Navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) se CoCREATE-gesondheidshub ('n nis in die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid) en die Internasionale Sterrekundige Unie se Kantoor vir Sterrekunde vir Ontwikkeling (IAU OAD) is besig om bloot te lê hoe sterrekyk-ervarings stres kan verminder, gemoedstoestand kan verbeter en sosiale verbintenis kan versterk.
Onder die Suidelike hemelruim: Hoe sterrekyk geestesgesondheidsnavorsing in SA rig
- Sterrekyk verminder simptome van depressie en verbeter gemoedstoestand.
- Versterk sosiale verbintenis.
- Doeltreffend in gebiede met beperkte toegang tot geestesgesondheidsorg.
Terwyl geestesgesondheidsuitdagings regoor Suid-Afrika toeneem, draai 'n baanbrekersnavorsingsprojek na 'n onverwagte bondgenoot: die naghemel.
Navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) se CoCREATE-gesondheidshub ('n nis in die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid) en die Internasionale Sterrekundige Unie se Kantoor vir Sterrekunde vir Ontwikkeling (IAU OAD) is besig om bloot te lê hoe sterrekyk-ervarings stres kan verminder, gemoedstoestand kan verbeter en sosiale verbintenis kan versterk.
Met byna 40% van Suid-Afrikaners wat simptome van depressie of angs toon, is innoverende en toeganklike benaderings tot geestesgesondheid dringend nodig. Die baanbrekerprojek, Astronomy for Mental Health (Astronomie vir Geestesgesondheid), is die eerste van sy soort in Suid-Afrika wat wetenskaplik ondersoek hoe ontsag, verdieping in die natuur en "kosmiese perspektiefwaarneming" emosionele welstand beïnvloed.
Om die nagruim in 'n geestesgesondheidshulpmiddel te omskep
Die projek, gelei deur prof Lynn Hendricks, dr Therese Fish en Nikki Thomas van die US, saam met mnr Dominic Vertue, dr Charles Takalana en mnr Kevin Govender (IAU-OAD), ondersoek hoe gestruktureerde sterrekyksessies – van plaaslike gemeenskapsbyeenkomste tot oornag-sterrekunde-wegbreeksessies – geestesgesondheid kan ondersteun.
Volgens die navorsers bou dit voort op Kaplan se Aandagherstelteorie, wat verduidelik hoe natuurlike omgewings, veral dié wat ons sintuie op 'n sagte manier betrek, die verstand help om van moegheid te herstel. Die nagruim, wyd en rustig, bied wat navorsers "sagte fassinasie" noem: 'n moeiteloos vorm van aandag wat duidelikheid en perspektief herstel.
Wêreldwye bewyse toon toenemend dat ontsagwekkende ervarings breinareas aktiveer wat aan emosionele regulering gekoppel is, kortisolvlakke verlaag en 'n gevoel van kalmte herstel. Die navorsingspan glo die nagruim bied 'n unieke kragtige weergawe van hierdie uitwerking.
Die span stel veral in die "oorsigeffek" – 'n verskynsel wat deur ruimtevaarders beskryf word dat, wanneer hulle die Aarde vanuit die ruimte sien, hulle 'n diepgaande verskuiwing in bewustheid en verbintenis met die mensdom ervaar – belang. Deur gewone mense uit te nooi om op te kyk en oor hulle plek in die kosmos te besin, hoop die navorsers om soortgelyke gevoelens van kalmte, dankbaarheid en samehorigheid hier op Aarde aan te wakker.
Voorlopige resultate: vroeë bevindings van Sutherland
Veertien gesinne van uiteenlopende agtergronde het onlangs in Sutherland, die tuiste van sommige van die wêreld se donkerste nagruimtes en die ikoniese Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT), aan 'n begeleide sterrekunde-naweek, georganiseer deur die US se CoCREATE-gesondheidshub en IAU-OAD, deelgeneem. Deelnemers het die Karoo-landskap verken, Saturnus se ringe, die kraters op die maan en die Melkweg waargeneem en aan nadenkende gesprekke langs die vuur deelgeneem.
Voorlopige resultate toon dat sterrekykery onmiddellik simptome van depressie verminder en deelnemers se bui verbeter het. Deur 'n kombinasie van selfverslagvraelyste, reflektiewe joernaalvoering, onderhoude en fokusgroepe te gebruik, het die span 'n konsekwente patroon
opgemerk: Deelnemers het 'n afname in gevoelens van angs en neerslagtigheid binne 24 uur ná die sterrekyk-ervaring aangemeld.
"Indien die uitwerking net oor ontsnapping of rus gegaan het, sou ons 'n soortgelyke reaksie na enige naweekbreek verwag het," sê Hendricks. "Wat ons egter vind, is dat die kosmiese element, die uitgestrektheid, die ontsag, 'n duidelike verskuiwing skep. Dit kalmeer nie net mense nie. Dit verander hoe hulle oor hulleself en hulle plek in die wêreld dink."
Vroeë resultate is belowend:
· Deelnemers het binne 24 uur minder angs en ’n beter gemoedstoestand ervaar.
· Baie het 'n "geestelike wydheid" beskryf, 'n kalm en nie-oorvol verstand met ruimte om emosies en inligting beter te verwerk sonder om oorweldig te voel.
· Sommige het 'n blywende perspektief oor die lewe en doel aangemeld.
· Gesinne het groter samehorigheid en betekenisvolle, afleidingsvrye verbintenisse aangemeld.
Een deelnemer het in 'n opvolg-nadenke die volgende opgemerk: "Ek sien steeds die Melkweg wanneer dinge swaar voel. Dit herinner my daaraan dat my probleme nie oneindig is nie."
Volgens Fish, Vise-Dekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, vul die inisiatief 'n belangrike leemte: "Ons skep deur hierdie samewerking nuwe maniere vir mense om genesing buite kliniese omgewings te vind. Gesinne vind nie net mekaar weer nie, maar vind ook aanklank by die omgewing en ontdek weer 'n gedeelde gevoel van menslikheid."
Govender, Direkteur van die OAD, voeg by: "Sterrekunde het ons nog altyd genoop om groot vrae te vra. Nou leer ons dit kan ons ook help om saam met hulle te sit, stil, saam, onder dieselfde hemelruim."
Wat van belang is, is dat die navorsers tot die gevolgtrekking kom dat sterrekykery veral doeltreffend is in gebiede met beperkte toegang tot geestesgesondheidsorg: Dit is gratis, kultureel universeel en vereis minimale toerusting.
Volgende stappe
Die projek duur tot 2029 en sal uitbrei om jeugprogramme, stedelike sterrekykkringe, asook sielkundige én fisiologiese metings in te sluit. Navorsers sal ervarings oor verskillende omgewings heen vergelyk – van stedelike agterplase tot in die diep duisternis van Sutherland – om 'n beter begrip te kry van hoe en waarom sterrekunde geestesgesondheid beïnvloed.
Die navorsers beplan om teen die einde van 2025 'n referaat oor die voorlopige resultate in te dien.
Die navorsing is deur die Sosiale, Gedrags- en Opvoedkundige Navorsingsetiekkomitee van die Universiteit Stellenbosch goedgekeur.