Skip to main content
Mari-Louis Guy: Ons gassjef 'n US-alumnus met flair

Mari-Louis Guy: Ons gassjef 'n US-alumnus met flair

Petro Mostert
16 November 2021

​Mari-Louis Guy, ons gassjef vir Prof Stan se Groot Kook is 'n professionele kosstilis, resep-ontwikkelaar, neigingspotter, boot-spotter, reisiger en ma van drie baie besige kinders. Sy het saam met haar broer, Callie Maritz, verskeie kook- en bakboeke gepubliseer. Wat meer is, sy is 'n oud-Matie en het aan die Universiteit Stellenbosch (en De Akker, sê sy) gegradueer met 'n honneursgraad in huishoudkunde.

In 1996 het Mari-Louis en haar man Chris hul eerste huis, antieke VW Kombi en knorrige Landy, vir kaartjies na die suide van Frankryk verruil.

Só begin 'n lang loopbaan as private sjef op die luukse seiljagte en landgoedere van die superrykes en bekendes. Dit het haar 'n unieke perspektief gegee op die kulinêre genot van die lande waar sy gewerk het: Frankryk, Spanje, Italië, Monaco, Griekeland, Engeland, Nederland, Turkye en selfs Taiwan. Eilandlewe het hulle toe na die Bahamas gelok en gelei tot lang somers, soos wat hulle op en af met die Amerikaanse Ooskus van Florida Keys na New York en The Hamptons geseil het.

Voordat sy teruggekeer het na Kaapstad om met 'n gesin te begin, het sy die fynere kunsies van bak en versier by The Wilton School of Cake Decorating in Chicago gestudeer en by die bekroonde bakker, skrywer en versierder, Colette Peters, in Orlando gaan kers opsteek. Vars van die boot af, het sy die wêreld van kosstilering betree as kosredakteur vir die plaaslike Oprah-tydskrif.

Dit is vinnig opgevolg deur haar eerste boek: Cakes to Celebrate Love and Life. Die onmiddellike sukses van daardie titel het gelei tot sewe kos- en bakboeke in sewe jaar: Love & Food; Koekbroodpoeding & Pastei; Maak, Gee & Verkoop; Onthaal op groot skaal; EEN Pot Pan Skinkbord; en Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling.

Met Kaapstad as een van die top-vyf bestemmings vir film- en videoproduksie, het sy kosstilering op meer as 200 televisieadvertensies en nog 'n ongekende aantal fotoproduksies vir voedselhandelsmerke, kleinhandelaars en tydskrifte van regoor die wêreld hanteer.

Mettertyd het sy aan die voorkant van die kamera begin verskyn. Sy maak eers gasoptredes op TV-programme, as restaurantresensent vir regstreekse televisie op Expresso Breakfast Show, daarna as aanbieder en beoordelaar op vier seisoene van Suid-Afrika se voorste bakkompetisieprogram, Koekedoor/Koekedoortjie/Kokkerdoortjie.

Laat 2017 het die familie Guy na Montenegro verhuis. Daar het sy vinnig by plaaslike voedseltoerismeproduksies betrokke geraak en haar globale kulinêre kennis aangevul deur bak- en kookkursusse by te woon, waarvan die mees onlangse besoek by Tortik Annushka in Moskou.

Van die Balkans af het sy haar vinger op die pols van ons plaaslike koswêreld gehou as rubriekskrywer, blogger en kosneigingsvoorspeller vir SA tydskrifte Huisgenoot, Sarie en Crush.​

As jy wil sien waar Mari-Louis kook en reis, volg haar op Instagram by: https://www.instagram.com/marilouisguy/

Sy het nog 'n paar van haar kookboeke beskikbaar:

Koeke (tien) R350 elk

EEN (tien) R350 elk

Onthaal, (twintig) R200 ek

As jy wil bestel, stuur 'n e-pos aan: [email protected]