
Opwinding wag by US Woordfees 2017
Die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees sal Donderdagaand (2 Maart) teen 'n dawerende spoed afskop met die Tuiskoms-program vir oud-Maties met allerlei aktiwiteite vir alumni – van lesings tot 'n pretdraf, rugby en gholf, met as hoogtepunt die Tuiskoms/Homecoming Classics op Coetzenburg waar musiek van Queen en Abba tot Barbra Streisand en Tina Turner met ʼn heerlike klassieke kleur gemeng sal word.
Saartjie Botha, Direkteur van die US Woordfees, "wys" – die tema van vanjaar se fees – talle items op die feeslys uit as persoonlike hoogtepunte vir haar. Sy sien veral uit na die boekgesprekke met onder andere Johan Miles en Ryk Hattingh, asook die bekende spotprenttekenaar Jonathan Shapiro.
"Wat toneel betref, kan ek nie wag vir Piekniek by Mpande (Dingaan), Martelsang, Sing jy van bomme (foto) en Wild nie. Die Coetzenburg-konserte is vanjaar baie ambisieus met Tuiskoms/Homecoming, die Heuwels Fantasties, die Big Band Jol, en Mango Groove is ook op my moenie-misloop-lys," sê Botha.
In die Jan Marais-natuurreservaat, wat vir die eerste keer vir die US Woordfees aangewend word, sal Emo Adams, Francois van Coke, Stef Bos en Theuns Jordaan optree.
"Wat klassieke musiek betref, is ek baie opgewonde oor Tim Kliphuis en sy trio wat optree, asook die eerste optrede vanjaar van die Universiteitskoor," vertel Saartjie.
Die klassiekemusiek-aanbiedings verg beslis vermelding, met konserte soos Hendrik Hofmeyr op 60 en die Stellenbosch Libertaskoor se Kaap Mzansi en beyond. Daar is ook die Orrelweek in die Moederkerk, die US Camerata, die US Kamerkoor, en die plaaslike internasionale ster-pianiste Nina Schumann en Luis Magalhães. En natuurlik moet 'n mens nie die US Simfonie-orkes misloop nie.
Diskoerse wissel van stimulerend tot insiggewend by RSG se Praat Saam, Beste Professor, die Frederik van Zyl Slabbert-diskoersreeks, en Geloof op die Markplein. Boonop is daar talle teatergesprekke.
Botha vertel opgewonde dat die aanbod van visuele kuns vanjaar besonder sterk is en almal moet beslis ʼn draai maak by die US Museum, die Hofmeyr-saal en GUS. Daar sal ook gereeld rondleidings van dié uitstallings wees. Kunswerke word ook verkoop by die PJ Olivier-kunssentrum, waaronder werke van die Stellenbosch Kunsvereniging en Stellenbosch Galery, en met opslaan-kunsuitstallings wat elke dag by die Plataan uitgestal word. Die Stellenbosch-opelugbeeldhouwerke sal besoekers aan die dorp met visuele kuns omring.
Volgens Botha maak die US Woordfees vanjaar vir die eerste keer gebruik van die Jan Marais-natuurreservaat waar opwindende, uiteenlopende kunstenaars as deel van die Sanlam Musiekfees sal optree.
"Wat die kaartjieverkope betref, staan ons tans op so 10% van die kaartjies voor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar en ons het net meer as 70 000 kaartjies reeds verkoop."
Is julle gereed vir die aanloop? " ʼn Mens probeer so goed as moontlik om voorbereid te wees en dit behels baie administrasie, maar jy is nooit 100% voorbereid op alles wat kan gebeur en kan skeefloop nie. Dit dra egter by tot die gevoel van afwagting. Ons kan nie wag vir 2017 US Woordfees nie," sê Botha.