
Matiefietsryers gekies om SA in Filippyne te verteenwoordig
Drie studente van Universiteit Stellenbosch – Hans-Werner Heuer, CP van Wyk en Max Sullivan – sal USSA by die internasionale universiteite-fietsrykampioenskap (WUFK) wat vanaf 16-20 Maart 2016 in die Filippyne gehou word, verteenwoordig.
Wat hierdie prestasie selfs meer merkwaardig maak, is die feit dat die driemanspan net uit Matiestudente bestaan. Hulle is gekies by die onlangse USSA-fietsrybyeenkoms wat deur die Universiteit Stellenbosch aangebied is en deur sewe Suid-Afrikaanse universiteite bygewoon is.
Studente van minstens 17 lande, insluitend deelnemers uit Europa en die VSA, sal by dié kampioenskap, wat vir die eerste keer buite Europa gehou word, meeding. Vier hoofwedrenne – 'n 122 km-padwedren, 'n 80 km-kriterium, 'n 35 km-veldwedren en 'n 1,2 km veldwedren-elimineerder – sal aangebied word.
Slegs bona fide-studente mag deelneem. Studente se curricula word onder meer geëvalueer en dra 'n sekere gewig wanneer hulle binne hul sportkode gegradeer word. In hierdie opsig is Heuer 'n finalejaar-ingenieurstudent, Van Wyk 'n BCom-student en Sullivan besig met sy BCom Hons in Publieke Administrasie (BPA).
Die span en sy bestuurders, Errard Sullivan en André van Wyk, is vol lof vir die ondersteuning wat hulle van Universiteit Stellenbosch kry, veral van me. Ilhaam Groenewald – hoofdirekteur van Maties Sport – en haar personeel wat hulle met hul reëlings gehelp het.
Vir die spanlede en hul plaaslike borge – onderskeidelik Stellenbosch Cycling, BMT Bike Shop en Alfa Bodyworks – is dit 'n droom wat waar geword het. As ernstige deelnemers aan die fietsrysport was dit nog altyd hul ambisie om in die nasionale kleure deel te neem. En om Suid-Afrika en sy studentegemeenskap by hierdie toonaangewende internasionale geleentheid te verteenwoordig, maak hulle terselfdertyd nederig en trots.
“Dit is 'n reis wat nuwe deure vir ons en vir baie ander Suid-Afrikaanse fietsryers gaan oopmaak," het Sullivan namens die span gesê. “Hierdie geleentheid sal die hoogtepunt van ons fietsryloopbane wees en ons kan nie wag nie!" voeg hy by.
* Behalwe vir die finansiële ondersteuning wat die span van Universiteit Stellenbosch kry, is die spanlede self verantwoordelik om die grootste deel van hul toeruitgawes te dek. Enigiemand wat finansieel wil bydra, kan Heuer bel by 071 401 6871.
Foto's: Hans-Werner Heuer, Max Sullivan and CP van Wyk.
Fotograaf: Ralda van Wyk