
Bergfietsry nou ook deel van die Hoëprestasie-program
Bergfietsry is nou ook deel van Maties Sport se Hoëprestasie-program by die Universiteit Stellenbosch (US) en vanjaar ook reeds deel van die opwindende Varsity Sports-reeks.
Die Varsity-bergfietsuitdaging strek oor twee meerdaagse byeenkomste. Die eerste byeenkoms is op 9 en 10 Julie in die Sondela-natuurreservaat in Bela Bela. Die tweede byeenkoms is op die La Paris-landgoed in Franschhoek van 1-2 Oktober. Die byeenkomste gaan 'n ekstra unieke universiteitsgeur hê met die algemene publiek wat ook kan deelneem en die universiteit van hul keuse kan verteenwoordig.
Die pas afgelope naweek het Maties Fietsry die intervarsity-stryd teen Ikeys oorheers en die fietsryers het gewys dat hulle gereed is om kompeterend te wees in die Varsity-bergfietsuitdaging.
Mariske Strauss, Afrika en Suid-Afrika se bergfietskampioen en 'n Sportwetenskap-student aan die US, is baie opgewonde oor die impak wat die HP-program op die sport in Matieland gaan hê.
"Dit is beslis 'n stap in die regte rigting. Dit beteken ons sport is besig om te groei. Dit gee die Matiefietsryers ook toegang tot 'n groot verskeidenheid hulpmiddels, wat almal gaan help om hul sportloopbane te bevorder," het Strauss gesê.
Strauss hoop om vanjaar na die Olimpiese Spele in Rio te gaan. Sy het in 2014 haar land by die Statebondspele verteenwoordig.
"Danksy die ondersteuning van die HP-program het ek nie net toegang tot al die wêreldklasgeriewe nie, maar ek het nou ook die geleentheid om saam met die administrasie te werk en hulle die beste moontlike idee te gee oor wat presies in ons sport aan die gang is. Dit is 'n baie goeie geleentheid om almal aan ons sport bekend te stel en hopelik kan ons sodoende groter deelname en meer belangstelling in die sport betrek."
Volgens Strauss help die HP-program om die sport van bergfietsry meer toeganklik te maak op universiteitsvlak.
"Ons kan nou meer studente by die sport betrokke kry en dit bied 'n geleentheid aan diegene wat nie noodwendig dit self sou kon bekostig om al die ekstras (waartoe ons nou toegang het) te bekom nie. Ons kan dus mense 'n beter idee gee wat die sport behels en sodoende kan ons baie vinniger groei en verbeter."
Vir meer Varsity MTB Challenge inligting besoek www.varsitymtbchallenge.co.za. Sosiale media platforms is Facebook: Varsity MTB Challenge; Twitter: @VarsityMTB en Instagram: @varsitymtb.
Foto-onderskrif: Fietsryers neem deel aan die Intervarsity-stryd teen die Universiteit van Kaapstad. Fotokrediet: Outsider Communications