Skip to main content
Groter samewerking tussen reguleerders kan misbruik van internetoorheersing bekamp

Groter samewerking tussen reguleerders kan misbruik van internetoorheersing bekamp

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
16 Maart 2022

Tegnologiereuse soos Google, Facebook en Amazon het in Amerika én Europa in die spervuur beland omdat hulle hul oorheersing van die mark misbruik en anti-mededingende praktyke gebruik. Dit is dus nie verbasend dat wetgewers regulasies voorgestel het om hulle in toom te hou nie. Ons mededingingswetgewing in Suid-Afrika is – in beginsel – robuus genoeg om die uitdagings wat internet-monopolieë se misbruik van oorheersing inhou te hanteer, sê die regskundige, dr Pieter Koornhof, wat onlangs sy doktorsgraad in Handelsreg aan die Universiteit Stellenbosch behaal het. Die titel van sy doktorale proefskrif was Abuse of Dominance and the Internet: An assessment of the South African Regulatory Framework.

Die doel van Koornhof se studie was om te probeer bepaal of die tradisionele model vir die regulering van die misbruik van oorheersing doeltreffend sou wees in die geval waar 'n internetmonopolie van 'n oortreding ingevolge die Suid-Afrikaanse Wet op Mededinging aangekla word.

“Namate die stappe wat teen Google, Facebook en Amazon geneem is, al hoe meer relevanter word vir die Suid-Afrikaanse regs- en handelslandskap, het dit duidelik nou tyd geword om te bepaal of om ons mededingingswetgewing robuus of aanpasbaar genoeg is om internetmonopolieë se misbruik van oorheersing te hanteer."

Hy voeg by dat talle van ons normale aannames oor hoe om oorheersing en misbruik te definieer, in 'n ruimte sonder grense soos die internet, waar goedere en dienste soms heeltemal anders gemonetiseer en versprei word, verander.

Koornhof sê die voorwaardes vir die misbruik van oorheersing in die Suid-Afrikaanse Wet op Mededinging, 1998 (Wet 89 van 1998), saam met die breë raamwerk vir toepassing, is voldoende om sake wat met die internet verband hou te hanteer wanneer dit ook al mag opduik. Hierdie sake sal onder meer uitsluitende praktyke rondom die lisensiëring van bedryfstelsels, prysmodelle vir toepassingswinkels, die gebruik van data vir prys-/produkdiskriminasie, ensovoorts insluit.

“Op die oog af is daar geen wetgewende hindernis vir die regulering en doeltreffende hantering van misbruik van oorheersing (of selfs ander vorme van antimededingende optrede) wat met die internet verband hou nie.

“Artikel 8 van die Wet reguleer oor die algemeen uitbuitende en uitsluitende praktyke, terwyl Artikel 9 prysdiskriminasie reguleer." 

Volgens hom hoef die wet nie verander te word om internetmonopolieë te reguleer nie – in elk geval nie vir nou nie.

“Ingrypende veranderinge aan die Wet op Mededinging om vir die regulering van digitale mededingingsake voorsiening te maak, is waarskynlik nie tans nodig nie.

“Ons moet eerder beter verstaan hoe hierdie maatskappye funksioneer en hoe markte werk sodat ons misbruikende praktyke beter kan identifiseer en reguleer wanneer hulle voorkom. Die Suid-Afrikaanse mededingingsowerhede het 'n behoefte daaraan om beter te verstaan hoe tegnologie 'n uitwerking op markte en firmas se gedrag het.

“Gegewe die genoemde doelwitte van die Wet op Mededinging en die moontlike uitwerking op gebruikers se welstand en die ontwikkeling van elektroniese handel in Suid-Afrika, kan daar ook geredeneer word dat verdere ontleding van hierdie ontluikende kwessie 'n hoë prioriteit vir ons mededingingsowerhede moet wees."

Volgens Koornhof moet lande saamwerk om beter regulering te verseker omdat “die kwessie van hoe om mededinging op die internet die beste te hanteer, asook die negatiewe uitwerking van onbehoorlike of roekelose regulering, 'n werklikheid is.

“Gegewe die grootte en aard van sommige sogenaamde internetmonopolieë, is daar 'n duidelike behoefte aan koördinering en samewerking tussen lande om doeltreffende regulering en gevolglike toepassing van enige bevindings van antimededingende gedrag te verseker."

Hy sê veral lande waar hierdie kwessie die algemeenste voorkom, moet leer om doeltreffend saam met ander te werk om hierdie praktyke te reguleer.

Koornhof voeg ook by dat mededingingswetgewing beslis suksesvol was wat betref die bevordering van verbruikerswelstand en regverdige mededinging, maar namate tye en sakepraktyke verander, kan dit nie in 'n vakuum opereer nie. Daarom is daar 'n behoefte aan groter samewerking tussen reguleerders op plaaslike én internasionale vlak.