Skip to main content
US-projek help watertekort verlig

US-projek help watertekort verlig

Wiida Fourie-Bassson
13 Desember 2016

Met hul toetsing van tegnologie om reënwater te oes en te behandel wil mikrobioloë van die Universiteit Stellenbosch (US) help om die druk op munisipale diensverskaffing te verlig en om 'n gemeenskap se toekoms te verbeter.

Uitgestrek teen die hange van Papegaaiberg lê Enkanini met sy sowat 10 000 inwoners wat toegang het tot slegs 36 gemeenskaplike krane. Terwyl Brandon Reyneke besig is om 'n watermonster te neem van 'n kleinskaalse sonkrag-pasteurisasiestelsel wat 'n paar tree buite die ingang na Victor Mthelo se huisie geïnstalleer is, sê hy: "Ek geniet die kans om uit die laboratorium te kom en met die mense wat by die projek betrokke is te gesels."

Sedert September 2015 besoek die 23-jarige Reyneke en sy mede-nagraadse studente in die waterbronnemikrobiologie-laboratorium elke maand drie loodsprojekte in Enkanini, 'n informele nedersetting in Stellenbosch, om watermonsters te neem en na te gaan of die stelsels nog funksioneer. Terselfdertyd bied dit hulle ook die geleentheid om met die lede van die betrokke huishoudings te gesels.

Vandag hoor Reyneke dat die gat waarin die stelsel geïnstalleer is, tydens onlangse reënbuie oorstroom het. Die water het afgeloop na die huisie net onderkant die stelsel. "Dit was aanvanklik reeds 'n uitdaging om genoeg spasie én 'n gelyke stukkie grond tussen die huise te kry waar ons die stelsels kon installeer," verduidelik hy. "Die huise se dakke is ook nie sterk genoeg om so 'n stelsel te dra nie."

Dit is maar net een van die probleme waaraan die waterbronnemikrobiologie-laboratorium, onder die leierskap van dr Wesaal Khan, aandag gee. Dié laboratorium is tans een van die primêre laboratoriums in Suid- Afrika wat fokus op die behandeling van reënwater deur die gebruik van sonkragtegnologie.

Die Suid-Afrikaanse regering het die oes van reënwater as 'n alternatiewe en volhoubare waterbron in landelike gebiede en informele nedersettings geïdentifiseer. Maar al is dié praktyk reeds vir eeue lank bekend, het die tegnologie nie tred gehou met ons moderne, meer besoedelde omgewings nie.

"Suid-Afrikaners is heel vertroud met die konsep. Hoewel gemeenskappe in die Oos-Kaap die reënwater vir drinkwater kan gebruik, wys ons navorsing dat reënwater in veral stedelike gebiede erg besoedeld is met chemiese en mikrobiese stowwe," verduidelik Khan.

In stedelike gebiede word die reënwater besoedel met swaar metale weens die lugbesoedeling van nabygeleë industrieë. Boonop beland daar mikro-organismes in die reënwatertenk soos wat plantafval en fekale afval van voëls en ander klein diertjies op dakke versamel. Sy waarsku dat verskeie mikro- organismes wat hulle met die navorsing in reënwatertenks geïdentifiseer het, onder meer met siektes soos diarree, longontsteking en wurminfestasies geassosieer word. Daarom is dit so belangrik om doeltreffende en volhoubare tegnologieë te ontwikkel om die reënwater te ontsmet.

Khan het onlangs 'n projek vir die Waternavorsingskommissie voltooi waarin sy verskeie bestaande tegnologieë vir die behandeling van reënwater getoets het. Die sonpasteurisasiemetode (SOPAS) het uitgestaan as die mees betroubare en bekostigbare stelsel. Khan se groep is tans besig om te werk aan die installering van klein- en grootskaalse reënwater- behandelingstelsels wat in die waterbehoeftes van 'n groep huis- houdings in 'n spesifieke area sal kan voorsien, of in dié van 'n skool of kliniek.

"Die idee is nie om alternatiewe tot munisipale drinkbare water te ontwikkel nie, maar eerder om bestaande infrastruktuur te ondersteun. Ná behandeling kan reënwater gebruik word vir die was van skottelgoed en klere, of vir persoonlike higiëne."

Hul navorsing is 'n kombinasie van toegepaste en fundamentele wetenskap: "Ons wil die tegnologie laat werk sodat die gemeenskap daaruit kan baat. Ons is ook besig om die weg te baan met die ontwikkeling van nuwe molekulêre tegnieke vir die behandeling van reënwater. Ons is een van die eerste laboratoriums in Suid-Afrika om op die grootskaalse monitering van die chemiese en mikrobiese gehalte van reënwater te fokus. Maar ons grootste motivering bly die moontlike impak van ons navorsing op die gemeenskap," sluit sy af.

ONDERSKRIF: Dr Wesaal Khan verduidelik aan inwoners van Enkanini hoe die SOPAS-stelsels werk.

  • Hierdie artikel verskyn in die jongste uitgawe van die US-tydskrif, Matieland. Lees die tydskrif by www.sun.ac.za/matieland. Jy kan ook op hierdie webblad registreer om die tydskrif gratis te ontvang.