
PhD-gegradueerde vind leer en liefde – by die US
Jabulani Shaba, wat in Zimbabwe gebore is, het na die Universiteit Stellenbosch (US) gekom vir ʼn nagraadse graad in geskiedenis, maar het soveel meer gekry. Shaba se doktorsgraad word vandeesweek (Maandag, 25 Maart) aan hom toegeken, enkele dae ná sy huwelik met Deveney Manuel, ook ʼn nagraadse geskiedenisstudent in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.
Shaba het die groot vraag in Desember verlede jaar by die Val du Charron-wynlandgoed in Wellington gevra, die dag nadat hy sy PhD suksesvol verdedig het. “Sy het dit nie sien kom nie en haar familie het ook die geheim bewaar. Toe ek op die punt was om op een knie af te sak, het ek haar volle naam gesê en het sy begin huil."
Hulle het ontmoet toe Manuel, wat van Wellington in die Wes-Kaap kom, aan haar honneurs-proefskrif gewerk het. Shaba erken dat dit nie maklik was om aan sy doktorsgraad te werk terwyl hy in ʼn ernstige verhouding was nie, maar die ondersteuning van sy toekomstige vrou was van onskatbare waarde. “Tydens oomblikke van uitbranding was my maat daar om my te troos en my in die pylvak aan te moedig." Shaba voeg by dat as hy ʼn digter was, hy Manuel sou beskryf as “ʼn vergestalting van geduld, vriendelikheid en begrip; ʼn oase van liefde wat my dors geles het en ʼn skouer om op te leun."
Hy spot dat haar ondersteuning veral nodig was tydens oomblikke van “intense terugvoer" van sy studieleier, prof Sandra Swart. Swart, Voorsitter van die Departement Geskiedenis en studieleier van beide dié studente, sou sê: “Jabulani, dit is beter om tydens opleiding te sweet as om in gevegte te bloei." Sy was ʼn groot mentor en inspirasie vir ons albei, voeg Shaba by.
ʼn Verheugde Swart het ʼn toespraak by die egpaar se troue gelewer en toe sy die storie van haar nagraadse liefdesduifies vertel het, het sy gesê: “Een van my gunsteling-skrywers, Kurt Vonnegut, het gesê: 'Geskiedenis is bloot ʼn lys verrassings. Dit kan ons net voorberei om weer verras te word.' Wel, stel jou my verrassing voor – wel, my vreugdevolle verrassing – toe hulle verloof geraak het."
Shaba se navorsing het gefokus op die sosio-omgewingsgeskiedenis van vroue in die ambagsgefokusde goudmynboubedryf in Zimbabwe tussen 1932 en 2021. Deur die verhale van vroue in hierdie mynnedersettings te rekonstrueer, dra sy werk tot vakkundigheid oor mynarbeid en geslagtelike hulpbronpolitiek in Suider-Afrika en verder by.
Hy sê hy het die US vir sy doktorale studies gekies weens “die diversiteit en multikulturele omgewing". Hy voeg by dat hy lief is vir dié Bolandse dorp met sy “verfrissende natuur, die rustigheid in die berge en die baie plekke om koffie te drink. MOOD Coffee Bar is ʼn besliste gunsteling.
Die egpaar vertrek binnekort na Nederland, waar Shaba ʼn postdoktorale navorserpos aan die Universiteit van Groningen sal beklee.
Foto: Curt Ruiters