
Fokus en wees dáár in die oomblik, sê ontvanger van Rektorstoekenning
Alexander O'Riordan kan aan niks meer bevredigend dink as om sy hoofstuk by die Universiteit Stellenbosch (US) met 'n 2021 Rektorstoekenning vir Uitnemende Prestasie af te sluit nie.
O'Riordan, een van die 82 ontvangers van die jaarlikse toekenning, is onlangs in die kategorie vir topmeesterstudente vereer. Die toekennings gee erkenning aan en vier die prestasies van studente op die volgende gebiede: akademie, sport, leierskap, sosiale impak, kultuur en diensverskaffing.
Die boorling van Houtbaai wat 'n Meestersgraad in die Ekonomie ontvang het, sê hy is uiters gelukkig om die Rektorstoekenning te ontvang.
“Dit is 'n goeie manier om my tyd op Stellenbosch af te sluit. Dit is vir my 'n aanduiding dat ek my passie nagestreef het en die regte keuse gedoen het om by die US te kom studeer. Dit is boonop ook die verwesenliking van 'n droom en die perfekte hoogtepunt ná al my harde werk die afgelope paar jaar."
Oor die geheim vir sy sukses het hy die volgende te sê: “Ek dink ek was gelukkig. Ek het geniet waarmee ek besig was, so dit nie soos harde werk gevoel nie. Ek het ook gevind dat ek akademiese begin uitblink het nadat ek 'n holistiese leefstyl ontwikkel het. So moenie net daarop fokus om hard te leer nie. Spandeer tyd saam met jou vriende, ry af Strand toe om te gaan branderplank ry, gaan doen rotsklim, werk as 'n vrywilliger, doen 'n deeltydse internskap en spandeer tyd by die Universiteit se LauchLab."
O'Riordan gee sy ma al die eer vir sy werksetiek.
“My ma is 'n inspirasie vir my. Sy het as 'n enkelouer met twee klein kindertjies voltyds gewerk terwyl sy rekeningkunde gestudeer het. Ons het elke paar maande van die een klein woonstelletjie na die volgende plek in Houtbaai getrek, totdat ons uiteindelik tot 'n huis in die heuwels van Somerset-Wes, omring deur van die beste skole in die land, gevorder het. Ek het hard gewerk en probeer om goed te doen om vir my ma te wys dat al haar inspanning en opofferings die moeite werd was," sê hy.
O'Riordan, wat in November vanjaar voltyds by 'n internasionale ekonomiese raadgewende firma begin werk, hoop om opgang te maak in die risikokapitaalbedryf.
“Ek het myself met deeltydse deelname aan die risikokapitaalgebied besig gehou, asook met akademiese navorsing. Ek hoop dat ek 'n gewaardeerde lid van die risikokapitaal- en privaatekwiteitsbedryf in Afrika sal word. Ek wil uiteindelik help om ekostelsels vir beginnersondernemings in Afrika, asook die breër ekonomie, te ontwikkel.
Sy raad aan huidige studente is: “Fokus en wees dáár in die oomblik, ongeag waarmee jy op daardie oomblik besig is. As jy byvoorbeeld besig is om 'n opstel te skryf, moet dit die enigste ding wees waarop jy fokus en waaraan jy dink. Wanneer jy saam met jou vriende uitgaan of in die berg gaan draf, moet jy weer glad nie aan werk dink nie."
Klik hier om meer te lees oor die Rektorstoekennings en die ontvangers.
* Altesaam 82 van die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente is onlangs met Rektorstoekennings vir uitnemendheid op die gebied van die akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en dienslewering vereer. Ons sal in die komende weke sommige van die wenners bekend stel.