
Maties Basketbal-spanne kwalifiseer vir USSA-toernooi
Maties Basketbal se mans- en vrouespan het albei gekwalifiseer om in Julie aan die nasionale universiteitskampioenskap (USSA) deel te neem ná twee senutergende wedstryde verlede Vrydag.
Die spanne moes hul uitspeelwedstryde vir derde en vierde plek in die Wes-Kaapse USSA-basketballiga wen om te kwalifiseer. Die manspan het UWK 62-60 geklop terwyl die vrouespan in dubbel-oortyd moes gaan om die tuisspan UK 42-40 te wen.
Volgens regstudent en spankaptein Nicholas Serafino het die mans daarin geslaag om aan hul voorsprong te klou nadat hulle die wedstryd goed begin het. "Almal het 'n goeie wedstryd gehad," het hy bygevoeg.
Hy dink dit is fantasties dat die spanne saam na die USSA-toernooi in Johannesburg kan reis.
Dit sal nie 'n eerste keer vir die vrouespan wees nie. Hulle het in 2013 vir die nasionale toernooi gekwalifiseer en die kwarteindronde van dié kompetisie gehaal.
Kaptein Lerato Ngakane wat tans aan haar meestersgraad in oordraagbare siektes werk, het hul wedstryd Vrydag as "senutergend en emosioneel beskryf".
Sy het haar spanmaats geprys vir hul toewyding en dat hulle as 'n eenheid saamspeel.
"Ons is baie opgewonde om na die nasionale toernooi te gaan en ons doelwit is om ten minste die semifinaal te haal."
Die manspan het nog nie vantevore aan die nasionale toernooi deelgeneem nie.
"In my eerste jaar het ons somtyds gesukkel om een span vol te kry," het Serafino, wat al vir vyf jaar lid van die Maties Basketbalklub is, gesê. "Bewustheid van die sport is definitief aan die toeneem."
Hul doelwit is om die top-agt by die USSA-toernooi te haal om sodoende vir die Varsity Sports-kompetisie te kwalifiseer.
"Ons het 'n baie goeie spandinamika en ek dink dit sal ons goed te staan kom in Johannesburg."
Maties Basketball is onlangs benoem as een van die Hoëprestasie-sportkodes by Universiteit Stellenbosch (US). Die spanne word deur die nuwe hoofafrigter Zarko Krkeljas (manspan) en hulpafrigter Aggrey Ofula (vrouespan) afgerig.
Die klub bestaan uit drie spanne: die mans-A-span, wat uit spelers met gevestigde basketbalvaardighede opgemaak is; die mans-B-span, 'n ontwikkeling- en ontspanningspan vir studente wat basketbal vir ontspanning speel of belangstel om te leer speel; en die vrouespan wat gevestigde sowel as nuwe spelers verwelkom