotograaf inspirasie in die skilderagtige dorpie Stellenbosch. Herine Fourie was ook by die bestuur van die Libertaskoor betrokke, het by die Musiekbiblioteek van die Konservatorium gewerk en het haar eie koffiewinkel besit, voordat sy voltyds waterverfskilderye begin doen het.
Maggie Laubser-Versameling
Maria Magdalena (Maggie) Laubser (1886–1973) wat sterk beïnvloed is deur die Duitse ekspressionisme, het ongeveer 140 werke aan die US nagelaat, en in 1989/90 is hierdie werke volledig gerestoureer. Die SU Digitale Versamelings platvorm huisves 150 van haar kunswerke.
Slegs ’n seleksie word in die Stellenbosch Universiteitsmuseum uitgestal in die gebou wat voorheen die Bloemhof Meisieskool was en waar sy haar hoërskoolopleiding ontvang het.
Solomon Caesar Malan-Versameling
n Bietjie geluk by die ongeluk lei daartoe dat ’n Switsers-gebore Engelsman uit Indië in 1839 'n aantal Kaapse tonele skilder en dat hierdie Africana-skat 30 jaar later ’n pad na Stellenbosch vind.
Solomon Caesar Malan (1812-1894) was ’n briljante jong Switserse student wat in Oxford gaan studeer het. Hy word ’n Britse burger en aanvaar in 1837 ’n professoraat in die klassieke in Kalkutta, Indië. Sy vrou, Mary, moet weens swak gesondheid na Engeland terugkeer en hy vergesel haar tot in die Kaap, waar hy gedurende die winter van 1839 vier maande lank woon voordat hy na Indië terugkeer.
In hierdie kort tydperk lewer Malan, ’n 27-jarige amateurskilder, ongeveer 90 unieke skilderye, sepiawastekeninge, sowel as sketse in pen, potlood en waterverf: dit sluit in tonele van kontemporêre Kaapstad en omgewing, asook van sy reis deur Stellenbosch en Franschhoek na Genadendal, en van daar af deur die Helderberg-kom terug na Kaapstad.
’n Mens kan hierdie kunswerke uit die tyd voor die uitvinding van fotografie beskou as die ekwivalent van die foto’s wat deur moderne toeriste geneem word – ’n manier om jou ervarings vas te lê.
Solomon Caesar se seun, Arthur Noel Malan, publiseer later ’n biografie van SC. ’n Suid-Afrikaanse dokter, Philip Traub, kom in 1966 op ’n eksemplaar van hierdie biografie in ’n Londense rommelwinkel af. Hy let die kort verwysing na die Kaapse sketse op en doen dan heelwat moeite om die eienaar van hierdie werke, Edward Malan, ’n afstammeling van SC, op te spoor.
’n Voormalige Matie, wyle dr Avril Malan, kom ook van die werke te hore en besluit om hierdie Kaapse Africana na Suid-Afrika terug te bring. Dr Malan koop die bundel met 175 werke, waaronder die Kaapse werke en die Indiese tonele. In 1968 skenk hy dit aan die Universiteit Stellenbosch (US) vir veilige bewaring. In dieselfde jaar stal die Universiteit die versameling uit en publiseer ook ’n boek van die versameling – ’n publikasie wat sedertdien ’n Africana-versamelaarsstuk geword het. Toe die US die instelling se 300ste bestaansjaar in 1979 herdenk, word ’n deel van die versameling weer uitgestal. Sedertdien word ’n gedeelte van die versameling permanent aan die publiek vertoon.
Johannes Meintjes-Versameling
Johannes Meintjes is in 1923 in Riversdale gebore. Hy was ’n kunstenaar en skrywer en het kuns studeer onder Florence Zerffi-Caldecott toe hy as jong seun saam met sy gesin na Kaapstad verhuis het. Van 1941 tot 1943 studeer hy vir ’n BA-graad in tale aan die Universiteit van Kaapstad en na voltooiing hiervan skryf hy ’n boek oor Maggie Laubser, met wie hy in 1940 bevriend raak nadat hy ’n uitstalling van haar werk bygewoon het (Berman, 1979: 196). Sy eerste uitstalling is in 1944 in Johannesburg gehou toe hy 21 jaar oud was, en het ’n groot indruk gelaat. Daarna hou hy ’n opvolguitstalling in Kaapstad wat net so suksesvol was (Meintjes, 2010: 1). Ná die Tweede Wêreldoorlog reis Meintjes op ’n troepeskip, die Aquitania, na Engeland. Sy eerste besoek aan ’n kunsmuseum was aan die Victoria en Albert Museum waar hy die Picasso- en Matisse-uitstalling besigtig. Terwyl hy hom in Londen bevind, werk hy deeltyds vir die BBC saam met Arnold van Wyk, en in 1947 keer hy na Kaapstad terug. Hier spits hy hom toe op sy skilderkuns, uitsendings en skryfwerk. Volgens Berman (1979: 197) is sy skilderye gul ontvang omdat sy benadering “blatant non-konformisties” was en sy styl deur kunstenaars beïnvloed is wat hoegenaamd nie helde in die oë van die algemene publiek was nie: Florence Zerffi met haar kragtige onderrigswyse wat dissipline by hom ingeskerp het, Irma Stern met haar sin vir kleur en die komposisie van Maggie Laubser. Alhoewel die invloede in sy kunswerke deurkom, word dit tot ’n persoonlike en meer romantiese visie gebring, en dit is hierdie kwaliteit wat kykers aantrek.
Marguerite Isabel Murray-Versameling
Marguerite Isabel Murray is in 1899 in Worcester gebore. Sy voltooi haar tersiêre opleiding aan die Victoria Kollege, wat later die Universiteit Stellenbosch word. Marguerite werk 10 jaar as onderwyseres. Sy gee vier jaar lank klas by Bloemhof in Stellenbosch en die oorblywende ses jaar by Jan van Riebeeck in Kaapstad. Daarna aanvaar sy ’n pos as lektrise aan die Universiteit van Kaapstad en word in 1934 een van die stigters van die Kaapstadse Afrikaanse Toneelvereniging. Sy is in Julie 1983 oorlede. Haar belangrikste bydrae tot teater en toneelspel is Binnehof (1959: drie bedrywe) waarin sy, in pas met die klein-realistiese regie van vele Fagan-dramas, ’n uitbeelding gee van ’n aantal woonstelbewoners wat hulle bestaan daar op die een of ander manier voer (Kannemeyer, 1983: 24).