Skip to main content
Fakulteit Opvoedkunde trots op graduandi

Fakulteit Opvoedkunde trots op graduandi

Pia Nänny
17 Maart 2016

​Die Maart-gradeplegtighede aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltrek die 2015 akademiese jaar, en dit blyk dat twee besonderse rekords opgelewer is: die meeste kwalifikasies ooit toegeken, 7 857, en die meeste doktorsgrade, 266.​

Uit hierdie grade, is 646 toegeken aan studente in die Fakulteit Opvoedkunde.

Die meeste studente het in Desember gegradueer, terwyl altesaam 2 833 US-studente van Maandag 14 tot Donderdag 17 Maart 2016 vir hul harde werk beloon is.

Een van hierdie studente was die Paralimpiese atleet Dyan Buis, wat Dinsdag sy Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) verwerf het.

Buis, wat serebraal gestremd is, het verlede jaar twee silwer medaljes by die Atletiekwêreldkampioenskapsbyeenkoms in Doha gewen – een in verspring (F38) en een in die 200m (T38).

Daar was hierdie week egter nie baie tyd vir feesvieringe nie want Buis, wat 'n onderwyser by Wes-Eind Primêr in Franschhoek is, moes nog punte invoer en rapporte voorberei. 

Hy vertel dat hy gewoonlik aan die begin van die jaar vir die kinders vertel wat sy gestremdheid behels en dat hulle dit oor die algemeen maklik aanvaar.

Hy is tans ingeskryf vir die honneursgraad in onderwysontwikkeling en demokrasie en besig om voor te berei vir moontlike deelname aan die 2016 Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro later vanjaar.

Die Sentrum vir Pedagogie in die Fakulteit Opvoedkunde (SUNSEP) was verheug oor die nuus dat 21 voormalige SciMathUS-leerders hierdie week gegradueer het. Die jaar lange SciMathUS-oorbruggingsprogram help studente uit opvoedkundig benadeelde gemeenskappe om toegang tot hoër onderwys te verkry en berei hulle voor om hul tersiêre studies suksesvol te voltooi.

Van hierdie studente, het twee hul meestersgrade behaal, twee het BRek-grade verwerf en tien het BCom-grade verwerf.

Foto's:

Voormalige SciMathUS-leerders Julian Claasen en Kayla-Lee Elders het BRek-grade verwerf.

​Dyan Buis het sy NOS verwerf. Fotograaf: Stefan Els