Skip to main content
Tuiskoms-naweek in volle swang

Tuiskoms-naweek in volle swang

Development & Alumni Relations/Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge
05 Maart 2016

​"Hulle sê eenmaal ʼn Matie, altyd ʼn Matie – of hoe? Dis beslis vir my die geval. Dis hier waar ek die grondslag gekry het wat vir my deure in my loopbaan oopgemaak het." Dit was die woorde van prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) tydens die bekendstelling van die Universiteit se eerste Tuiskoms-naweek vir alumni."Die beste universiteite in die wêreld het almal sterk alumni netwerke. Hulle wek sterk lojaliteit van diegene wat daar studeer - meestal tydens die kritieke, vormingsjare van vroeë volwassenheid en die Universiteit Stellenbosch is beslis geen uitsondering," het Prof De Villiers gesê. Hy het ook gepraat oor waarom hy ʼn trotse Matie is en waarom hy so lief is vir Maties - die plek self, die mense, en die mense se dinge (of te wel, die Universiteit se impak). "Victoria straat, Die Laan, Coetzenburg, die Rooiplein, die Neelsie, die ou geboue, die koshuise, en die Botaniese Tuin is almal sinoniem met Stellenbosch. Die mense wat hier werk is van die slimste, en hardwerkendste personeel. Diegene wat hier studeer is passievolle jong denkleiers en die byna 250 000 gegradueerdes deur die jare, speel 'n belangrike rol in die samelewing. En wat hier gedoen word, gee dikwels die toon aan – nasionaal en internasionaal," het hy bygevoeg. "Ek voel geseënd dat ek weer terug is by my alma mater en toevertrou is met die verantwoordelikheid om Maties in sy volgende eeu in te lei. En met alumni soos julle voel ek gerus dat die bande van die Matiefamilie sterk is. Welkom tuis. Voel tuis. Bly ʼn ruk, en kom kuier weer."Die Tuiskoms-naweek kom op Sondag, 6 Maart tot 'n einde maar intussen is daar nog 'n verskeidenheid van fakulteit- en koshuis-spesifieke netwerk, sosiale aktiwiteite en kulturele geleenthede om na uit te sien. Een van die naweek se hoogtepunte is 'n diskoers-kafee gefasiliteer deur US-alumnus prof Pierre de Vos. Koshuis-spesifieke aktiwiteite sluit in Heemstede se 50ste reünie; asook 'n Legacy-fees met Metanoia by De Vette Mossel.En moenie van die afslag Woordfees produksies vergeet nie. Op Sondag, 6 Maart kan jy na die Woordfees Pops-konsert gaan waar jy skouers kan skuur met die room van ons land se musieksterre soos Laurika Rauch, Elvis Blue, Gloria Bosman, Brandon October, Andriëtte Norman, Peter Maartens en Joshua na die Reën. Vir begeleide toere van die Stellenbosch-kampus, besoek gerus ons Tuiskoms-verwelkomingsarea om reëlings te tref.