
Hardop voorlees die grondslag van geletterdheid
Woensdag (5 Februarie) is Wêreld-hardopleesdag. In ʼn meningsartikel in Cape Argus voer dr Zelda Barends van die Departement Kurrikulumstudie aan dat deur hardop vir kinders te lees word hulle uitgelok om ook te lees en op die wyse word hul geletterdheidsontwikkeling aangehelp.
- Lees die artikel hier onder of klik hier vir stuk soos geplaas.
Nie 'n dag gaan verby waarin ons nie herinner word aan die uitslag van die 2016 PIRLS-studie (Progress in International Reading Literacy Study) wat getoon het dat 78% van alle graad 4-leerders in Suid-Afrika nie met begrip kan lees nie. Om dit eenvoudig te stel – agt uit elke tien kinders kan nie verstaan wat hulle lees nie. Dit beklemtoon die talle uitdagings wat ons in die gesig staar om leesgeletterdheid in die grondslagfase te ontwikkel.
Talle dapper instellings werk hard daaraan om blywende oplossing vir hierdie kwessie te vind. Baie geld word aan ingrypings wat lees en geletterdheid aanspreek, spandeer, maar maak hulle regtig vordering? Kinders kan nie met begrip lees nie en ten einde hierdie kwessie aan te spreek, moet ons eers verstaan wat dit beteken om te leer lees.
Navorsing toon dat die vermoë om te lees nie natuurlik ontwikkel nie. Om te leer lees is regtig moeilik. Dit vereis sekere kennis en vaardighede, maar klaarblyklik taalvaardighede wat spesifiek aangeleer moet word.
Om te lees verwys na die vermoë om woorde te ontsyfer en dan hierdie woorde te begryp. Om woorde te ontsyfer impliseer dat die leser fonemies bewus is, wat beteken dat hy/sy verstaan dat gesproke woorde uit individuele klanksegmente, genoem foneme, saamgestel is. Dit is ook 'n vroeë geletterdheidsvaardigheid wat van geboorte af ontwikkel namate die kind aan mondelinge taal blootgestel word.
Fonemiese bewustheid is egter nie dieselfde as geluidsleer oftewel fonetiek nie. Terwyl fonemiese bewustheidsvaardighede die vermoë om klanke ouditief deur uitdruklike instruksie in klankidentifikasie te manipuleer, bypassing, segmentasie en vermenging insluit, vereis fonetiek dat lesers klanke (foneme) met letters verbind.
Afgesien van die ontwikkeling van fonemiese bewustheid en die aanleer van foniese vaardighede, moet lesers ook vlotheid en outomatiese ontsyferingsvaardighede aanleer. Hierdie vaardighede sal ontwikkel as lesers fonemies bewus is en genoegsame kennis van fonetiek het. Vlotheid en outomatiese vaardigheid stel lesers in staat om woorde vinnig te herken. Wanneer hierdie vaardighede aangeleer is, kan lesers hul tyd en geheue gebruik om die inligting wat hulle deur lees en die verbinding daarvan met hul vorige kennis opgedoen het, te internaliseer en dit aan hul vorige kennis te verbind sodat hulle kan verstaan, wat die uiteindelike doel van lees is.
Begrip of verstaan vereis dat 'n leser visuele teks verwerk, die betekenis daarvan verstaan en dit met bestaande kennis integreer. Dit kan egter moeilik wees vir 'n leser wat sukkel om individuele woorde te verwerk of te herken. Eenvoudig gestel, indien 'n leser nie in staat is om woorde outomaties te herken nie, ervaar hulle 'n hindernis in hul leesvermoë, wat weer met hul vermoë om te verstaan wat gelees word, inmeng.
Goeie lesers is fonemies bewus, hulle verstaan dat 'n sistematiese verhouding tussen geskrewe letters en gesproke klanke bestaan en hulle pas sekere vaardighede vlot toe en beskik oor 'n gespierde woordeskat. Hulle kan ook wat hulle lees, met bestaande ervarings verbind. Enige moeilikheid met enige van hierdie punte kan leesontwikkeling strem.
Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die proses om te leer lees, reeds lank voor kinders formeel begin skoolgaan, begin. Daarom is dit noodsaaklik om geletterdheidservarings reeds van geboorte af en verder vorentoe te stimuleer, aangesien dit aan lesers 'n voordeel in die ontwikkeling van woordeskat gee, die grondslag vir die doelwitte van lees skep, en 'n bewustheid van gedrukte en geletterdheidskonsepte ontwikkel. Lesers by wie sulke ervarings ontbreek, kan in alle waarskynlikheid nie in lees uitblink nie. Dit is iets waarvan opvoeders kennis moet neem, aangesien daar bewyse is dat hulle leesontwikkeling kan aanwakker deur aan lesers onderrig te verskaf wat die konsep van die gedrukte woord, die doel van lees, ouderdoms-geskikte woordeskat en taalbegripsvaardighede, asook 'n bekendheid met die taalstruktuur, bevorder.
Om letters met klankte te verbind is iets waarmee talle lesers dikwels sukkel en dit is die bron van leesprobleme. Lesers wat dit ondervind, is huiwerig as hulle lees en hul lees word deur 'n gehakkel en veelvuldige uitspraakfoute gekenmerk. Wanneer hulle uitgevra word oor die betekenis van wat hulle gelees het, het hulle dikwels min te sê omdat hulle veels te lank neem om die woorde te lees, wat hul geheue beproef en min energie oorlaat om te onthou en te verstaan wat hulle gelees het.
Gegewe hierdie uitdagings, wat kan ons doen om ons kinders te help om reeds op 'n jong ouderdom met begrip te lees? Een van die goed wat ons kan doen, is om hardop vir hulle voor te lees, veral op Wêreld-hardopleesdag (5 Februarie).
Ons weet dat jong lesers baie by hardop voorlees baat. Hulle word aan die struktuur van stories blootgestel, hulle leer om te redeneer soos hulle ander kante van 'n storie sien of hoor.
Hardop lees bied ook geleenthede aan lesers om mense wat nie in hul onmiddellike omgewing is nie – byvoorbeeld mense van 'n ander etniese agtergrond of sosiale status – te leer ken. Lees en boeke bied ook 'n wonderlike geleentheid vir lesers om hul verbeeldings te ontwikkel.
Hardop lees is die grondslag van geletterdheidsontwikkeling, aangesien dit 'n demonstrasie van goeie leespraktyk en -vaardighede in aksie is. Dit openbaar die belonings van lees en ontwikkel 'n leser se belangstelling in boeke. Wisselwerking is ook 'n einddoel van hardop lees. Wanneer daar aan hulle voorgelees word, word lesers uitgelok om self beter lesers te word.
Terwyl ons Wêreld-hardopleesdag vier, moet ons ook mekaar daaraan herinner dat ons deur ons eie ingryping – ongeag hoe groot of klein – kan help om die leeskrisis in Suid-Afrika die hoof te bied.
*Dr Zelda Barends is 'n dosent in die Departement Kurrikulumstudies by die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.