Die Sentrum vir Statistiese Konsultasie help jou om sinvolle gevolgtrekkings uit jou data te maak. Ons werk saam met nagraadse studente, navorsers en organisasies, en gee leiding in elke fase van die navorsingsproses — van die beplanning van eksperimente en steekproefgroottes, tot statistiese ontleding en die interpretasie van resultate. Ons is deurgaans daar om by te dra tot die sukses van jou navorsing.
Ons kundigheid sluit ’n verskeidenheid statistiese metodes en sagtewarepakkette in, sodat jou data akkuraat ontleed en duidelik aangebied kan word. Al fokus ons hoofsaaklik op ondersteuning aan die Universiteit se navorsers, werk ons ook saam met studente van ander universiteite, privaatmaatskappye en individue. Of jy nou aan ’n tesis slyp, ’n vakartikel voorberei of maatskappynavorsing doen — ons help graag om jou navorsing tot sy volle reg te laat kom.