
Gradeplegtigheid lewer grootste groep dokters, meeste onderskeidings op
Meer as 830 studente in die gesondheidswetenskappe het onlangs graad gevang by die Universiteit Stellenbosch se Desember-gradeplegtigheid.
Vier-honderd-en-twintig van hulle is nuut gemunte gesondheidsberoepslui wat hul voorgraadse kwalifikasie ontvang van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). ʼn Totaal van 277 studente het hul mediese (MB,ChB) grade ontvang, wat dit die grootste 'jaarlikse oes' van mediese graduandi aan die FGGW tot nou toe maak. Met 26 gegradueerdes wat met lof slaag, bevat hierdie groep ook die meeste studente wat tot op hede hul MB,ChB-grade cum laude ontvang het.
Die FGGW se voorgraadse graduandi sluit ook in 51 studente wat die Baccalaureus-graad in Arbeidsterapie ontvang, 45 studente wat die BSc in Fisioterapie ontvang, 26 gegradueerdes van die BSc in Dieetkunde, en 22 studente wat die Baccalaureus-graad in Spraak-Taal en Gehoorterapie ontvang.
Medaljes word toegeken aan die toppresteerders in die fakulteit, asook in elke individuele program. Twee studente is aangewys as die algehele top-presteerders – die prys is gedeel tussen Elanie Antoinette van Schalkwyk, ʼn Spraak-Taal en Gehoorterapie-student wat ʼn gemiddel van 83.38% behaal het vir haar vier-jaar kursus, en die MB,ChB-student Sean Anderson, wat ʼn gemiddel van 81,72% behaal het oor die loop van sy ses-jaar lange program. Lebogang Nthabiseng Mohlala het die Dekaan se toekenning vir Uitnemendheid in Leierskap ontvang.
Van Schalkwyk het ook die medalje ontvang vir toppresteerder in haar programme, terwyl Maxine Smit die medalje vir die MB,ChB-program ontvang het, Charlotte Ann Lovemore het die medalje vir Arbeidsterapie ontvang, Tayla Saaiman vir Dieetkunde, en Chanté van Rooyen vir Fisioterapie.
Die klas van 2018 is ook die eerste groep graduandi wat die nuwe onderneming afgelê het wat alle gesondheidsberoepslui insluit wat deur die fakulteit opgelei word. Met hierdie onderneming beloof gegradueerdes in die openbaar om die waardes van die fakulteit, asook die beroep waarby hulle aansluit, te handhaaf.
Sewentien PhD-grade is deur die FGGW toegeken by vanjaar se gradeplegtigheid. ʼn Spesiale ontvanger is die FGGW se Visedekaan: Leer en Onderrig, prof Julia Blitz, wat haar PhD in Gesondheidsberoepe-onderwys ontvang het. Ander ontvangers sluit in dr Karin Baatjes, die hoof van die FGGW se Afdeling Kliniese Anatomie, dr Tony Garcia-Prats, ʼn mediese direkteur by die Desmond Tutu TB-sentrum, mev Lee-Ann Jacobs-Nzuzi Khuabi, ʼn dosent by die Afdeling Arbeidsterapie, mev Mariana van der Heever, ʼn dosent by die Departement Verpleeg- en Verloskunde, en dr Elisabetta Walters van die Departement Pediatrie.
ʼn Verdere 117 Meestersgrade, 46 Honneursgrade en 248 nagraadse diplomas is ook deur die FGGW toegeken.