Skip to main content
Voormalige WVK-kommissaris vra vir dringende restitusie

Voormalige WVK-kommissaris vra vir dringende restitusie

Daniel Bugan
28 Februarie 2022

​Yasmin Sooka, 'n Suid-Afrikaanse menseregteprokureur wat as 'n kommissaris in die land se Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) gedien het, het Vrydag, 18 Februarie 2022 die Universiteit Stellenbosch (US) se derde jaarlikse lesing oor maatskaplike geregtigheid gelewer.

Vanjaar se tema was “Herstellende geregtigheid en restitusie: die onafgehandelde sake van die WVK". Die Regstrustleerstoel in maatskaplike geregtigheid in die Fakulteit Regsgeleerdheid bied elke jaar dié lesing aan om die internasionale dag vir maatskaplike geregtigheid op 20 Februarie te gedenk. Die dag is deur die Verenigde Nasies (VN) ingestel as 'n wêreldwye dag om maatskaplike geregtigheid in die kollig te plaas en om die wêreld te mobiliseer om armoede en ongelykheid vinniger uit te roei.

Sooka is tans die voorsitter van die Suid-Soedannese menseregtekommissie, wat deur die Verenigde Nasies (VN) se menseregteraad in Genève ingestel is om ernstige misdade in Suid-Soedan te ondersoek en bewyse te versamel om persone in die toekoms tot verantwoording te roep. Sy was ook een van drie internasionale kommissarisse in Sierra Leone se waarheid-en-versoeningskommissie wat deur Mary Robinson, die VN se destydse hoë kommissaris vir menseregte, aangestel is. Daarbenewens het sy in 2011 deel uitgemaak van die deskundige paneel wat die destydse VN-sekretaris-generaal Ban Ki Moon oor aanspreeklikheid vir oorlogsmisdade in Sri Lanka geadviseer het.

Die Dekaan van die US se Regsfakulteit, prof Nicola Smit, het by die hibridiese geleentheid, wat in persoon by STIAS en aanlyn gehou is, gesê die lesing oor maatskaplike geregtigheid is deel van die Universiteit se verbintenis daartoe om die voortou te neem in die bevordering van maatskaplike geregtigheid, wat die regstelling van die ongeregtigheide van die verlede insluit. Sy het die US se verklaring van restitusie in hierdie verband voorgelees.

WVK het suksesse én tekortkominge gehad

Sooka het spesifiek gesê die WVK se opdrag en werk was in herstellende geregtigheid gesetel, met 'n etos wat swaar op herstel en versoening gesteun het, in teenstelling met die Westerse paradigma van vergeldende geregtigheid. Sy het haar soos volg hieroor uitgelaat:

“Daar is gedurende die onderhandelings 'n aantal kompromieë aangegaan op grond daarvan dat dit nodig was vir 'n vreedsame oorgang na demokrasie en 'n benadering van herstellende geregtigheid is gevolg. Dit het onder meer 'n regering van nasionale eenheid, dat daar geen nasionalisering van grond sou wees nie en 'n amnestie-ooreenkoms vir diegene wat verantwoordelik was vir apartheidsmisdade ingesluit. Dit moet in gedagte gehou word dat net soos in Latyns-Amerika, die Suid-Afrikaanse oorgang onderhandel is, eerder as 'n omverwerping van die vorige regime. Die amnestie is as 'n noodsaaklike kompromie geregverdig om vrede en versoening te verseker en was 'n breë amnestie wat ernstige menseregteskendings gedek het.  

“Die Suid-Afrikaanse amnestie het egter van ander amnestieprosesse verskil aangesien dit intrinsiek aan die waarheidsonthullingsproses gekoppel was en met maatreëls om te erken gepaard gegaan het. Die instelling van die Suid-Afrikaanse Waarheids-en-Versoeningskommissie het die idee van 'n benadering van herstellende geregtigheid vasgelê, maar staan dikwels in kontras met vergeldende geregtigheid. Herstellende geregtigheid suggereer dat in plaas daarvan om misdaad as 'n verbreking van die wet met die staat wat die slagoffer is te sien, sien herstellende geregtigheid eerder misdaad as 'n 'verbreking van mense en verhoudings'. Hierdie klem op versoening eerder as op vergelding stem meer ooreen met inheemse Afrika-konsepte van geregtigheid wat soos volg lui: 'Vergeldingsgeregtigheid is grotendeels 'n Westerse konsep. 'n Afrika-begrip is baie meer herstellend – nie soseer om te straf nie, maar eerder om 'n balans wat versteur is, te herskep of te herstel'."

Sooka het gesê die WVK het 'n aantal suksesse behaal. Dít sluit in die identifisering van institusionele gebreke in staatsliggame soos die land se polisie- en weermag en die ontwikkeling van 'n holistiese en omvattende beleid oor herstel en institusionele hervorming. Nietemin was daar ook tekortkominge. Deel daarvan was dat hoewel die kommissie 'n beleid oor herstel voorsien het, die regering dit moes implementeer, het sy verduidelik. “Die demokratiese regering het ook geredeneer dat elke swart Suid-Afrikaner, as 'n slagoffer, uit staatsprogramme vir ontwikkeling sou voordeel trek, wat ongelukkig nie gebeur het nie." Die proses van herstel vir slagoffers is vertraag, en die kommissie se aanbevelings oor vervolging en institusionele hervorming is nie uitgevoer nie, het Sooka gesê.

Volgens Sooka was verdere tekortkominge in die kommissie se benadering die onderskeid tussen blootlegging van die waarheid en volle bekendmaking, sowel as die WVK se eng vertolking van sy mandaat. “Daar is 'n groot verskil tussen die waarheid praat oor alles waarby 'n mens betrokke was, en volle bekendmaking. En hoewel die WVK se mandaat hoofsaaklik op siviele en politieke oortredings gekonsentreer het, het die wette en strukturele beleide van apartheid ongetwyfeld veel verder as dít gestrek. So, omdat die impak daarvan nie ondersoek is nie, het die begunstigdes aanspreeklikheid ontkom."

Sy reken die kommissie moes sterker klem op rasgegronde grondonteiening geplaas het, swart Suid-Afrikaners se uitsluiting van die ekonomie, en minderwaardige onderwys. Gevolglik is geleenthede misgeloop vir grondrestitusie, die vervolging van diegene wat nie om amnestie aansoek gedoen het nie, die behoorlike implementering van herstel, en die versekering dat swart Suid-Afrikaners toegang tot die ekonomie verkry. Daarom voel baie mense vandag verraai en dat volle transformerende geregtigheid nie verkry is nie, het Sooka gesê.

Sooka het ook saamgestem dat restitusie 'n groot swakheid is. Sy het na twee belangrike uitdagings verwys wat die WVK hiermee ondervind het. Die eerste was dat die WVK gevoel het aansienlike vergoeding aan slagoffers van apartheid die land bankrot sou maak – 'n siening wat later deur die howe bevestig is. Nog 'n groot tekortkoming was dat die WVK se opdrag skade en restitusie tot gewelddadige optrede deur die apartheidsregering se veiligheidsmagte beperk het. Dit het nie grond en ekonomiese en maatskaplike onderdrukking ingesluit nie. Sy sê 'n poging om dit deur tematiese openbare verhore te hanteer het nie 'n groot uitwerking gehad nie. Sy het voorts gesê grond- en ander sosio-ekonomiese kompensasie is steeds uitstaande sake van restitusie wat die kern van onherstelde skeidings van die verlede en merkers van onstabiliteit, soos die onrus in Julie 2021, is. Sy het die volgende opgemerk:

“Ons het binne die WVK beraadslaag oor die hantering van die skendings wat uit die apartheidsbeleide voortgevloei het, insluitende die grondkwessie, aangesien die onteiening van grond wat aan swart mense behoort het, teen 1913 plaasgevind het. Die debat het ook oor vervolging, ekonomiese uitsluiting, onderwys en werk wat gereserveer is op grond van ras en kleur en wat toestande van slawerny geskep het, asook die ontneming van swart mense se burgerskapregte in hul eie land. Ons het verskeie voorleggings van menseregtegroepe van regoor die land ontvang waarin ons versoek is om verhore oor grond, onderwysbeleide gedurende apartheid, ekonomiese uitsluiting en die reservering van werk, om maar net 'n paar te noem, te hou. Die eng fokus op 'siviele en politieke misdade' het nie in ag geneem nie dat diegene wat in opstand teen die staat gekom het, aangehou, gemartel en doodgemaak is, dit gedoen het omdat hulle teen die onregverdige rassistiese stelsel en diskriminerende wette van die kriminele apartheidstaat gekant was. Hierdie debat het verlore gegaan in die kommissie."

Sooka het ten slotte 'n oproep gedoen om hande te vat om die nalatenskap van die verlede se rasse-oorheersing en onteiening reg te stel sonder om te blameer.

“Hoewel dit nie 'n verskoning vir ons ernstige plofbare situasie is nie, is Suid-Afrika 'n spieëlbeeld van die meeste wêreldekonomieë wat misluk het om toestande te verskaf waarin landsburgers kan floreer. 'n Studie deur die Wêreld Ekonomiese Forum oor maatskaplike mobiliteit in 2020 het daarop gewys dat ''n individu se geleenthede in hul lewe bly vasgemaak aan hul sosio-ekonomiese status by geboorte wat historiese ongelykhede verskans'. Dit is nie net vir die individu 'n uitdaging nie, maar ook vir die samelewing en die ekonomie. Dit is 'n sistemiese kwessie. Menslike kapitaal is die dryfkrag vir ekonomiese groei en enigiets wat die beste toekenning van talent ondermyn en die versameling van menslike kapitaal belemmer, strem groei aansienlik. Swak maatskaplike mobiliteit saam met ongelyke geleenthede ondersteun hierdie wrywing, wat daarop dui dat indien die vlak van maatskaplike mobiliteit verhoog word, dit as 'n hefboom vir ekonomiese groei kan dien.

“Die Globale Maatskaplike Mobiliteitsindeks kyk na wat 'n land holisties kan doen om relatiewe maatskaplike mobiliteit vir alle burgers te bevorder. Dit verskil duidelik van ander metodologieë. Die indeks fokus op aandrywers vir relatiewe maatskaplike mobiliteit soos beleide, praktyke en instellings, eerder as op uitkomste. Dit stel die indeks in staat om doeltreffende vergelykings regoor streke en generasies te tref. Dit gebruik tien pilare, wat weer in vyf bepalers van maatskaplike mobiliteit afgebreek word – gesondheid, opvoeding, toegang tot tegnologie, werksgeleenthede, werkstoestande en regverdige lone en maatskaplike beskerming en inklusiewe instellings. Dit is nie verbasend dat Denemarke met 'n telling van 85,2 die land met die beste toestande vir maatskaplike mobiliteit is nie.

“Suid-Afrika is 77ste op die ranglys – daar is geen twyfel daaraan dat die maatskaplike en ekonomiese gevolge van rasse-ongelykhede en armoede baie diepgaande en verreikend is nie: 'n toenemende gevoel van onregverdigheid, onbestendigheid, waarneembare verlies aan identiteit en waardigheid, verswakkende maatskaplike struktuur, afname in vertroue in instellings, ontevredenheid met politieke prosesse en 'n erosie van die maatskaplike verbintenis."

Sooka het ter afsluiting gesê ons moet almal 'n doelbewuste poging aanwend om “nuwe bane vir maatskaplike geregtigheid skep wat verseker dat elkeen 'n regmatige en regverdige geleentheid tot sukses het".

“As begunstigdes van apartheid en die oorgang, sal die volgende geslag vra waarom ons versuim het om ons deel te doen om 'n regverdige oorgang in ons land te verseker."

Herstellende geregtigheid almal se verantwoordelikheid

Prof Smit het gesê die onderwerp van herstellende geregtigheid en restitusie bly uiters belangrik wêreldwyd, en veral in Suid-Afrika. “Trouens, ons universiteit het in 'n restitusieverklaring sy onlosmaaklike verbintenis tot vorige, huidige en toekomstige geslagte erken, sowel as sy bydrae tot die onreg van die verlede," het sy gesê. “Hieroor het ons diepe berou, en ons vra die gemeenskappe en individue wat uitgesluit is van die historiese voorregte wat die US geniet het, sonder enige voorbehoud om verskoning. Ons eer ook die kritiese Matiestemme van daardie tyd wat geweier het om stil te bly. Die US is onvoorwaardelik verbind tot die ideaal van 'n inklusiewe universiteit van wêreldgehalte in en vir Afrika."

Ter afsluiting van die dag se verrigtinge het prof Thuli Madonsela, bekleër van die Regstrustleerstoel in sosiale geregtigheid, gesê: “Wat Yasmin se opmerkings bevestig, is dat ons bootjie in onstuimige waters is. Dit maak nie saak wie se fout dit is nie. Maar as ons wil hê dit moet sy bestemming bereik – 'n Suid-Afrika met demokratiese waardes, sosiale geregtigheid en fundamentele menseregte, waar elkeen 'n beter lewe lei en hulle potensiaal kan bereik – moet ons almal bereid wees om daarvoor te werk. Ons almal moet daarin belê om Suid-Afrika te red."

  • Tree met Diane Gahiza by [email protected] in verbinding vir meer inligting. 'n Afskrif van die volledige toespraak is beskikbaar.