Sosiale Impak deur Matie Gemeenskapsdiens en Vrywilligerdiens
Matie Gemeenskapsdiens (MGD) in die Afdeling vir Sosiale Impak het onlangs sy algemene jaarvergadering gehou. Tradisioneel is dit ook 'n geleentheid om erkenning te gee aan mense wat voordeel trek uit die werk van MGD.
Tydens die aanbieding van MGD se jaarverslag, het dr Antoinette Smith-Tolken, waarnemende hoof in die Afdeling vir Sosiale Impak, almal herinner dat mense nie aalmoese wil hê nie, hulle lewens wil verander. "As 'n universiteit, moet ons wedersydse impak verseker – die samelewing moet ook op ons as 'n universiteit 'n impak hê en ons moet verseker dat ons werk relevant vir die samelewing is. Die gemeenskap speel ook 'n groot rol in die onderrigproses deur die ontwikkeling van graduandi eienskappe" het sy gesê.
Verskeie belanghebbers het uiting gegee aan die impak van die werk wat MGD en sy studentevrywilligers doen, as 'n kragtige herinnering van hoe dit 'n groot verskil in die lewens van andere kan maak as mens iets van jouself gee:
Mnr Steve Jacobs, 'n vyfdejaar- mediese student aan die Tygerbergkampus het vertel hoe die studente gereageer het op 'n behoefte om nie net broodnodige primêregesondheidsorgdienste aan gemeenskappe te verskaf nie, maar ook steun met die skryf van CV's. As gevolg hiervan, kon een van die lede van die gemeenskap vir die eerste keer vir 'n werk aansoek doen, met sukses!
Me Betta Augustine, 'n gemeenskapvennoot wat die hoof van Stellemploy is, het gepraat oor die pad wat Brandon Schruder, 'n Volwasse-onderwys-en-opleiding- (VOO-)leerder, geloop het. Van sy begin op vlak 4 (Graad 9) het hy aangegaan om, deur Stellemploy, 'n sjefkursus by een van die beste sjef-skole in Afrika, die Institute for Culinary Arts (instituut vir kookkuns), te voltooi. Hy is tans besig met sy internskap by Red Pepper Catering.
Me Linda Jacobs, programbestuurder vir die VOO- en vaardigheidsontwikkelingprogram, het die storie van Izak Botha, wat met behulp van die VOO-program matriek met uitstekende resultate voltooi het, gedeel. Toe het hy aan MGD se vaardigheidsopleidingsprogram deelgeneem en daarna sy eie bakbesigheid begin. Hy is tans 'n opleier in die vaardigheidsopleidingsprogram en die Stellenbosch Munisipaliteit het ook onlangs 'n spysenieringstender aan hom toegeken.
Mnr Hlumelo Nonxuba, HK aan Simonsberg, het vertel hoe die koshuis 'n leesprogram geïmplementeer het om leerders met hulle leesvaardighede te help. Hierdie leesprogram help leerders om hulle akademiese resultate te verbeter. "Min het ek geweet hoeveel ek verryk sou word. Ons word aktief deur hierdie gemeenskappe verander," het hy gesê.
Meer stories van sosiale impak kan gelees word in die MGD jaarverslag by http://www.sun.ac.za/afrikaans/ci/Documents/AFR_MGD%20Jaarverslag%202015%20ELECTRONIC.pdf