Skip to main content

Noord-Kapenaars is die land se beste spellers in Afrikaans

Frieda le Roux
25 Oktober 2017

Die Noord-Kaap is vanjaar die provinsie met die beste spellers. Tien van die dertig pryswenners in die Sanlam WOW Spelkompetisie se eindronde vir Afrikaans Huistaal kom uit dié provinsie.

Die Wes-Kaap is tweede met agt wenners en Gauteng spog met vyf.

In die eindronde het tussen 28 en 36 leerders per graad hul spelvermoë kom toets. Al nege provinsies is deur die graad 1 tot 10 deelnemers verteenwoordig.

Dit was ook die eindronde van die spelkompetisie vir Graad 6 en 9 leerders wat Engels as eerste addisionele taal op skool neem. Hier het die Wes-Kapenaars gewys waar Dawid die wortels gegrawe het.

“Meer as 6 000 kinders het van skool-, kring-, distrik- en provinsiale vlak deelgeneem om ons van dag tot hier te bring," het Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees (wat die WOW-projek insluit), tydens die prysuitdeling gesê.

Die leerders se uitsonderlike vermoeë om reg te spel het die dag se program met sowat 'n uur oor die beplande tyd laat loop omdat verskeie grade net nie tot 'n wenner kon kom nie. Die drie finaliste per graad uit elk van die nege provinsies het in rondes gespel. Sodra 'n fout begaan is, het die deelnemer uitgeval. Selfs die Graad 2- en 3-leerders het byna drie uur aaneen gespel voordat 'n wenner aangewys kon word.

Fiona van Kerwel, die WOW-projekbestuurder, het ook die onderwysers wat as vrywilligers betrokke is en toesien dat die kompetisie van skoolvlak tot met die nasionale ronde glad verloop, bedank vir hul tyd en onbaatsugtige opoffering.

“Die spelkompetisie open werklik jong kinders se wêrelde deur nodige bloostelling en interaksie en juis daarom is die finaal 'n groot hoogtepunt," sê dr. Leslie van Rooi, senior direkteur van Sosiale Impak en Transformasie, onder wie WOW ('n akroniem vir Woorde Open Wêrelde) resorteer. “Deur die medium van taal steek hulle grense oor – ons kan beslis baie by hulle leer."

Frank Louw, van die hoofborg, Sanlam, se afdeling vir Korporatiewe Sosiale Betrokkenheid, het gesê hulle steun die projek omdat dit syfervaardigheid en geletterdheid vir Sanlam baie na aan die hart lê.

Wenners het elkeen 'n kontantprys en medalje van Sanlam ontvang, asook 'n boekprys van NB Uitgewers. Die eersteplek-wenners het ook elkeen 'n iPad (graad 1-5) of 'n slimfoon (graad 6-9) gekry. Ander borge sluit in KykNET, die Dagbreek Trust en Het Jan Marais Nationale Fonds.

Die Sanlam WOW Spelkompetisie is nou in sy elfde jaar. WOW, 'n akroniem vir Woorde Open Wêrelde, het ten doel om 'n liefde vir lees en woorde by leerders te kweek. Die projek help ook jaarliks sowat dertien behoeftige leerders aan die Universiteit van Stellenbosch deur die beskikbaar stel van aanvullende beurse.

Die Sanlam WOW Spelfees vir 2018 het reeds geopen. Besoek gerus www.woordfees.co.za en klik op WOW.

Vir meer inligting oor die eindronde van die Sanlam WOW Spelfees 2017, kontak vir Shireen Crotz by die WOW-kantoor by [email protected] of 083 237 7059.