Skip to main content
Pandemie se impak op vrouewetenskaplikes

Pandemie se impak op vrouewetenskaplikes

Linda Zuze
11 Februarie 2022

Vrydag (11 Februarie) is die Internasionale Dag vir Vroue en Meisies in die Wetenskap. In ʼn meningsartikel vir News24 skryf dr Linda Zuze (IDinsight Suider-Afrika / Navorsingsgroep oor Sosio-ekonomiese Beleid – ReSEP)  oor die impak van die pandemie op vrouewetenskaplikes.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

Linda Zuze*

Jy hoef nie baie ver te soek om 'n vrou te vind wat die aanvoorwerk doen om die uitwerking van die koronavirus teen te werk nie. Minder as een-derde van die Verenigde State se werksmag in STEM-vakgebiede (Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde) is vroue, maar ondanks hiervan en ander goedgedokumenteerde ongelykhede in die wetenskaplike gemeenskap, was vroue aan die hoof van herstelpogings. Wetenskaplikes soos Biontec se Özlem Türeci en die Nasionale Instituut van Gesondheid se Kizzmekia Corbett staan aan die voorpunt van entstofontwikkeling. En vroue se bydrae strek baie verder as openbare gesondheid.

Vroueleiers het gedurende die krisis bewys dat hulle uitstekende verhoudingbouers is wat empatie toon en die welstand van die kwesbaarstes eerste stel. Die eersteminister van Nieu-Seeland, Jacinda Ardern, het die wêreld beïndruk met haar vermoë om moeilike besluite te neem en terselfdertyd ook deernis te toon. Wat ons sover van genderongelykhede in die STEM-werkruimte gedurende die krisis weet, herinner ons waarom ons leiers nodig het wat billikheid in gedagte hou terwyl hulle globale herstel rig. Dit is ook iets wat ons in gedagte moet hou wanneer ons op 11 Februarie die jaarlikse Internasionale Dag vir Vroue en Meisies in die Wetenskap vier.

Vroue in STEM-beroepe het regdeur die pandemie die wind van voor gehad. Vrouewetenskaplikes moes nog altyd 'n balans tussen die voortsetting van hul loopbane en moederskap probeer handhaaf, maar die pandemie het dit nog moeiliker vir hulle gemaak om hul werk en persoonlike lewe te balanseer. Grendeltye het ondersteuningstelsels wat baie vroue met moeite opgebou het, afgesny. Namate skole en sakeondernemings leeggeloop en hospitale oorvol begin word het, moes vroue baie van die versorgingsverantwoordelikhede op hulle neem, wat hoogsbekwame vroue uit die werksmag gedwing het.

Ten slotte …

In haar toespraak by die 2018 Women in Leaders Global Health-konferensie, het die hoofwetenskaplike van die Wêreldgesondheidsorganisasie, dr Soumya Swaminathan, opgemerk dat wanneer vroue die geleentheid kry om deel te wees van besluitneming, is die resultate dikwels beter en meer inklusief omdat hulle 'n unieke perspektief na die tafel bring. Vier jaar en een wêreldwye pandemie later is dit steeds waar. Dit is selfs dalk nou nog belangriker aangesien die pandemie 'n groter invloed op vrouewetenskaplikes gehad het. Herstel vir vroue in die STEM-vakgebiede sal beter wees wanneer billikheid die kern, eerder as 'n nagedagte, van besluitneming is.

  • Klik hier om die volledige artikel soos geplaas te lees

*Dr Linda Zuze is die direkteur van IDinsight Suider-Afrika, asook 'n navorsingsgenoot by ReSEP (Navorsingsgroep oor Sosio-ekonomiese beleid) aan die Universiteit Stellenbosch.