Skip to main content
FGGW bied eerste F2F-opedag in twee jaar aan

FGGW bied eerste F2F-opedag in twee jaar aan

FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
25 April 2022

​Meer as 2 000 voornemende gesondheidsorgstudente en hul ouers het die afgelope naweek die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) se eerste aangesig-tot-aangesig (F2F) Opedag in die afgelope twee jaar bygewoon.

Die FGGW se akademiese, huisvesting-, sport- en sosiale aanbod is ten toon gestel by die Opedag-geleentheid, wat by die US se Tygerberg-kampus aangebied is. Die FGGW se voorgraadse akademiese aanbod sluit grade in Dieetkunde, Geneeskunde en Chirurgie (MBChB), Verpleeg- en Verloskunde, Arbeidsterapie, Fisioterapie en Spraak-Taal- en Gehoorterapie in.

Die Opedag-geleentheid, wat met behulp van ʼn kaartjiestelsel bestuur is om voldoening aan Covid-19-protokolle te verseker, het inligtingsessies oor aansoek- en keuringsprosesse deur Anthea Roberts van die FGGW se Keuring- en Werwingskantoor ingesluit.   

Prof Elmi Muller, Dekaan van die FGGW, het die leerders en hul ouers verwelkom. “Dis wonderlik om soveel mense te sien wat ʼn loopbaan in gesondheidsorg wil volg. ʼn Loopbaan in gesondheidsorg bied jou die geleentheid om elke dag ʼn verskil in iemand se lewe te maak. As jy hierdie loopbaanpad kies, sal jy die geleentheid kry om noodsaaklike werk met ʼn impak te doen." 

Muller het voorts benadruk dat ʼn loopbaanpad in gesondheidsorg tot ander moontlikhede soos navorsing of laboratoriumwerk kan lei. “Daar is sommige buite-die-boks-opsies in gesondheidswetenskappe, waaronder geleenthede in kunsmatige intelligensie. Ons het ʼn wonderlike infrastruktuur hier by die Tygerberg-kampus en ʼn dinamiese groep mense met ervaring om onderrig op voor- en nagraadse vlak te rig. Ons sien daarna uit om julle hier te verwelkom."  

Dr Derick van Vuuren, die FGGW se MBChB-koördineerder, het die veranderinge in die MBChB-kurrikulum (geneeskunde) verduidelik, wat die eerste keer in 2022 in werking gestel is. “Die gesondheidstelsel is uit verskeie perspektiewe onder druk. Dit sluit tegnologiese vernuwings en epidemiologiese en demografiese oorgange in, en gesondheidsorgberoepslui is die skakel tussen al hierdie veranderinge. Dit is hoekom die klem en fokus van ons voorgraadse gesondheidswetenskappe-kurrikulums verskuif het." 

Dr Evette van Niekerk, programkoördineerder van die BSc-graad in Dieetkunde, het gesê hierdie program het ook ʼn aangepaste kurrikulum, wat anatomie, menslike fisiologie, voedselproduksie en -stelsels en gemeenskapsvoeding insluit. “In wese ontwikkel dieetkundiges beleide en programme wat mense help om hul eetpatrone en gesondheid te verbeter." 

Dr Nicola Plastow van die Afdeling Arbeidsterapie het verduidelik arbeidsterapeute se rol is “om mense en gemeenskappe se vermoë om deel te neem en die beroepe wat hulle wil volg, moet volg of wat van hulle verwag word om te volg te verbeter deur die beroep of die omgewing aan te pas om hul beroepsbetrokkenheid beter te ondersteun". 

Die FGGW se Departement Verpleeg- en Verloskunde, asook die Afdeling Spraak-Taal- en Gehoorterapie en die Afdeling Fisioterapie, het ook hul unieke aanbod aan die voornemende studente voorgelê. 

Die Opedag-geleentheid het stalletjies van etlike akademiese departemente, studente-ondersteuningsorganisasies en huidige FGGW-studente gebied, waar voornemende studente meer oor die FGGW as ʼn plek van studie kon leer.