
Wêreldomgewingsdag: Ons het net een Aarde
Wêreldomgewingsdag is op Sondag 5 Junie gevier. In ʼn meningsartikel vir Daily Maverick, skryf Prof Oliver Ruppel van die Departement Handelsreg dat dit in ons beste belang is om die omgewing te beskerm omdat ons net een Aarde het.
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Stockholm+50: Verskeie helle, maar 'net een Aarde'
Oliver C Ruppel*
Wêreldomgewingsdag word elke jaar op 5 Junie gevier om te beklemtoon hoe belangrik die beskerming van die omgewing vir alle spesies en die planeet is. Interessant genoeg was die 2022-tema, “Net een aarde", ook die leuse van die Verenigde Nasies se konferensie oor die menslike omgewing in 1972 (ook bekend as die Stockholm-konferensie). Dit was die eerste konferensie waar die omgewing 'n belangrike kwessie was en die Stockholm Verklaring en Aksieplan vir die Menslike omgewing en verskeie resolusies is by dié geleentheid aanvaar.
Hierdie Verklaring, wat 26 beginsels bevat, het omgewingskwessies op die internasionale agenda geplaas en die weg voorberei vir samesprekings tussen ontwikkelde en ontwikkelende lande oor die betekenisvolle skakel tussen ekonomiese groei, lug-, water- en oseaanbesoedeling en die welstand van die globale bevolking. Dit het ook ooreengestem met die voormalige eerste minister van Swede, wyle Olof Palme, se verklaring in sy geskiedkundige toespraak by die Stockholm-konferensie: “Die lug wat ons inasem, behoort nie net aan een volk nie – ons deel dit. Die groot oseane word nie deur nasionale grense verdeel nie – hulle is ons gemeenskaplike eiendom." Ter viering van die herdenking van die 1972-konferensie en om 50 jaar van wêreldwye omgewingsoptrede te vier, het die Sweedse regering op 5 Junie 2022 'n internasionale byeenkoms, Stockholm+50, gehou.
Wanneer ons bestekopname doen oor die vordering wat die afgelope 50 jaar gemaak is, moet ons ook die talle huidige krisisse in gedagte hou: die oorlog in die Oekraïene, die Covid-19-pandemie, die multilaterale handelstelselkrisis, die voedselkrisis en die oorkoepelende klimaatskrisis. Hierdie potpourri kan met verskeie helle vergelyk word teenoor die feit dat daar net een aarde is.
Ten slotte …
Ondanks geringe vordering sedert die 1972 Stockholm-konferensie, het ons grootliks daarin misluk om ons omgewingsaksie vol te hou, en as gevolg daarvan bevind ons onsself in die middel van 'n klimaatskrisis wat besig is om buite beheer te raak. Die risiko van voedselonsekerheid is maar net een van die gevolge van hierdie klimaatskrisis.
Op die ou end is dit in ons beste belang om die omgewing te beskerm en terwyl ons verskeie helle op die oomblik mag beleef, is die naasbeste moontlike verenigende aksie waarskynlik om te erken dat ons net een Aarde het om die volgende 50 jaar en langer mee aan te durf.
- Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.
Foto krediet: Kevin Gill by Wikimedia Commons.
*Prof Oliver C Ruppel is 'n regsprofessor en direkteur van die Development and Rule of Law Programme (DROP) by die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch. Hy dien ook as direkteur van die Navorsingsentrum vir Klimaatsreg (Clim:Law Graz) aan die Universiteit van Graz in Oostenryk. Hy spesialiseer in internasionale omgewingsreg, wêreldhandelsreg, volhoubare-ontwikkelingsreg en klimaatsreg.