
‘Fakulteite moet hou by Taalbeleid en Taalplan’ - Raadsvoorsitter
Verklaring deur mnr George Steyn, Voorsitter van die Stellenbosse Universiteitsraad:
Alle fakulteite aan die Universiteit Stellenbosch (US) moet die onderrigtale implementeer in ooreenstemming met die instelling se goedgekeurde Taalbeleid en Taalplan, asook die Raadsmosie van 30 November 2015. In dié mosie het die Raad verklaar dat taal nooit ʼn hindernis mag wees vir enige student wat aan die US wil studeer nie.
Ek en prof PW van der Walt, Ondervoorsitter van die Raad, het met die Rektor, prof Wim de Villiers, en prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, gesprekke gevoer oor taalimplementering in die fakulteite om te verseker dat daar belyning is met die US se goedgekeurde planne. Ek het begrip vir die kompleksiteite rondom die praktiese toepassing van meertaligheid aan die US. Bestuur het ons verseker dat hierdie kwessie tans hul dringende aandag geniet.
Die Universiteitsraad het ʼn oorsigfunksie om te verseker dat die bepalings van goedgekeurde beleide, ook die Taalbeleid, nagekom word. Die Uitvoerende Komitee van die Raad sal by sy eerskomende vergadering die huidige situasie oorweeg en aan die Raad verslag doen.