
Taalafwykings - US tree op in belang van studente
Die Voorsitter van die Raad van die Universiteit Stellenbosch, mnr George Steyn, het hierdie week gereageer op medianavrae rondom taalimplementering. Ter wille van deursigtigheid word die respons hier deurgegee. Die verslag van regter CT Howie, wat as kommissaris aangestel is om die onlangse proses insake taalimplementering te ondersoek, word ook hieronder deurgegee.
Die Taalbeleid en die implementering van taalspesifikasies by die Universiteit Stellenbosch (US) is sedert die einde van 2015 in die kollig. Dit het ook aanleiding gegee tot die buitengewone Raadsvergadering op 20 Februarie 2016.
By hierdie vergadering het die Raad sy Uitvoerende Komitee versoek om ʼn onafhanklike persoon aan te stel om die onlangse proses insake taalimplementering te ondersoek, en om verder ʼn bevinding te maak oor hoe afwykings ontstaan het, en aanbevelings te maak oor hoe om dit in die toekoms te hanteer. Regter C T Howie, afgetrede Regter-President van die Appèlhof is as kommissaris aangestel, en hy het op 14 April 2016 sy verslag by die Voorsitter van die Raad ingedien.
By Maandag se vergadering is ʼn mosie aanvaar waarin die Raad "met erns kennis geneem het van regter Howie se verslag oor die onlangse proses van taalimplemenering. Die Raad het die bevindinge en aanbevelings van die verslag aanvaar, en besluit om die volledige verslag in die publieke domein te plaas' – vandaar die publisering daarvan op die US se webwerf.
Regter Howie se gevolgtrekking was soos volg (soos wat hy dit self in Engels geformuleer het):
"Had the Faculties, the RMT and Council not taken the anti-exclusionary decisions and action they did the University would, on grounds explained in Counsel's opinion, have been vulnerable to constitutional challenge by students not proficient in Afrikaans. It is no small irony that having taken those steps, it felt vulnerable to the court challenges mounted by Afrikaans students, but this only serves to highlight the wisdom of having instituted the current review process aimed at amendment of the Policy and Plan. On the strength of the interviews and the documentation made available to me, I am of the opinion that all concerned were motivated to maintain and preserve the function, reputation and welfare of the University without infringing any students' constitutional rights."
Op 4 Maart het AfriForum Jeug en vyf ander ʼn aansoek teen die Universiteit en tien ander respondente gebring vir ʼn bevel wat die Universiteit verplig om onmiddellik (with immediate effect) die goedgekeurde Taalbeleid en Taalplan van 2014, asook die taalspesifikasies per module soos in die fakulteitsjaarboeke vir 2016 uiteengesit, te implementeer. Die Universiteit het op grond van regsadvies besluit om gehoor te gee aan die hofbevel, met die voorbehoud dat die implementeringsdatum uitgestel word tot 29 Maart 2016. Die twee partye het op 11 Maart ooreengekom om die bevel in hierdie verband te aanvaar.
By die buitengewone vergadering in Februarie het die Raad ook ʼn mosie aanvaar wat voorsiening maak vir "ʼn interim-maatreël om die taalspesifikasies vir akademiese modules met soepelheid toe te pas, met nakoming van die volgende beginsels: dat tale op so ʼn manier gebruik word dat geen student van ʼn lesing uitgesluit word nie, en dat die gebruik van Afrikaans in lesings verseker, bevorder en aangemoedig sal word". Die Universiteit het op grond van regsadvies hierdie mosie by Maandag se Raadsvergadering herroep. Die Taalbeleid van 2014, asook die taalspesifikasies vir 2016, sal van krag bly totdat die huidige Taalbeleid hersien is, en aangepas of vervang word.
Hersiening van die Taalbeleid
Dit het in die loop van 2015 duidelik geword dat sommige studente die implementering van taal as uitsluitend ervaar. Die Universiteit het ʼn proses vir die hersiening van die Taalbeleid geïnisieer en vir hierdie doel ʼn Taalhersieningsgroep aangestel. ʼn Eerste konsep van ʼn hersiene taalbeleid is op die Universiteit se webblad gepubliseer, en belangegroepe en ander belangstellende partye is genooi om hul voorstelle en insette teen 22 April 2016 te lewer. ʼn Tweede konsep is voltooi en na fakulteite versprei vir bespreking by fakulteitsraadsvergaderings.
Gevolglik het AfriForum Jeug ʼn dringende Hooggeregshofaansoek gebring om die Universiteit te verhinder om met die taalhersieningsproses voort te gaan. Die Uitvoerende Komitee van die Raad het eenparig besluit dat die Universiteit hierdie aansoek sal teenstaan. Die aansoek was oorspronklik vir 15 April geskeduleer, maar die partye het ooreengekom dat die saak op 19 Mei 2016 aangehoor sal word.
Die Universiteitsraad bepaal die Taalbeleid met die instemming van die Senaat. Die konsep-Taalbeleid sal by die Senaatsvergadering van 3 Junie 2016 dien en daarna op 22 Junie by die Raadsvergadering ter tafel gelê word. By Maandag se Raadsvergadering is ʼn mosie om die taalhersieningsproses op te skort, verslaan. Die Raad het eenparig ʼn mosie aanvaar om ʼn "buitengewone Raadsvergadering byeen te roep om insette van die Raad te kry om beginsels ten opsigte van die voorgestelde nuwe Taalbeleid te formuleer, en dat die uitkoms van daardie spesiale vergadering aan die werkgroep wat die Taalbeleid hersien, voorgehou sal word om in die konsep-taalbeleid te inkorporeer wat by die Senaat sal dien".