Skip to main content
Nie-akademiese mentors ondersteun nuwelingstudente, maak universiteite meer inklusief

Nie-akademiese mentors ondersteun nuwelingstudente, maak universiteite meer inklusief

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
07 September 2021

Nie-akademiese mentors help nie net nuwelingstudente om by die kampuslewe aan te pas nie, maar maak universiteite ook meer inklusief.

Só meen dr Jerome Joorst van die Departement Opvoedingsbeleidstudie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Joorst het navorsing gedoen oor hoe nie-akademiese mentors nuwelingstudente maatskaplik, sielkundig en emosioneel ondersteun om sukesvol in hul studies te wees. Sy navorsingbevindinge het onlangs op LitNet Akademies verskyn.

Joorst het spesifiek op die US se SciMathUS-program gefokus. Dié suksesvolle jaar lange oorbruggingsprogram in wetenskap en wiskunde bied aan voorheen benadeelde studente wat reeds matriek geslaag het, 'n tweede geleentheid om hul prestasie in dié vakke te verbeter ten einde universiteitstoelating te verkry. Hierdie studente ontvang 'n jaar gratis universiteitsverblyf, waar hulle ook nie-akademiese mentorskap ontvang.

Joorst wys daarop dat sommige studente (meestal generies swart studente) weens verskeie redes 'onvoorbereid' by universiteite opdaag en sukkel om hul kursusse baas te raak. Boonop is die oorgang van skool en ouerhuis na universiteit moeilik vir baie.

Daar is egter maniere om hierdie studente te help, sê hy.

“Akademiese en nie-akademiese mentors (veral dié met soortgelyke ervarings as die gementordes) kan hier ʼn belangrike bydrae lewer. Eersgenoemde werk hard daaraan om die studente skolasties voor te berei, terwyl laasgenoemde hulle op maatskaplike, sielkundige en emosionele gebiede verder ondersteun. Só help bou hulle 'n brug tussen die gementordes se kapitaal (kwaliteite) en habitus (manier van doen, dink en wees) enersyds en die verwagtinge op universiteit andersyds."

Volgens Joorst is die vorme van kapitaal wat universiteite as waardevol ag, dikwels nie dieselfde as dié waarmee studente by die instellings opdaag nie.

“Studente wie se kapitaal en habitus goed strook met die universiteit sʼn, sal gewoonlik beter vaar en makliker by die kampuslewe aanpas. Hulle voel as't ware soos die spreekwoordelike 'vis in die water', terwyl studente wie se kapitaal en habitus nié juis met die universiteit s'n ooreenstem nie, minder tuis voel.

“Nie-akademiese mentors maak die beste van die diverse kapitaalvorme wat studente saam met hulle bring ten einde aan hulle 'n ryker ervaring te gee. Op dié manier help hulle ook om 'n meer inklusiewe studentegemeenskap te skep.

“Verder werk nie-akademiese mentors met die miskende kapitaalvorme van hul gementordes om nie net hul toegang tot die universiteit te bemiddel nie, maar ook om hulle te help verstaan dat hul kapitaalvorme belangrik is en na waarde geag word. Só help die mentors hierdie studente om hul weg deur die universiteit te vind."

Joorst sê sy navorsing het getoon dat nie-akademiese of 'informele' mentors nie net die inskakeling van studente uit gemarginaliseerde omgewings by die US fasiliteer nie, maar ook die instelling help om sy kennis oor alternatiewe maniere van mentorskap te verbreed. Hierdie mentorskap is 'informeel' omdat die SciMathUS-mentors nie deel uitmaak van die US se formele mentorskapsprogram nie, maar naas die formele strukture funksioneer.

“Die SciMathUS-mentors se emosionele belegging in die gementordes – die noue omgang met hul vrese en angs, maar ook hul verwagtinge en drome – lei daartoe dat nuwelingstudente 'n stel innerlike hulpbronne, sosiale vaardighede en kulturele strategieë (bykomende kapitaal) opbou wat hulle help om hul voete in 'n vreemde omgewing te vind en te floreer."

Joorst meen die mentors se mentorskapspraktyke en die sukses daarvan berus in 'n groot mate op hul eie ervarings as gementordes in die program, en die oorlewingstrategieë wat hulle self mettertyd aangeleer het.

“Hulle kan uit hulle eie ondervinding put en aktief betrokke wees by hulle gementordes se ontwikkeling en aanpassing terwyl hulle in die SciMathUS-koshuis tuisgaan, juis omdat hulle weet voor watter inskakelings- en navigasie-uitdagings die nuwelingstudente te staan kom."

Volgens Joorst behoort hoëronderwysinstellings veel gevoeliger daarvoor te wees dat ongelykhede in ons skoolstelsel daartoe lei dat die meeste studente uit gemarginaliseerde gemeenskappe by universiteite aankom met 'n habitus en kapitaalvorme wat dit vir hulle moeilik maak om maklik by hul nuwe omgewing aan te pas.

“Ten einde studente se inskakeling by universiteite en suksesvolle navigering van die kampuslewe te vergemaklik, en tersiêre instellings meer verwelkomend, ontvanklik en diverse te maak, moet daar weg beweeg word van 'n een-pas-almal-benadering en met groter dringendheid gekyk word na diverse en meer inklusiewe benaderings."

  • Bron: Joorst, J 2021. Die rol van nie-akademiese mentorskap om studente uit gemarginaliseerde groepe by 'n universiteit te laat inskakel – 'n gevallestudie. LitNet Akademies 18/1: 432-449.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Jerome Joorst

Departement Opvoedingsbeleidstudie

Fakulteit Opvoedkunde

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 2398

E-pos: [email protected]

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: [email protected]