
Babavoeding kry hupstoot met innoverende opleidingsprogram
Navorsers sal vandeesweek ʼn vernuwende opleidingsprogram by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) bekend stel wat ten doel het om die gesondheidstatus van jong kinders in Suid-Afrika te verbeter.
Ontwikkeling op fisieke, intellektuele en emosionele vlak vind die vinnigste plaas van die begin van swangerskap tot met ʼn kind se tweede verjaardag (die eerste 1 000 dae van lewe), maar in Suid-Afrika word baie kinders weens verskeie redes voldoende sorg in dié tydperk ontsê.
Die Verbetering van Vroeë Voeding en Gesondheid in Suid-Afrika-opleidingsprogram (ImpENSA-opleidingsprogram) kan Suid-Afrikaanse gesondheidsorgwerkers (GSW's) met die nodige inligting, praktiese gedragsverandering- en kommunikasievaardighede toerus wat nodig is om wanvoeding in die deurslaggewende eerste 1 000 dae suksesvol te pak.
“Ons is verheug om eindelik hierdie wonderlike leergeleentheid vir gesondheidsorgwerkers in die hele Suider-Afrika beskikbaar te stel, ná drie jaar van harde werk deur agt organisasies in Suid-Afrika en Europa," sê prof Berthold Koletzko van die Ludwig Maximilian-universiteit (LMU), koördineerder van die ImpENSA-projek.
“Ons is oortuig dat hierdie uitstekende belegging van sowat €1 miljoen die gesondheid én ontwikkeling van die volgende generasie Suid-Afrikaners sal ondersteun. Die groot verskil tussen die ImpENSA-program en ander kindervoedingverwante opleiding is dat dit GSW's in staat stel om ʼn praktiese, pasiëntgesentreerde benadering te volg om pasiënte te ondersteun om hul unieke omstandighede wat optimale gesondheids- en voedingsgedrag belemmer, te identifiseer en aan te pak."
Hierdie is ʼn baie belangrike inisiatief in ʼn land met ʼn driedubbele las van wanvoeding, waar mikronutriёnttekorte, ondervoeding en vetsug gesamentlik in individue, huishoudings en gemeenskappe voorkom. Dít blyk duidelik uit die hoë voorkoms van oorgewig en vetsugtige moeders, asook van bloedarmoede by moeders en dwerggroei by kinders (ʼn merker van chroniese ondervoeding).
“Navorsing dui boonop op verskeie ander mikronutriёnttekorte, terwyl vetsug by kinders jonger as vyf ook toenemend voorkom," verduidelik prof Mieke Faber van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR).
ʼn Geleentheidsvenster
Daar is sterk bewyse dat ʼn belegging in kindergesondheid, veral gedurende die eerste 1 000 dae van lewe, nie net kinders se huidige gesondheidsuitkomste kan verbeter nie, maar ook hul toekomstige gesondheidstatus as volwassenes, asook hul ekonomiese potensiaal gegrond op hul gesondheid en ontwikkelingsvermoë.
“Hierdie is ʼn deurslaggewende tydperk waartydens voeding groei en ontwikkeling kan beïnvloed word," verduidelik prof Lize Havemann-Nel, die Suid-Afrikaanse koördineerder van die ImpENSA-projek. Sy werk by die Noordwes-universiteit se Sentrum vir Uitnemendheid en Voeding.
Nasionale en internasionale riglyne beveel eksklusiewe borsvoeding vir die eerste ses lewensmaande aan omdat dit volledige voeding en immuunbeskerming aan kinders bied, maar net 24% van Suid-Afrikaanse ma's borsvoed hul kinders van daardie ouderdom eksklusief.
Bykomende voeding, wat ideaal gesproke op ses maande begin moet word en tot op die ouderdom van twee jaar en later saam met voortgesette borsvoeding gegee moet word, skiet boonop dikwels aan variëteit en voedingswaarde tekort. “Ons weet uit navorsing dat Suid-Afrikaanse kinders jonger as vyf se dieetdiversiteit klein is, veral in laerinkomstegroepe. Omdat jong kinders klein hoeveelhede eet, moet hulle mikronutriëntdigte kos eet om aan hul dieetvereistes te voldoen," sê Faber.
Maar kos arm aan nutriënte, soos suikerversoete kos en drankies, southappies en hoogs geprosesseerde kos, is ʼn integrale deel van die dieet wat aan Suid-Afrikaanse kinders gevoer word en net sowat 23% van hulle het ʼn minimum aanvaarbare dieet."1
Daar is baie redes hiervoor, insluitende armoede, ʼn gebrek aan borsvoedingsbeleide by die werk, ultra-geprosesseerde kos wat goedkoper as nutriëntryke kos is, asook probleme met water- en kosveiligheid wat die voorbereiding van ongeprosesseerde kos bemoeilik.
“Dit verg ʼn stelselbenadering om wanvoeding suksesvol aan te pak en dit sluit verandering in die gesondheidstelsel in. Een manier om dit te vermag is om die vaardighede te verbeter wat nodig is om ondersteuning deur GSW's te maksimaliseer, of dit nou in swangerskapsorg, aan versorgers met babas of aan volwassenes met nie-oordraagbare siektes is," sê Havemann-Nel.
Vroeë voeding geniet baie aandag in sommige GSW-kurrikulums, maar meer klem is in die mediese kurrikulum nodig. “Daar is baie min gestruktureerde programme wat die belangrikheid van mikronutriënte in gesondheid en die voorkoming van siekte benadruk. Die fokus is meer op die behandeling van siektes," sê prof Renée Blaauw van die Departement Globale Gesondheid aan die FGGW.
ʼn Nuwe benadering
In die lig van hierdie kennis en bewyse fokus die ImpENSA-opleidingsprogram op mikronutriëntvoeding in die eerste 1 000 dae van lewe. Ná ʼn diepte-ontleding van die opleidingslandskap en fokusgroepbesprekings met ʼn wye verskeidenheid van GSW's, onder wie verpleegkundiges, vroedvroue, dieetkundiges, gemeenskapsgesondheidswerkers (GGSW's), aptekers, dokters en voedingkundiges, het die span die behoeftes, uitdagings en voorkeure van hierdie frontliniewerkers vir opleiding en die verskaffing van voedingsteun aan pasiënte geïdentifiseer.
Hierdie data is gebruik as die grondslag vir die ontwerp van ʼn opleidingsprogram deur kundiges op die gebied van voeding, sielkunde en gedrag van voedingsorganisasies en hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika, Duitsland, die Verenigde Koninkryk (VK) en Pole. Die eindproduk bied bewysgebaseerde voedingsonderrig aan, asook opleiding in gedragsveranderingsvaardighede.
Prof Etienne Nel van die FGGW se Departement Pediatrie en Kindergesondheid sê nog ʼn rede hoekom die opleidingsprogram ʼn impak kan hê in gebiede met min hulpbronne, waar dit die nodigste is, is dat die doelwit van meet af was om ʼn program te ontwikkel wat geskik vir die Suid-Afrikaanse konteks is. “Aanbevelings neem die Suid-Afrikaanse omgewing in ag, byvoorbeeld die tipe kossoorte was beskikbaar is en die diverse kulture in die land. Ons het ook seker gemaak die taal wat gebruik word, sal geskik wees vir tweedetaalsprekers van Engels."
Die opleidingsprogram bied twee kennisgebaseerde aanlyn modules wat in eie tempo voltooi kan word, asook een vaardigheidsgebaseerde aanlyn module. Die eerste module dek optimalisering van mikronutriëntvoeding gedurende die eerste 1 000 dae van lewe en module twee kommunikasie om gedragsverandering te ondersteun. Die derde module gaan oor Gesonde Gespreksvaardighede (GGV) om gedragsverandering te ondersteun.
Verander die wêreld een gesprek op ʼn slag
Die GGV-module het ten doel om die selfvertroue en vermoë van GSW's te bevorder om pasiëntgesentreerde gesprekke te hê en pasiënte aan te moedig om die eerste stap na gesonde gedrag te neem.
GGV-opleiding het vier doelwitte: 1) om GSW's te ondersteun om bemagtigende, verkennende gesprekke met pasiënte te hê; 2) om te luister eerder as om net inligting of voorstelle te verskaf; 3) om vaardighede te ontwikkel om oor hul gesprekke na te dink; en 4) om doelwitstelling te ondersteun wat spesifiek, meetbaar, aksie-georiënteer en realisties is om volhoubare gedragsverandering te verwesenlik.
“In ʼn omgewing met min hulpbronne is die klem van GGV om dinge ánders te doen, nie om méér te doen nie," verduidelik dr Wendy Lawrence, medeprofessor in gesondheidsielkunde en globale GGV-leier by die Southampton-universiteit.
Leerders kan bewysgebaseerde inligting verwag wat deur nasionale en internasionale riglyne gerig word, asook praktiese aanbevelings, interaktiewe media-elemente, selfassesseringsvraelyste, lesaktiwiteite, animasievideo's, scenario-gebaseerde video's en kleurgrafieke.
Lawrence meen die program sal danksy die insluiting van GGV ʼn veel groter impak hê. “Dit het die vermoë om die wêreld een gesprek op ʼn keer te verander. As die mense eers die vaardighede onder die knie het, kan hulle dit in hul persoonlike en werklewe toepas. Of hulle nou met familie, vriende, pasiënte, kollegas, bestuurders of studente praat, sal hulle meer doeltreffende, nie-konfronterende gesprekke hê wat beter verhoudings en uitkomste sal meebring. Wat is daar nie om oor opgewonde te raak nie?"
Bekendstelling en uitbreiding
Die volgende stap is die bekendstelling van die program aan ʼn wyer spektrum van gesondheidsorgwerkers soos mediese beroepslui, verpleegkundiges en GGSW's. “Hiervoor is die samewerking van die Departement van Gesondheid, provinsiale regerings en akademiese instellings belangrik," sê Nel.
Voorts sal die aanpassing van die program, byvoorbeeld vir aangesig-tot-aangesig aanbieding van die GGV-module, nodig wees om frontliniewerkers in landelike gebiede met min hulpbronne te bereik.
Die program sal tydens die aanvanklike bekendstellingsfase tot Januarie 2023 gratis aangebied word. Besoek www.early-nutrition.org/impensa vir meer inligting, of stuur ʼn e-pos na [email protected].
Goed om te weet:
Op wie is die ImpENSA-opleidingsprogram gemik?
Die teikengehoor is dieetkundiges, voedingkundiges, verpleegkundiges, vroedvroue, dokters (pediaters, huisdokters, ginekoloë) en enige ander GSW wat in swangerskapsorg of met babas en jong kinders werk.
Wat behels die program?
Module 1 bestaan uit:
- Eenheid 1: Die belangrikheid van voeding in die eerste 1 000 dae van lewe
- Eenheid 2: Optimalisering van mikronutriëntvoeding gedurende swangerskap
- Eenheid 3: Optimalisering van mikronutriëntvoeding gedurende bors- en bykomende voeding
Module 2 bestaan uit:
- Eenheid 1: ʼn Bemagtigende, persoongesentreerde benadering om gedragsverandering te ondersteun
- Eenheid 2: Faktore wat gesondheid raak en verandering beïnvloed
- Eenheid 3: Beginsels van gedragsverandering
- Eenheid 4: Ondersteuning van gedragsverandering deur van die Gesonde Gesprekkevaardighede-benadering (GGV) gebruik te maak
Module 3 bestaan uit twee gestruktureerde, gefasiliteerde, virtuele praktiese sessies oor die inwerkingstelling van GGV.
Hoeveel kos die program en waar kan ek inskryf?
Die program sal tot Januarie 2023 gratis aangebied word. Die bestuurskomitee finaliseer nog stappe om die program volhoubaar aan te bied wanneer die projek ten einde loop en dan sal ʼn geringe bedrag moontlik betaalbaar wees. Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting.
Sal dit met GSW-opleiding op nasionale en provinsiale vlak geïntegreer word?
Integrasie in sulke programme word tans ondersoek. Daar word ook voorsien dat die ImpENSA-opleidingsprogram in die toekoms by bestaande programme en kwalifikasies van hoëronderwysinstellings ingesluit kan word.
Hoekom moet GSW's inskryf?
GSW's sal sleutelvaardighede bekom om versorgers, ma's en swanger vroue te ondersteun om in die eerste 1 000 dae aan hul kinders se mikronutriëntvereistes te voldoen. Nog ʼn aansporing is dat heelwat van die 30 Voortgesette Professionele Ontwikkelingspunte (VPO) wat deur die Gesondheidsberoeperaad van Suid-Afrika (GBRSA) vereis word, deur hierdie kursus verdien kan word.
Wat is Suid-Afrika se statistiek rakende die driedubbele las van wanvoeding?
- Die jongste data vir vroue van 15-49 het getoon 62% is oorgewig of vet, 33% is bloedarmoedig, 22% het ʼn tekort aan vitamien A en 20% het ʼn tekort aan jodium.
- Chroniese wanvoeding bring mee dat 27% van kinders jonger as vyf te kort vir hul ouderdom is, terwyl 13% oorgewig is, 32% anemies is en 35% ʼn tekort aan vitamien A het.
Meer oor die ImpENSA-projek:
Die oorhoofse doelwit van die ImpENSA-projek is om die verhouding tussen hoëronderwysinstellings en die breër ekonomiese en maatskaplike omgewing te versterk. Hulle hoop om dit te bewerkstellig deur die uitruil van voorpuntpraktyke wat sal uitloop op die gesamentlike skepping van ʼn nuwe opleidingskursus wat die voortgesette professionele ontwikkeling van Suid-Afrika se GSW's kan fasiliteer. Die ImpENSA-opleidingsprogram is die resultaat van hierdie werk. Die span beplan voorts om infrastruktuur in Suid-Afrika te vestig sodat die program doeltreffend en volhoubaar in werking gestel kan word. Die projek het in 2019 begin en sal in 2023 voltooi word. Dit behels samewerking tussen agt konsortiumlede wat deur die Ludwig Maximilian-universiteit bestuur en gekoördineer word, met ses universiteitsvennote (drie van Suid-Afrika en drie van Europa) en twee gesondheidswerkersorganisasies in Suid-Afrika:
- Ludwig Maximilian-universiteit
- Universiteit van Noordwes
- Universiteit Stellenbosch
- Universiteit van Kaapstad
- Southampton-universiteit, VK
- Mediese Universiteit van Warskou, Pole
- Vereniging van Dieetkunde in Suid-Afrika
- Suid-Afrikaanse Voedingvereniging
Volgens dr Shweta Feher van die LMU wil die EU vennootskappe met laer-en-middelinkomstelande soos Suid-Afrika vestig en word beleide en optrede gedefinieer vir ʼn hoë graad van samewerking op alle gebiede van internasionale betrekkinge. “Die EU se Erasmus+-program bied die geleentheid vir organisasies en hoëronderwysinstellings van vennootlande om samewerking te versterk deur aksies wat die kapasiteit van bestuur, beheer en innovasie bevorder om hul eie hoëronderwysstelsels te moderniseer en streeksintegrasie en -samewerking oor verskillende streke van die wêreld heen te bevorder."
Bykomende bronne
- Nasionale Departement van Gesondheid (NDvG), Statistiek Suid-Afrika (Stats SA), Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) en ICF. 2018. Suid-Afrikaanse Demografie- en Gesondheidsoorsig 2016 Sleutelbevindings. Pretoria, Suid-Afrika, en Rockville, Maryland, VSA: NDvG, Stats SA, SAMNR en ICF. Beskikbaar by: https://www.samrc.ac.za/sites/default/files/attachments/2019-01-29/SADHS2016KeyFindings.pdf
- Harika R, Faber M, Samuel F, Kimiywe J, Mulugeta A, Eilander A. Micronutrient Status and Dietary Intake of Iron, Vitamin A, Iodine, Folate and Zinc in Women of Reproductive Age and Pregnant Women in Ethiopia, Kenya, Nigeria and South Africa: A Systematic Review of Data from 2005 to 2015.