Skip to main content

Wetenskapkafee by Woordfees

Wiida Fourie-Basson
28 Februarie 2018

Ons staan aan die vooraand van die vierde industriële revolusie. Die moderne Westerse leefstyl lei tot 'n onrusbarende toename in leefstylsiektes soos kanker, diabetes, hartvatsiektes en hoë bloeddruk. Maar dalk kan nuwe revolusionêre tegnieke in die mediese wetenskappe ons in staat stel om “ontwerpersbabas" en 'n siektevrye toekoms te verseker? Met Dave Pepler as gespreksleier neem Science Café Stellenbosch by Woordfees 2018 die volgende 100 jaar onder oë.

Hou vas, hier kom die vierde industriële revolusie

Maandag 5 Maart, 18:30-19:30, Die Plataan

Vanaand praat ons rekenaars, kunsmatige intelligensie en of universiteite soos ons dit vandag ken, nog oor 'n honderd jaar gaan bestaan? Dave Pepler gesels met rekenaarwetenskaplike Willem Visser, 'n kenner van kunsmatige intelligensie Bruce Watson, en die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Eugene Cloete.

Suiker en stres: hier kom moles

Dinsdag 6 Maart, 18:30-19:30, Die Plataan

Wat is die verband tussen suikerinname, stres en die verhoogde voorkoms van kanker, hartsiektee, diabetes, osteoporose, artritis en neurodegeneratiewe siektes soos Alzheimer en Parkinson se siekte? Dave Pepler gesels met endokrinoloog Dr Graham Ellis (Synexus), en fisioloë Anna-Mart Engelbrecht, Resia Pretorius en Theo Nell, almal verbonde aan die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe.

Genetiese manipulering van menslike embrio's

Woensdag 7 Maart 2018, 18:30-19:30, Die Plataan

Nuwe genetiese tegnologieë stel ons nie net in staat om beter lewensvorme te skep nie, maar ook om menslike evolusie op embrionale vlak te manipuleer. Bied hierdie ongelooflike vooruitgang in die mediese wetenskappe nuwe hoop, of is ons besig om met die spreekwoordelike vuur te speel? Dave Pepler gesels met genetikus, Louise Warnich, en die bioëtiekkenner, Anton van Niekerk, oor dié kontroversiële onderwerp.

Lewenslesse uit Afrika

Donderdag 8 Maart 2018, 18:30 I US Botaniese Tuin

Ons maak tyd om die hede te waardeer. Dave Pepler reflekteer oor sy ervarings in die woude van Afrika en lig die sluier oor van die uitsonderlike plante in die US se Botaniese Tuin se versameling.

 Science Café Stellenbosch is 'n inisiatief van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe om openbare gesprekke oor die natuurwetenskappe aan te moedig in 'n taal wat almal kan verstaan. Toegang is gratis, maar kom vroegtydig om 'n goeie sitplek te verseker.

Vir meer inligting, kontak [email protected] of volg ons op Facebook