Vrouemaand eindig op ʼn hoë noot vir twee US-akademici
Vir twee jong wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) was Augustus ekstra spesiaal toe hulle uitgevind het hulle is as finaliste vir die 2023- Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekennings (SAWiSA) genomineer.
Die nasionale Departement van Wetenskap en Innovasie (DSI) het die finaliste onlangs ter viering van Vrouemaand aangekondig. SAWiSA is ʼn jaarlikse landwye viering van vroue in wetenskap en tegnologie en hierdie twee uitsonderlike US-akademici is by die lys van 26 finaliste ingesluit.
Leanne Nortjé is ʼn DeepMind-skolier en ʼn PhD-student in elektriese en elektroniese ingenieurswese. Haar tesis ondersoek die gebruik van visie as ʼn vorm van transkripsie van spraak in ʼn taal met min hulpbronne. Die inspirasie vir haar modelle is hoe doeltreffend kinders taal uit baie min voorbeelde leer. As stelsels so vinnig kan leer, kan dit die ontwikkeling van minder data-afhanklike stelsels bevorder.
Die nuus oor haar benoeming was opwindend en het haar tegelyk nederig laat voel, sê Nortjé.
“Die nuus was ʼn aangename verrassing wat ek dadelik met my lewensmaat, Pieter, en my studieleier, prof Herman Kamper, gedeel het. Dit is ʼn bevestiging van my toewyding tot my navorsing en ʼn herinnering aan die impak wat vroue in die wetenskap kan maak.
“Ek is opgewonde om aan te hou om grense te verskuif en ander in hierdie reis te inspireer," sê sy.
Nyeleti Precious Mabaso is ʼn spraak-taalpatoloog wat tans met haar meestersgraad aan die US besig is. Sy is onlangs as een van die Mail & Guardian se 200 jong Suid-Afrikaners aangewys en het lewens verander met haar baanbreker-navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid.
Haar navorsing is gefokus op die vertaling van die Meertalige Instrumente van Narratiewe (ʼn instrument wat gebruik word om die narratiewe vaardighede van kinders te toets wat van geboorte of ʼn jong ouderdom af een of meer tale aanleer) in Tshivenḓa. Die doel is om te verseker dat die instrument taalkundig en kultureel gelykstaande aan die oorspronklike Engelse weergawe en geskik vir assessering binne die Vhavenḓa-nasie is.
Mabaso sê sy was heeltemal oorweldig toe sy die e-pos ontvang wat haar van die SAWiSA-benoeming in kennis gestel het. “Ek het my ma gebel om die e-pos saam met my deur te gaan.
“Nadat dit ingesink het dat dit ʼn werklikheid is, het ek ons Vhavenḓa- koninklike protokol gevolg om eers ʼn senior tradisionele leier (die opperhoofman van die nasie) in te lig. Ek het dus Sy Majesteit, Thovhele Ratshibvumo II Rambuḓa, oor hierdie wonderlike nuus ingelig en hy het dit met groot gejubel namens die nasie ontvang. Daarna het ek die nuus met my navorsingsprojekleiers, prof Daleen Klop en Monique Visser, gedeel. Oor die algemeen voel dit steeds surrealisties."
Die DSI bied die SAWiSA-toekennnings sedert 2003 aan, maar dit is drie jaar lank weens die Covid-19-pandemie onderbreek. Vanjaar se toekenningsplegtigheid vind van 8 tot 9 September by die Southern Sun Elangeni & Maharani-hotel in Durban plaas.
SAWiSA stel profiele op van vroulike wetenskaplikes en navorsers wat as rolmodelle vir jonger vroue dien en beloon jonger vroue wat hul loopbane as navorsers en wetenskaplikes begin en moedig hulle aan. SAWiSA beloon ook geregistreerde meesters- en PhD-studente.
Vanjaar is ʼn kategorie na die DSI-Ndoni Mcunu-genootskappe herdoop om ʼn briljante wetenskaplike te vereer wat verlede jaar tragies gesterf het.
Mcunu was een van Suid-Afrika se voorste jong wetenskaplikes in klimaatsverandering, ʼn sosiale entrepreneur en die stigter van Black Women in Science (BWIS). BWIS het al ontwikkelingsopleiding aan meer as 400 nagraadse genote in besigheid, entrepreneurskap en navorsingsvaardighede, wetenskaplike skryfwerk, projekleierskap, wetenskapkommunikasievaardighede en navorsingsloopbaanvoorbereiding verskaf.
Mcunu het talle eerbewyse ontvang: Sy is in 2017 as 'n Mandela Washington-genoot aangewys; hy het ʼn eretoekenning van die KZN Young Achievers in die kategorie Wetenskapnavorsing en Entrepreneurskap ontvang; en hy het die Gagasi FM Shero-toekenning in die Wetenskap en Tegnologie-kategorie verwerf.