Skip to main content
Spirituele sorgdienste moet deel wees van palliatiewe sorg

Spirituele sorgdienste moet deel wees van palliatiewe sorg

Ronita Mahilall & Leslie Swartz
08 Julie 2021

Palliatiewe sorg, of einde-van-lewesorg soos dit algemeen bekend staan, behoort ook spirituele of geestelike sorg in te sluit. Só meen Ronita Mahilall (PhD-student in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe) & prof Leslie Swartz (Departement Sielkunde) in ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian (5 Julie).

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

Ronita Mahilall & Leslie Swartz*

Palliatiewe sorg, of einde-van-lewesorg soos dit algemeen bekend staan, is besig om stukrag te kry in Suid-Afrika. Spirituele sorg word stadigaan erken as 'n belangrike onderdeel van palliatiewe sorg en hospitiumwerk. Spiritualiteit is veral belangrik in Afrika, maar ironies genoeg, is dit die pilaar van palliatiewe sorg wat die meeste afgeskeep en die minste geprioritiseer word op ons vasteland. Na regte kry die mediese onderdeel van palliatiewe sorg voorkeur, aangesien die verskaffing van pynverligting en simptomebeheer 'n kerndoel van palliatiewe sorg is. Die ander twee pilare van palliatiewe sorg – psigososiale en vertroostingsorg – kry hierna voorkeur.

Spirituele sorg, grootsliks weens hulpbronredes, is geneig om afgeskeep te word. Wanneer spirituele sorg gebied word, is dit gewoonlik deur die gebruik van gemeenskapshulpbronne soos vrywilligers en nieregeringsorganisasies. Die meeste lande in Afrika kan nie 'n ten volle professionele palliatiewe sorg-diens bekostig soos wat in die Globale Noorde aangebied word nie. Dit is ook nie binne die Afrika-konteks duidelik of 'n ten volle professionele diens noodwendig die beste en geskikste sorg sal bied nie.

Beperkte hulpbronne veroorsaak ook groot struikelblokke in holistiese palliatiewe sorg. Ons navorsing het bevind dat die meeste spirituele sorgdienste in Suid-Afrika deur vrywilligers verskaf word wat uit 'n verskeidenheid akademiese, kulturele en sosio-ekonomiese agtergronde kom. Dit wil voorkom asof daar nie 'n duidelike intree-vereiste bestaan om 'n spirituele sorgwerker te word nie. Die meeste van die werk word deur ondervinding aangeleer, asook deur familietradisies wat van een geslag na die ander oorgedra word, indiensopleiding en mentorskap deur professionele praktisyns soos verpleegsters en maatskaplike werkers en deur geloofsgebaseerde organisasies.

Die prentjie in die Globale Noorde is in skerp teenstelling met dié in Suid-Afrika, aangesien die meeste spirituele sorgwerkers daar die een of ander gesondheidsorg-agtergrond het of gevorderde opleiding in godsdiens of kapelaanskap ontvang het voordat hulle 'n spirituele sorgwerker geword het. In baie lande in die Globale Noorde is daar 'n geakkrediteerde kurrikulum in spirituele sorg. Suid-Afrika se kulturele, taal- en rassediversiteit, tesame met die voortslepende gevolge van eeue se kolonisasie en apartheid, en die huidige konteks van uitgebreide ongelykheid, geweld en regeringsuitdagings, bevraagteken die wysheid daarvan om uitheemse of “een-grootte-pas-almal"-modelle van spirituele sorg in Suid-Afrika in werking te stel. 

Die COVID-19-pandemie het nog 'n kollig op die behoefte aan spirituele sorgdienste en palliatiewe sorg laat val. Daar is besig om bewys na vore te kom dat sterftesyfers weens die pandemie ander ongelykhede in ons samelewing weerspieël, net soos die geval is met ander sterfte-oorsake. Gesinne word getraumatiseerd agtergelaat en volle emosioneel en spiritueel verlore. Somtyds is die tydsduur van diagnose tot afsterwe so kort dat daar geen tyd vir palliatiewe sorg en ondersteuning aan pasiënte en hul gesinne is nie.

Spirituele en palliatiewe sorg is nie net vir sterwendes nie, hoewel hul behoeftes sentraal staan en moet wees. Dit is egter ook bedoel vir hulle wat agterbly, en deel van die werk van n samelewing wat oor die algemeen meer omgee, skryf *Ronita Mahilal, 'n doktorale kandidaat aan die Universiteit Stellenbosch (US) en die hoof- uitvoerende beampte van St Luke's Combined Hospice in Kaapstad, en *prof Leslie Swartz, 'n kliniese sielkundige en professor in die Sielkunde aan die US. Hierdie artikel is gedeeltelik gegrond op hul navorsingsartikel wat onlangs in die Journal for the Study of Spirituality verskyn het. Die skrywers is van mening dat hoewel dit moeilik is om spiritualiteit te definieer en op soveel verskillende maniere in ons samelewing ervaar en uitgeleef word, dit nie 'n hindernis moet wees om dit te bestudeer en die belangrikheid daarvan te bepaal nie. Klik hier om hul volledige artikel te lees.

  • Foto deur truthseeker08 by Pixabay.