
Maties HP het groot planne vir 2016
USSA- en Varsity Sports-titels. Dit is waarop die Maties Hoëprestasie-eenheid (HP-eenheid) in 2016 gaan fokus.
Die Varsitybeker-rugbyreeks begin op 8 Februarie. In April is dit tyd vir die Varsity Sewes-toernooi en kort daarna sal die Steinhoff Maties-manshokkiespan aan die Varsity Hokkie-reeks deelneem.
Varsitybeker-bepalings: 8 FEBRUARIE – Maties t KUT (tuis); 15 FEBRUARIE – NMMU t Maties (weg); 22 FEBRUARIE – Maties t Tukkies (tuis); 29 FEBRUARIE – UJ t Maties (weg); 7 MAART – Maties t Shimlas (tuis); 14 MAART – Maties t Ikeys (tuis); 21 MAART – Pukke t Maties (weg).
Sean Surmon van die HP-eenheid het gesê daar is groot verwagtinge, maar daar word hard gewerk om seker te maak die spanne en spelers is toegerus om hul doelwitte te bereik.
“Dit is inderdaad ‘n baie belangrike jaar vir Maties Sport met spesiale verwysing na ons Olimpiese en Paralimpiese atlete asook ons voortdurende strewe na sukses in universiteitekompetisies.
"Elke atleet en ook ons fokus-sportkodes word ondersteun deur Maties Sport se mediese en wetenskaplike ondersteuningsprogramme, met 'n fokus op gesondheid, prestasie-bevordering en die holistiese ontwikkeling van ons atlete. Dit gaan ‘n uitsonderlike jaar wees en ons is baie opgewonde.”
Die eerste Varsity Sports-toernooi van die jaar was verlede week se Varsity Krieket-toernooi in Potchefstroom. Steinhoff Maties – wat verlede jaar in die eindstryd gespeel het – was vyfde.