Skip to main content
A view of the Stellenbosch campus photographed on a sunny day.
Image by: Stefan Els

Die Universiteit Stellenbosch het goed vertoon op die 2026 Times Higher Education se Wêreldranglys van Universiteite per vak.

Institusionele nuus

US onder wêreld se voorste hoëronderwysinstellings in verskeie vakgebiede

Alec Basson
21 Januarie 2026
  • Die US verskyn op 2026 Times Higher Education se Wêreldranglys van Universiteite per vak.
  • Tel steeds onder voorste hoëronderwysinstellings wêreldwyd in verskeie vakgebiede.
  • Vertoon goed in Lettere en Geesteswetenskappe, Geneeskunde en Gesondheid, Opvoedkundestudie, Regte, Lewenswetenskappe, Sosiale Wetenskappe, Sielkunde, Besigheid en Ekonomie, en Ingenieurswese.

Met die nuwe akademiese jaar wat binnekort begin, is dit welkome nuus dat die Universiteit Stellenbosch (US) steeds onder die voorste hoëronderwysinstellings wêreldwyd in verskeie vakgebiede tel — van Lettere en Geesteswetenskappe tot Geneeskunde en Gesondheid (voorheen Klinies en Gesondheid), Opvoedkundestudie (voorheen Opvoedkunde), Regte, Ingenieurswese, Lewenswetenskappe en Sosiale Wetenskappe.

Dít is volgens die 2026 Times Higher Education (THE) se Wêreldranglys van Universiteite per vak (THE WUR) wat Woensdag (21 Januarie 2026) vrygestel is.

Die US is onder die wêreld se top 175 in beide Regte en Medies en Gesondheid, top 200 in Opvoedkundestudie, top 250 in Lettere en Geesteswetenskappe, top 300 in Sosiale Wetenskappe, top 400 in beide Sielkunde en Lewenswetenskappe, en top 500 in Besigheid en Ekonomie, en Ingenieurswese.

In Suid-Afrika is die US gesamentlik tweede in Medies en Gesondheid (met die Universiteit van die Witwatersrand), Ingenieurswese (met die Universiteit van die Witwatersrand), en Lewenswetenskappe (met die Universiteite van die Witwatersrand en Pretoria). Dit is die alleen-bekleër van die derde plek in Lettere en Geesteswetenskappe en Opvoedkundestudie, en deel dieselfde posisie in Sielkunde met die Universiteit van die Witwatersrand en die Noord-wes Universiteit, en in Rekenaarwetenskap met die Universiteite van Kaapstad, Witwatersrand, Pretoria en die Noord-wes Universiteit.

Die instelling is algeheel onder die top 300 universiteite ter wêreld in vyf van die 11 vakkategorieë op die THE WUR-lys. 

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Internasionalisering, het in reaksie op die US se jongste prestasie gesê die instelling streef daarna om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees, wat wêreldwyd erken word vir uitnemendheid, inklusiwiteit en innovasie, en wat kennis tot voordeel van die samelewing bevorder. “Ons is trots op ons akademici en ondersteuningsdienste wat uitnemendheid in alles wat hulle doen nastreef. Dit verseker dat ons ons leer-, onderrig- ​​en navorsingsagenda uitvoer en ons graduandie-uitkomste en -eienskappe verbeter.”

Aanwysers

Die vaktabelle gebruik dieselfde reeks van 18 prestasie-aanwysers wat in die algehele THE-wêreldranglys 2025 gebruik word. Dit word dan gekombineer om tellings onder die vyf kategorieë onderrig (onderrigreputasie, student-tot-personeel-verhouding, doktorsgraad-tot-baccalaureus-verhouding, doktorsgraad-tot-personeel-verhouding en institusionele inkomste), navorsingsomgewing (navorsingsreputasie, inkomste en produktiwiteit), navorsingsgehalte (aanhalingsimpak, navorsingsterkte, navorsingsuitnemendheid en invloed), internasionale uitkyk (internasionale personeel, studente en mede-outeurskap), en bedryf (inkomste uit bedryfsvennootskappe en patente) te verskaf. Elke vak se rangordemetodologie word herkalibreer om unieke akademiese kulture te weerspieël, met die gewigte wat verander is om by die individuele velde te pas.

Voortgesette uitnemendheid

Die US het die afgelope paar jaar gereeld op die Times Higher Education-wêreldranglys vir vakke, QS- wêreldranglys volgens vak en die Sjanghai-ranglys se wêreldranglys van akademiese vakke verskyn. Hierdie ranglyste gebruik almal verskillende metodologieë en aanwysers om universiteite se posisie op hulle ranglys te bepaal.

Verwante stories