Kampussekuriteit skep bewustheid vir studenteveiligheid
Ons Kampussekuriteitspersoneel het gedurende die 2022-verwelkomingstydperk ons nuweling-studente toegespreek oor veiligheid op die Stellenbosch-kampus en in die dorpsgebied.
Melany le Roux, bestuurder sekuriteitstelsels en intelligensie, sê: "Ons het op die belangrikheid van studenteveiligheid gefokus en vir die nuwelinge gesê dat hulle dieselfde veiligheidsmaatreëls in Stellenbosch moet tref as elders in Suid-Afrika. Ons het hulle 'n oorsig gegee van ons rol en hulle basiese selfverdedigingsvaardighede geleer."
"Dit is belangrik dat die nuwelinge die uitdagings verstaan wat ons in die gesig staar en dat ons kampus 'n oop een is. Ons het ook vir hulle gewys watter kategorieë misdaad gereeld voorkom en waar die brandpunte is."
Melany het gesê hulle het vir die studente vertel hoe belangrik dit is om nie alleen te stap nie en gebruik te maak van die saamstap-diens op kampus, wat Kampussekuriteit as 'n gratis diens bied. Hulle is ook van die pendeldiens vertel en aangemoedig om dit te gebruik, veral wanneer hulle aan die buitewyke van die kampus bly.
Kampussekuriteit het ook die Tygerberg-kampus besoek met hul veiligheidspraatjie. Terwyl Tygerberg-kampus nie dieselfde uitdagings as die Stellenbosch-kampus in die gesig staar nie, het Melany en haar kollegas nodige veiligheidsmaatreëls gedeel, soos die gebruik van Uber-dienste.
"Ons het baie positiewe reaksies ontvang in 'n opname wat deur nuwelinge voltooi is, en hulle het ons aangemoedig om hierdie sessies met al die nuwelinge te herhaal. Oor die algemeen het die studente die baie interaktiewe selfverdedigingsessies terdeë geniet. Hulle was bly om vrywillig te wees en aan fisieke demonstrasies deel te neem. Die opname het ook aangedui dat nuwelinge na die veiligheidsessies bemagtig gevoel het om 'n aktiewe rol te speel om hul eie veiligheid op kampus te verseker," het Melany gesê.
"Die span moedig studentegemeenskappe aan om ons te versoek om meer veiligheidsessies op kampus te hou, wat ook senior studente moet insluit, aangesien sekuriteit staatmaak op vennootskap met die kampusgemeenskap om kriminele gedrag op kampus af te weer."