
Maties doen hul ding by US Woordfees
Waar jy kyk by vanjaar se US Woordfees is daar iewers is 'n Matie, 'n alumnus, of 'n US-dosent betrokke – of dit nou teaterproduksies, die visuele kunste, diskoerse, boekbesprekings of musiekuitvoerings is.
Talle teaterproduksies spog met akteurs, regisseurs en teksskrywers wat 'n draai by die US se dramadepartement gemaak het.
Die Gangsters, met teks van dr Benoni Dehaeck vereer hierdie groot teatermeester vanjaar in die Breughel-teater. Die US-alumnus en Fiësta-pryswenner Dean-John Smith speel die hoofrol.
Onder die alumni is daar De Klerk Oelofse wat in Hond se Gedagte in die Stellenbosch-stadsaal te sien is. Hierdie produksie staan onder regie van nog 'n oud-Matie, Christiaan Olwagen.
Innie rof en Raka spog met Neels van Jaarsveld, wat ook aan die US se dramadepartement gestudeer het.
Nicole Holm is ook baie bedrywig, met optredes in Die dag is bros, In Ongenade, in die kabaret Hensop en in Moeder Moed en haar kinders.
Gaerin Hauptfleisch is verantwoordelik vir die regie van Broodlyn; Marion Holm is hier met Die Kaap is weer Holms, met regie deur oud-Matie Chris Vorster; terwyl Stian Bam en Tinarie van Wyk te sien is in die uitstaande produksie Orgie.
Die komponis Pierre-Henri Wicomb, wat aan die US se Konservatorium gestudeer het, is verantwoordelik vir die klankbane van Buite blaf die honde swart en In Ongenade.
US-alumni is ook sterk verteenwoordig in die visuele kunste-aanbieding van die Woordfees. Die kunsuitstalling in GUS en Oude Libertas-galery, Spreek die Woord/Break the Spell, se kurator is oud-Matie Louis Jansen van Vuuren. Die fees-uitstalling, Plek-plek, onder kuratorskap van Alex Hamilton by die US Museum, ondersoek die dinge wat bydra tot Stellenbosch se hedendaagse gemeenskap en denkwyse en vra vrae soos wat laat 'n dorp se hart klop en wat is die universele gom wat alles bymekaar hou.
Die musiek-aanbiedings op die US Woordfees is deurspek met talentvolle oud-Maties en US-dosente. Oud-Maties Zorada Temmingh, Winand Grundling, Erik Dippenaar, Diederick Basson en Louna Stofberg sal gehore inspireer met hul uitvoerings op die NG Moederkerk se orrel oor die etensuur.
Moenie die US Kamerkoor misloop nie, so ook die Stellenbosch Universiteitskoor en die Stellenbosch Libertaskoor. Ander hoogtepunte sluit in optredes deur die Amici-strykkwartet, die Universiteit Stellenbosch Camerata, die TwoPianists Nina Schumann and Luis Magalhães, asook mezzosopraan Jolene McCleland en tjellis Anzél Gerber.
Dosente en Maties is ook goed verteenwoordig by die besprekingsessies op die Woordfees. Filosofiekafee is altyd 'n treffer, en Beste Professor se sprekers is almal professors van die US wat besprekings oor onderwerpe soos demokrasie en die regstaat, grondhervorming en die staatskas sal lei.
Die US se Frederik van Zyl Slabbert-gespreksreeks raak politieke kwessies aan en by die Science Café Stellenbosch in Die Plataankafee is Dave Pepler die gesprekleier.
Die STIAS-gesprekke vind op 6 en 13 Maart by die Wallenburg-sentrum plaas, en onder leiding van Stellenbosch 360 word gevra wat Stellenbosch uniek maak en insette gevra oor The South Africa I want. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)-gespreksreeks hanteer humor en Afrikaanse uitdrukkings in hierdie gesaghebbende woordeboek van Afrikaans.
Waar jy ook al kyk, is 'n Matie doenig by die Woordfees!
- Gaan na www.woordfees.co.za vir die volledige program.
FOTO: US-alumnus Nicole Holm saam met Gerben Kamper in In Ongenade. Foto deur NARDUS ENGELBRECHT / INK