Skip to main content
Navorsing help beroerte-pasiëte in landelike gebiede

Navorsing help beroerte-pasiëte in landelike gebiede

FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
01 Maart 2017

​Me Elsje Scheffler, ʼn PhD-student, het met haar doktorale navorsing ten doel om tuisgebaseerde sorg aan oorlewendes van ʼn beroerte in omgewings met beperkte bronne te bied.

Scheffler is ʼn fisioterapeut van Stellenbosch en ʼn buitengewone lektor verbonde aan die Sentrum vir Rehabilitasiestudies by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), Universiteit Stellenbosch. Sy het bykans R500 000 deur die Discovery Health Rural Fellowship Award ontvang om haar te help om ʼn tuisgebaseerde rehabilitasieprogram, wat gemeenskapsgesondheidswerkers bemagtig om rehabilitasiedienste op primêre gesondheidsvlak te bied, te ontwerp en te toets. Sy doen haar PhD deur die Departement Huisarts- en Noodgeneeskunde by die FGGW.

ElsjeScheffler_WEB.jpg

"Die meeste oorlewendes van beroertes ontvang nie enige rehabilitasiedienste nie en hul versorgers het dikwels geen opleiding ontvang oor hoe om vir hulle te sorg nie. Dít terwyl sulke oorlewendes tipies hoë vlakke van afhanklikheid toon," verduidelik Scheffler.

"Die gebrek aan opleiding van sorggewers, tesame met die beperkte kapasiteit van streeksrehabilitasiedienste en die kontekstuele hindernisse wat toegang tot rehabilitasiedienste beperk, perpetueer die oorlewende se afhanklikheid, asook die las op sorggewers en die gesondheidsorgstelsel."  

Ofskoon beroertes ʼn groot gesondheidsorgkwessie is in die Kaapse Wynlande, die landelike area waar Scheffler haar navorsing doen, is daar net 13 professionele rehabiliteerders in die distrik en geen rehabilitasieprogram vir beroertes op primêre vlak nie. Die 530 gemeenskapsgesondheidswerkers in die distrik het geen rehabilitasie-opleiding ontvang nie.

Vir haar PhD het Scheffler ʼn program ontwerp om die vaardighede van gemeenskapsgesondheidswerkers aan te vul deur die insluiting van basiese rehabilitasie-opleiding, wat hulle aan die sorggewers binne gesinne van beroerte-oorlewendes kan oordra. Die Discovery Health Rural Fellowship Award stel haar in staat om die lewensvatbaarheid van hierdie program te toets.

"Ek sou wou sien dat rehabilitasie beter geïntegreer en meer gepas binne die konteks van primêre gesondheidsorg en distriksgesondheidstelsels gelewer word om álmal in nood te bereik, en nie net ʼn uitverkore paar nie. In die lig van die gebrekkige navorsing op die gebied en die tekort aan gepaste programme, is daar ʼn behoefte om geskikte modelle van dienslewering en gefokuste rehabilitasieprogramme vir die primêre vlak te ontwikkel, asook om die rol van die professionele rehabiliteerder te ontwikkel en ondersteun,"sê Scheffler.

As dit eers gefinaliseer is, sal die rehabilitasieprogram en opleidingsbronne as ʼn gratis aanlynhulpbron beskikbaar wees wat afgelaai, vir konteks gewysig en as ʼn vrystaande program gebruik of in ander programme vir gemeenskapsgesondheidswerkers geïntegreer kan word.