Skip to main content
Vertaaldosent se werk geniet internasionale erkenning

Vertaaldosent se werk geniet internasionale erkenning

Departement Afrikaans en Nederlands
07 Junie 2022

Marius Swart se werk, veral sy Engelse vertaling van Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper, is onlangs deur die International Federation of Translators (FIT) geloof. Hoewel hy nie die internasionale Marion Boers-prys gewen het nie, het hy 'n eervolle vermelding vir The snow sleeper ontvang.

Die prys is tydens FIT se 22ste wêreldkongres in Varadero (Kuba) oorhandig. Prof Ilse Feinauer, wat 'n hoofrede by die kongres gelewer het, het die toekenning namens Swart ontvang. In die commendatio beskryf die jurie Swart as “onteenseglik een van die voorste literêre vertalers wat hoofsaaklik tussen Afrikaans en Engels werk". Hulle gee ook erkenning aan sy werk as dosent, tolk, vertaler en navorser wat deur sy aandag aan die wisselwerking tussen teorie en praktyk werk lewer wat deur wetenskaplike denke gerig word maar getuig van kreatiwiteit en kunstigheid.

Oor die erkenning wat sy vertaalvernuf geniet, sê Swart dat hy sonder die Departement Afrikaans en Nederlands “nooit sou geweet het vertaling is iets wat mens kan doen nie" en beskryf dit as “gepas en poëties" dat die dosent (nou kollega) wat hom eerste aan vertaling blootgestel het, namens hom die toekenning ontvang het.

Die Marion Boers-prys vir die vertaling van skryfwerk (fiksie en nie-fiksie) deur outeurs uit een van die 16 SAOG-lidlande is daarop gemik om uitnemendheid in vertaling te erken en te beloon. Kandidate moet deur 'n FIT-lid genomineer word en hoewel die outeur van die oorspronklike werk 'n burger van 'n SAOG-lidland moet wees, kan die vertaler wat benoem word enige nasionaliteit hê.

Die prys is in 2020 ingestel ter nagedagtenis aan Marion Boers en dit word in 2022 vir die eerste maal toegeken. Boers was van 2008 tot 2014 vir twee opeenvolgende termyne FIT-president en was vir meer as twee dekades die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI). Sy is in Oktober 2018 oorlede.