
Verwelkomende kultuur en transformasie is nuwe FGGW-dekaan se prioriteite
Prof Elmi Muller, nuwe Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US), is vasbeslote dat álle FGGW-personeellede en -studente moet voel dat hulle welkom by die US is.
In die eerste van ʼn reeks oop gesprekke met personeellede en studente in Maart het Muller haar heelhartige steun vir die huidige transformasieproses by die US benadruk en gesê sy is van plan om op daardie visie voort te bou in die Fakulteit wat sy lei.
“Ek wil nie hê enigeen moet soos ʼn buitestaander voel op grond van hul ras, hul geslag of hul seksuele oriëntasie nie. Ek wil hê mense moet voel hulle word aanvaar, ongeag hul agtergrond," het Muller gesê. Sy het die FGGW se leisels in Januarie by prof Jimmy Volmink oorgeneem.
Muller – ʼn A1-gegradeerde navorser wat voorheen aan die stuur was van beide die Afdeling Algemene Chirurgie en die Oorplantingseenheid van die Groote Schuur-hospitaal en ook die eerste nieroorplantings van een MIV-positiewe mens na ʼn ander in die wêreld gedoen het – het ʼn bietjie oor haar agtergrond en haar visie vir die FGGW uitgewei.
Sy het personeellede en studente ook uitgenooi om vrae te vra, terugvoer te gee en idees te opper en bygevoeg sy sal tyd in haar dagboek oophou sodat mense haar kan kom sien. “As jy my wil sien, kom praat met my. Ek onderneem om te luister en ʼn beter begrip te probeer kry van wat op die grond aangaan. Dit is baie belangrik om regverdig te wees en aandagtig te luister."
In die gesprek met personeellede het sy haar toewyding tot leierskapsontwikkeling en die skep van meer geleenthede vir personeel bespreek. Sy het die belangrikheid van spanwerk in die Fakulteit benadruk. “Ek sou graag wou sien dat ons klinici, navorsers en administratiewe personeel almal vir ʼn beter toekoms werk, met gemeenskaplike doelwitte om aan pasiënte se behoeftes te voldoen en pyn en lyding weg te vat as ons kan, want dít is waaroor onderrig en leer gaan. Uiteindelik is die pasiënt ons kernbesigheid en dit is waar ons moet fokus."
Muller het gesê sy het gedurende ʼn onlangse institusionele beplanningsforum ʼn goeie idee gekry van wat die US vir die toekoms beplan. “Hierdie forum het ʼn hele dag opsy gesit om oor transformasie te praat."
Sy het bygevoeg dat ʼn gasspreker by die forum, Nicky Newton-King, haar in haar leierskapsfilosofie geïnspireer het. Newton-King is ʼn voormalige uitvoerende hoof van die Johannesburgse Aandelebeurs en het aan die US gegradueer.
“Toe sy oor diversiteit gepraat het, het Newton-King benadruk dat mense in ʼn plek wil werk waar hulle aanvaar word soos wat hulle is. Ek wil in ʼn inklusiewe Fakulteit daarop voortbou.
“Sy het tweedens gesê ons moet ons waardes élke dag van ons lewe uitleef; dat transformasie nie net iets is wat ons op die agenda plaas nie, maar dat dit deel moet wees van die daaglikse besluite wat ons om die tafel neem.
“Die derde ding wat sy benadruk het, was die kwessie van openheid en eerlikheid. Ons moet die geleentheid hê om eerlik te sê wat ons dink. Dit beteken nie ons mag nie van mening verander of dat ons nie na ander hoef te luister nie, maar die geleentheid om openlik en eerlik te wees en iets sonder oordeel oor te dra is ʼn deurslaggewende deel van transformasie.
“Laastens meen ek die sukses wat óns behaal sal direk verband hou met die sukses wat elkeen van júlle behaal," het sy personeellede meegedeel. “As ek aan die stuur van ʼn uitstekende Fakulteit met uitnemende uitkomste wil wees, moet ek na julle omsien en seker maak julle behaal jul doelwitte – of jy nou ʼn klinikus, ʼn navorser of ʼn lid van die ondersteuningspersoneel is. Uiteindelik sal julle sukses my sukses bepaal."
Onderwerpe van bespreking met personeellede het ingesluit die moontlikheid van buigsame ure vir werkende ma's op kampus; ʼn voorgestelde hersiening van beleid wat ondersteuningspersoneellede in staat stel om hul akademiese loopbane verder te voer; die skep van ʼn omgewing wat sensitief vir geslag, ras, taal en seksuele oriëntasie is; asook die moontlikheid van ʼn crèche en nasorgfasiliteite vir ouers wat op kampus werk.
Muller het gesê die kwessie van kindersorgfasiliteite is kompleks, omdat peilings getoon het personeellede se uiteenlopende behoeftes wissel van nasorg tot ʼn crèche en ʼn skool.
“Ons het dit moeilik gevind om presies te bepaal wat dit is wat ons nodig het."
In haar gesprek met studente het Muller het gesê die ontwikkeling van hul leierskapsvaardighede is van deurslaggewende belang. “Julle sal altyd beheer van ander mense of situasies neem ongeag waar julle in ʼn hospitaal werk. Leierskap word nie altyd in mediese skole onderrig nie."
Onderwerpe wat tydens die gesprek geopper is, sluit in die herstel en opgradering van die rekenaars buite die biblioteek; langer openingsure vir die biblioteek; asook beter fasiliteite vir studente van private organisasies tussen hul saalrondes en ander werkaktiwiteite. Die ontoereikende vergoeding van meestersgraadstudente met onderrigverantwoordelikhede is ook geopper, asook die lang werkure van interns en die ontoereikende tutorfonds. Studente het voorts ʼn tekort aan befondsing vir beurse en die behoefte aan sielkundige en psigiatriese dienste vir studente met geestesgesondheidskwessies uitgelig.
Muller het gesê die rekenaarkwessie, asook die langer openingsure van die biblioteek, is op die agenda. Sy het na ʼn paar maatskappye uitgereik om te hoor of hulle bereid is om rekenaars te skenk.
Oor die behoefte aan beradingsdienste het sy die FGGW se verbintenis tot die welstand van studente benadruk. “Ons wil dienste in plek stel om mense te help so ver as wat ons kan. Daar is reeds ʼn stelsel in plek vir mense wat hulp nodig het, maar ons kan nie verantwoordelikheid vir die volle omvang van hul behoeftes neem nie."
In antwoord op ʼn vraag oor die leeruitdagings van voorheen benadeelde studente, het Muller gesê meer moet gedoen word om seker te maak dosente is in staat en gewillig om inligting en kennis vir álle studente te vertolk.
“Namate ons ons transformasie-agenda bevorder en verskillende mense ons Fakulteit binnekom, insluitende diegene vir wie Engels nie hul eerste taal is nie … dis nie genoeg om hulle net daar te sit nie. Dit gaan ook daaroor om na die prosesse om te sien. Ons moet hieroor nadink en dit probeer takel. Dis ʼn onderwerp wat heelwat nadenke verg omdat dit ook oor die institusionele kultuur gaan … en in watter mate dít wat ons wil doen ondersteun word deur diegene wat onderrig."
Muller het gesê sy gaan aandag aan die kwessie gee en seker maak personeellede is daartoe verbind om álle studente by te staan. “Ek kan my net indink hoe moeilik dit is om van ʼn verafgeleë hoërskool te kom en jou skielik midde-in ʼn studentegemeenskap en die volgepakte program van die kampus te bevind."
Muller het haar eerste drie maande as Dekaan as “wonderlik" beskryf. “Hierdie Fakulteit het ongelooflike, vriendelike, welmenende mense wat wil saamwerk en sukses nie net vir hulleself nie, maar ook vir die groter span wil behaal. Ek sien dit, waardeer dit en ek voel baie bevoorreg om in hierdie posisie te wees."