
US blink uit op TIME 100-lys vir 2022
In 'n historiese prestasie verskyn nie een nie, maar twee wetenskaplikes verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) – prof Tulio de Oliveira en dr Sikhulile Moyo – op vanjaar se TIME 100-lys van die invloedrykste mense ter wêreld.
Dié jaarlikse lys bestaan uit individue wat die belangrikste bydraes tot ons wêreld gelewer het volgens die tydskrif TIME se internasionale netwerk redakteurs, denkleiers en vorige ontvangers van hierdie prestigeryke eerbewys.
De Oliveira is 'n professor in Bioinformatika in die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en in die fakulteite Natuurwetenskappe sowel as Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Moyo is op sy beurt 'n US-alumnus wat in 2016 sy PhD in Geneeskundige Virologie aan die Universiteit verwerf het. Hy dien tans as laboratoriumdirekteur van die Botswana Harvard Vigsinstituutvennootskap (BHP).
Die twee wetenskaplikes word vir hulle werk op die gebied van genomika en epidemiologie erken. Hulle was in November 2021 die leiers van die multidissiplinêre span wat die Omicron-variant van SARS-CoV-2 ontdek het, wat daarna vinnig die dominante Covid-variant wêreldwyd geword het.
Suid-Afrikaners sal die gebeure met 'n tikkie ergernis onthou. Die ontdekking van die variant, wat aanvanklik die “Suid-Afrikaanse variant" genoem is, het tot stigma, reisverbiedinge en heelwat openbare vyandigheid jeens De Oliveira en sy span gelei. Nietemin het dit gou duidelik geword dat hoewel die variant in Suid-Afrika ontdek is, dit nie hier ontstaan het nie, en dat die veiligheidsmaatreëls meer bestraffend as voorkomend was. Dít, sê De Oliveira, was 'n belangrike les wat sedertdien 'n aansienlike invloed op die wêreld se reaksie op die pandemie gehad het.
Ander nuusopskrifte het dit die “Botswana-virus" genoem, of die “Suider-Afrikaanse variant" wat deur laboratoriums in Botswana en Suid-Afrika opgespoor is. “Dit was soos 'n wipwarit van emosies om te aanskou hoe die wêreld met reisverbiedinge vir Suider-Afrikaanse lande reageer," sê Moyo.
Tog het die groep Afrikawetenskaplikes hulle nie deur die negatiwiteit van stryk laat bring nie, maar as 'n span saamgestaan en die afgelope twee jaar meer as 100 000 genome geskep.
“Hierdie erkenning deur die tydskrif TIME bewys dat Afrika se voorpuntnavorsing 'n wêreldwye impak het, en vestig prof De Oliveira en dr Moyo verder as internasionale leiers op hulle gebied," sê prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier. “Hulle navorsing en daaropvolgende ontdekkings het regerings wêreldwyd in staat gestel om wetenskaplik ingeligte besluite oor Covid-19 en die Omicron-variant te neem, en hulle insluiting by TIME se lys is 'n welverdiende beloning vir hulle harde werk en kundigheid. Die US is ongelooflik trots op hulle prestasie en sal voortgaan om baanbrekernavorsing met 'n werklike impak te bevorder."
Navorsingswerk en eerbewyse
De Oliveira is die stigtersdirekteur van die Universiteit se nuwe Sentrum vir Epidemiereaksie en -innovasie (SERI), waarvoor hy reeds meer as R300 miljoen in finansiering bekom het. SERI is gebaseer in die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en werk vanuit beide die wêreldklas Biomediese Navorsingsinstituut by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op die US se Tygerbergkampus en vanuit kantore op die Stellenboschkampus. Hy het al etlike toekennings en eerbewyse ontvang. Dít sluit in die goue medalje van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, die Suid-Afrikaanse gesondheidsminister se spesiale Covid-19-toekenning by die sewende nasionale Batho Pele-uitnemendheidstoekennings in Maart 2022, en insluiting by die Massachusetts Instituut vir Tegnologie se prestigeryke Technological Review-lys van die voorste tien tegnologiese deurbrake van 2022.
Moyo is, benewens sy pos by BHP, ook 'n navorsingsgenoot van die Harvard T.H. Chan Skool vir Publieke Gesondheid, en deeltydse senior dosent aan die Universiteit van Botswana. Hy dien sedert die uitbreking van die pandemie in Botswana se presidensiële Covid-19-taakgroep en gaan voort om tot daardie land se nasionale reaksie by te dra. Boonop is hierdie baanbreker op die gebied van MIV-navorsing 'n voormalige medevoorsitter van die komitee vir laboratoriumtegnoloë van die internasionale groep vir kliniese vigsproewe (ACTG) en die internasionale netwerk vir kliniese vigsproewe onder ma's, babas en adolessente (IMPAACT).
Een van sy grootste bydraes tot dusver was op die navorsingsterrein van moeder-tot-kind-oordrag van MIV. Sy werk het 'n beduidende impak gehad op die voorkoming van MIV-oordrag, die verbetering van geboorte-uitkomste, MIV-voorkoms, -diversiteit en-middelweerstandigheid, en verskeie patogeengenomikaprojekte met betrekking tot hepatitis, die norovirus, sapovirus, menspapilloomvirus sowel as tuberkulose. Hy is ook 'n lid van die beheerkomitee van die PANGEA-MIV-netwerk, wat die dinamiek van die MIV-epidemie ontleed en die bevindinge omskep in inligting wat gebruik kan word om doeltreffender intervensies te beplan.
Samewerking
Albei navorsers is passievol daaroor om die stryd teen epidemies uit 'n Afrika-oogpunt te lei, en beklemtoon die belang van plaaslike en internasionale samewerking om die huidige Covid-pandemie te bestry.
“Die enigste manier om sukses te behaal is deur saam te werk en voortdurend idees uit te ruil. Sukses in die wetenskap kom deur ware samewerking," sê Moyo. “Om met toonaangewende Stellenbosch-wetenskaplikes soos prof De Oliveira en die Netwerk vir Genoomwaarneming in Suid-Afrika saam te werk is vir my besonder vervullend en stel my bloot aan soveel fantastiese, deursigtige wetenskap en vermoëbou."
“Afgesien van geduld, is die geheim tot die sukses van enige navorsingsnetwerk om 'n groepsidentiteit te skep, met 'n gemeenskaplike doelwit en 'n algemene belang," sê De Oliveira. “Wat ons gedurende die pandemie in Suid-Afrika gedoen het, was om honderde navorsers daaraan te herinner dat ons wetenskaplik besonder goed toegerus is om te reageer, want ons het reeds die fasiliteite – die meeste daarvan is opgerig om MIV en TB die stryd aan te sê – en ons het hope ervaring in die hantering van infeksievirusse en respiratoriese patogene. En ons het ook 'n regering wat bereid is om ons wetenskaplike advies te volg."
Hierdie verstandige strategie het De Oliveira en sy span aan die voorpunt geplaas van die internasionale wetenskaplike gemeenskap se navorsing, beplanning en flink reaksie op SARS-CoV-2. Dit het die US ook as een van die kernrolspelers in die wêreldwye stryd teen die pandemie gevestig. De Oliveira is in gereelde kontak met president Cyril Ramaphosa, wat gedurende die pandemie die Universiteit se nuwe laboratorium besoek het, sowel as met die direkteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie en die hoofde van die sentrums vir siektebeheer en -voorkoming vir die Verenigde State sowel as Afrika en Europa.
“Dat die US twee van TIME se invloedrykste persone ter wêreld opgelewer het, bewys dat die Universiteit en ons groep ten diepste verbind is tot die waarheid, tot wetenskaplike navorsing van uiters hoë gehalte in Suid-Afrika en op die vasteland, en veral ook tot die ontwikkeling van die toekomstige leiers van Afrika," sê hy.
Om Afrika se volgende geslag wetenskaplikes te help toerus, het De Oliveira en sy span se voortreflike werk die US 'n aansienlike toekenning van die Rockefellerstigting besorg om 100 Afrikagenote in te neem, van wie die instelling reeds 51 uit 24 verskillende Afrikalande verwelkom het. De Oliveira het ook in Mei 2022 'n voorlegging by die Nobelsimposium oor geneeskunde in Swede gelewer, en sal as hoofspreker optree by die Nobelsimposium in Afrika, wat die US sal aanbied – die eerste wat buite Swede gehou word. “In 'n land soos Suid-Afrika, waar mense gewoonlik heel vinnig uitwys hoe baie hulle verskil, is dit ook belangrik om te onderstreep wat ons kan bereik as ons saamwerk tot voordeel van die algemene samelewing," sluit De Oliveira af.