
#USjeugdag: ‘Moet nooit jou drome laat vaar nie’
Vir dramastudent, John Graayenstein, is die feit dat hy bloot homself kan wees en sy hart kan uitsing, die ding wat hy die meeste van die Universiteit Stellenbosch Koor geniet.
In die maand waarin Jeugdag gevier word, plaas ons die kollig op agt lede van die Universiteitskoor – een uit elke stemgroep. Tesame met meer as 'n 100 ander lede uit diverse agtergronde, kulture en studierigtings, en onder die leiding van koorleier, André van der Merwe, bekoor hulle gehore regoor die wêreld met hul enigsoortige klank.
John het 'n tydjie afgeknyp en 'n paar vrae beantwoord:
Vertel ons 'n bietjie meer oor jouself, en hoe jy deel van die US Koor geword het.
My naam is John Joseph Graayenstein, en ek het 'n tweelingsuster, Joy. Ek geniet dit om te sing en musiek te komponeer, en het 'n groot passie vir musiekteater en drama. Ek is in Grahamstad gebore, maar toe ek baie klein was, het ons Kaapstad toe verhuis, waar ek sedertdien bly.
Ek is tans besig met tweedejaar BA Drama en Teaterstudies en ek geniet elke oomblik daarvan. Om vir die US Koor te oudisie was eintlik iets wat ek op die ingewing van die oomblik gedoen het, en dit was een van die beste besluite wat ek nog gemaak het. Aan die begin van 2020 het die koor 'n ekstra eerste tenoor nodig gehad, en ek, 'n eerstejaar vars uit die hoërskool, was op die regte plek op die regte tyd. 'n Goeie vriend het my van die ongelooflike geleentheid vertel en ek het dieselfde dag nog 'n oudisie gedoen. Binne 24 uur het ek die fantastiese nuus gekry dat ek vir die koor aanvaar is. Dit was 'n wonderlike dag!
Wat geniet jy die meeste van die koor?
My gunstelingding van die koor is dat ek eenvoudig myself kan wees en my hart kan uitsing. Ek besef wat 'n voorreg dit is om 'n verhoog te deel met mense wat net so groot passie vir musiek en sang het. Daar is nie woorde om te beskryf hoeveel vreugde die koor vir my bring nie. Ons is 'n familie en dit opsigself is 'n voorreg en 'n seën. Ek ag myself gelukkig om deel van hierdie musikale familie te wees.
Met die oog op Jeugdag, wat is jou boodskap van hoop vir ander jongmense?
My boodskap vir die jeug is dat ons net een lewe het en dat dit belangrik is om elke oomblik te laat tel. Werk hard en droom groot. Weet ook dat dit menslik is om te val, maar dat dit selfs meer belangrik is om op te staan en weer te probeer. Hou aan probeer, en moet nooit opgee of jou drome laat vaar nie
Wat is jou gunstelinglied op die oomblik?
My gunstelinglied op die oomblik is die mooi gesang, 'Blye versekering, Jesus is myn." Ek sing dit wanneer ek tussen klasse beweeg. Dit is so lekker om so 'n lied te sing wanneer jou hart daarna vra. Dit maak my hart gelukkig, regtig!