Skip to main content
US-stories in die kollig op Woordfees TV

US-stories in die kollig op Woordfees TV

Naude van der Merwe
01 Oktober 2021

'n Viool van inheemse Afrika-hout, 'n para-atleet met groot drome en 'n kykie na die geskiedenis en toekoms van Pinotage. Dié drie stories, elk met 'n uiteenlopende oorsprong, vorm deel van vanjaar se Woordfees-program, wat vanjaar van 1 tot 7 Oktober op DStv kanaal 150 uitgesaai word.

Die insetsels is deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking vervaardig en skyn die kalklig op 'n verskeidenheid van die US en Stellenbosch-omgewing se bedrywighede.

Dit is in 'n geselsprogram-styl verfilm, met Vicky Davis, 'n US-alumna, aktrise en TV-aanbieder bekend vir programme soos 7de Laan en Pasella, as aanbieder.

Davis sê dit was wonderlik om by die projek betrokke te wees. “Dis altyd goed om Stellenbosch te besoek en eerstehands die baanbrekerswerk en projekte te sien waarmee verskillende departemente by die US besig is. Maar dit was veral lekker om die mense agter die skerms te ontmoet, juis omdat ons die afgelope jaar grootliks van mense afgesonder is," sê Davis.

“En," voeg sy met verwysing na Die storie van Pinotage by, “dis nooit sleg om navorsing op wynplase te gaan doen nie!"

Die eerste insetsel, Inheemse hout speel eerste viool, fokus op die Departement Bos- en Houtkunde se projek om inheemse Afrika-hout te toets vir klankgehalte. Die houtkundige prof Martina Meincken, self 'n musiekliefhebber, het die projek van stapel gestuur. Die kameraspan het 'n draai by haar departement, asook die Departement Musiek gemaak om uit te vind hoe die instrument klink.

Joshua van Staden, 'n teologie-student en 'n atleet by die Eenheid vir Hoëprestasiesport, se storie word in Aanhouer wen vertel. Van Staden hou tans die Suid-Afrikaanse rekords in gewigstoot en spiesgooi in die F41-kategorie vir atlete wat klein is van postuur. Davis praat met hom oor sy grootwordjare, kuier by sy ma in Athlone in Kaapstad, en sien hom in aksie op die oefenveld by Coetzenburg.

En laastens, in Die storie van Pinotage, gesels rolspelers in die Pinotage-bedryf – van Beyerskloof, Lanzerac en ook die US se Departement Wingerd- en Wynkunde – oor die terugslae en hoogtepunte van dié unieke Suid-Afrikaanse kultivar deur die jare, en wat die toekoms moontlik inhou. En natuurlik word die wyn, gemaak van ʼn nuwe druifsoort wat Prof Abraham Izak Perold van die US byna 100 jaar gelede in sy tuin geskep het, ook geproe.

Die insetsels is elk tussen 7 en 9 minute lank.

Die Toyota US Woordfees word vanjaar in 'n nuwe formaat uitsluitlik op TV aangebied, maar soos met vorige jare beloof dit om 'n hoogtepunt vir teater-, musiek- en kunsliefhebbers te wees. Dit het ook vanjaar 'n leefstyl-komponent.

Klik hier vir nog inligting. Uitsaaidatums en -tye (sien hieronder) is onderhewig aan verandering.

Inheemse hout speel eerste viool

  • Sa. 2 Oktober, 08:54
  • So. 3 Oktober, 17:51

Aanhouer wen

  • Ma. 4 Oktober, 08:03

Die storie van Pinotage

  • Ma. 4 Oktober, 14:24