
FGGW-dosente gekies vir AFREhealth Leierskapontwikkelingsprogram
Drie dosente verbonde aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), dr Talitha Crowley, Amanda Msindwana, en Mia Duvenage, is gekies om die Universiteit Stellenbosch te verteenwoordig as deel van die inhuldigingskohort van die AFREhealth-leierskap-ontwikkelingsprogram, ook bekend as STRIPE (Strengthening Interprofessional Education for HIV).
Die African Forum for Research and Education in Health (AFREhealth) is 'n interdissiplinêre professionele organisasie wat met gesondheidsorg gemoeid is, en hulle oogmerk is om saam te werk met departemente van gesondheid, opleidingsinstellings en ander belanghebbendes, om sodoende die gehalte van gesondheidsorg in Afrika te verbeter deur middel van navorsing, onderwys en die bou van kapasiteit. Die forum is in 2016 in Nairobi van stapel gestuur.
Hierdie spesifieke AFREhealth-program, wat 'n aanvang geneem het in die middel van 2021, is gemik op gesondheidswerkers wat in die middel van hulle loopbane is. Dit is benoem ter ere van professor James Hakim, 'n kliniese epidemioloog, kardioloog en navorser, wat ten tyde van sy dood in 2021 professor in Geneeskunde aan die Universiteit van Zimbabwe se Kollege van Gesondheidswetenskappe was.
Die langtermyndoelwit van die program is om die volgende generasie leiers in die gesondheidsberoepe (met 'n spesifieke fokus op MIV) regoor Afrika suid van die Sahara te ondersteun, en om hulle in staat te stel om die nodige vaardighede te bekom om, op hulle beurt, leiding te verskaf op die gebied van die bestuur van gesondheidsprogramme. Om dit te kan doen, moet hulle leiers wees wat goeie besluite kan maak, asook terselfdertyd effektiewe mentors en dinamiese kommunikeerders kan wees.
Die program het bestaan uit 'n weeklikse seminaar, tweeweeklikse werkswinkels, individuele projekte, en lesings wat voor die onderskeie sessies plaasgevind het. Dit is daarop gemik om deelnemers se kennis te versterk op die gebied van organisasie-ontwikkeling, en om doeltreffend oor kulture en kaders heen te werk, asook om netwerking te bevorder.
Dr Talitha Crowley
Dr Talitha Crowley, voorheen by die Departement Verpleegkunde en Verloskunde by die FGGW, was een van die ontvangers. Sy is 'n professionele verpleegster en het haar loopbaan in 2006 begin deur te werk as 'n verpleegster in ongevalle, intensiewe sorg en primêre sorg. Sy het nagraadse kwalifikasies in Primêre Sorgverpleegkunde, Verpleegkunde Onderrig en Gesondheidsdienstebestuur voltooi, 'n Meestersgraad in Verpleegkunde in 2009 voltooi, en 'n PhD in Verpleegkunde is in 2018 aan haar toegeken.
Haar akademiese loopbaan het in 2010 by die US begin. Haar navorsingsbelangstelling is op die gebied van primêre sorgverpleging, MIV, en gesondheidsorg onder adolessente. Haar oorhoofse fokus is daarop om mense te bemagtig om hulle gesondheid te bevorder deur middel van doeltreffende selfbestuur.
In Januarie 2022 het sy 'n pos as medeprofessor aan die Universiteit van Wes-Kaapland se Skool vir Verpleegkunde aanvaar.
“Ek het uiters bevoorreg gevoel om hierdie toekenning te ontvang. Daar is wêreldwyd, en in Suid-Afrika, 'n groot behoefte aan verpleegkundige leierskap. Leiers op die gebied van kliniese verpleegkunde en diegene in akademiese opsette moet toegerus word met leierskapsvaardighede om sodoende transformerende en volhoubare verandering in gesondheidstelsels en in hoëronderwysomgewings te bevorder," sê Crowley.
“Die program het 'n wye reeks onderwerpe gedek wat die ontwikkeling van leierskapsvaardighede asook die bevordering van my loopbaan gefasiliteer het. Ek sal hierdie vaardighede kan toepas wanneer ek kollegas en studente onderrig."
Amanda Msindwana
Die tweede deelnemer aan hierdie program, is Amanda Msindwana, wat 'n Nagraadse Programkoördineerder is by die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid. Hierdie sentrum fokus op die ontwikkeling en lewering van onderrig vir professionele gesondheidswerkers in landelike omgewings. Msindwana is 'n spraak-taalterapeut en oudioloog, met baie werksondervinding in landelike gesondheidskontekste.
Sy is reeds vir vier jaar betrokke by kliniese koördinering by die Sentrum vir Landelike Gesondheid, en het gedien vir 'n termyn op die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika, spesifiek as 'n raadslid vir Spraakterapie en Oudiologie. Sy het ook gedien as 'n Direkteur vir Inklusiewe Onderwys binne die Oos-Kaapse Departement van Onderwys.
Sy het die program baie waardevol gevind.
“Vir my het dit die waarde bevestig wat kollegas, gemeenskappe, gesinne lewer tot transformasie," sê Msindwana.
Sy het reeds in vier verskillende landelike gebiede in Suid-Afrika en drie ander lande gewerk.
“Die klem op samewerking was 'n belangrike samebindende faktor wat dwarsdeur die program bespeur kon word, en ek voorsien dat lewenslange netwerke gevorm is deur deel te neem aan hierdie program."
Sy was besonder dankbaar dat sy gekies is om 'n deelnemer te wees, aangesien die meeste van die ander kandidate gevestigde akademici en klinici was.
“Dit was wonderlik om 'n geleentheid gegun te word om vaardighede te kon aanleer by sommige van die beste gesondheidsorgpersoneel en -opvoeders op die vasteland, en trouens, die wêreld. Die program het my passie vir opleiding in die gesondheidsberoepe in ons land weer laat opvlam. Daar is soveel uitdagings wat ons hier moet aanpak," voeg Msindwana by.
Sy is geregistreer om in 2022 haar Meestersgraad in Gesondheidsberoepe Onderwys aan die Universiteit Stellenbosch te doen.
Mia Duvenage
Mia Duvenage, nog 'n deelnemer aan hierdie program, is tans die kliniese koördineerder van die Worcester Landelike Kliniese Skool (WRCS), Departement Globale Gesondheid, se finalejaar arbeidsterapiestudente.
Haar projek vir hierdie program was daarop gemik om bewustheid oor die leergeleenthede by die WRCS vir verwante gesondheidsorg-studente te bevorder, om die aantal aansoeke vir die WRCS se kliniese opleidingsprogramme te verhoog, en om die leer- en onderrigervaring by die instansie 'n positiewe een te maak vir beide studente en dosente.
Onderskrif: Mia Duvenage, dr Talitha Crowley en Amanda Msindwana.