Skip to main content
Shadia se navorsing 'n voorbeeld van moeite wat beloon word

Shadia se navorsing 'n voorbeeld van moeite wat beloon word

Erika Hoffman
15 Desember 2021

Shadia Akter, 'n graad 11 leerder van New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl, is onlangs beloon vir haar kreatiewe en probleemoplossende navorsing, toe sy 'n silwer medalje vir Suid-Afrika losgeslaan het by die Buca International Music, Science, Engineering and Energy Fair (IMSEF) in Turkye. Sy het in die Wiskunde- en Rekenaarwetenskap kategorie deelgeneem.

Haar wetenskapreis na Turkye het in 2020 begin toe sy die Science Buddies wetenskapklub wat Saterdae deur SUNSEP, die sentrum vir pedagogie in die Fakulteit Opvoedkunde by Universiteit Stellenbosch aangebied is, as graad 10 leerder bygewoon het. Toe Covid toeslaan het sy vasgebyt met haar selfonderrig en onder andere 'n Eskom Ekspo werkwinkel bygewoon oor hoe om die Honeycode-toepassing te bemeester. Dit het gelei tot haar projek wat skole help om groot getalle leerders in die skool effektief vir Covid-19 te skandeer.

Na haar toekenning het Shadia gesê dat om 'n silwer medalje by so 'n gerespekteerde wetenskapskou te wen ekstaties en terselfdertyd surrealisties is. “Ek het nuwe kennis opgedoen en my vaardighede as jong wetenskaplike verfyn. Ek voel geseënd om te kon deelneem aan 'n geleentheid wat gehou is om die gees van wetenskaplike navorsing en kuns na die wêreld te versprei. Dit was senutergend om deel te wees van 'n wêreldklas wetenskapskou en teen 166 projekte van 27 lande mee te ding, maar ek is baie dankbaar dat ek dit gedoen het."

Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes in Suid-Afrika is geaffilieer met die mees gesogte en mededingende internasionale wetenskapkompetisies in die wêreld. 16 Suid-Afrikaanse leerders het vanjaar die geleentheid gehad om op internasional vlak met hul tydgenote kontak te maak en meer oor hulle navorsing te wete te kom.

Mev Erika Hoffman van SUNSEP en  streekkoördineerder van Ekspo vir Jong Wetenskaplikes in die Stellenbosch-streek, meen dat Shadia 'n voorbeeld is vir baie skoolleerders wat deursettingsvermoë en doelgerigte navorsing betref. Die tyd en moeite wat sy in haar projek ingesit het, is beslis beloon.