US tree in vir eksterne dienswerkers
Die Universiteit Stellenbosch het aan die einde van 2015 met dienswerkers en studente 'n ooreenkoms bereik, en is stelselmatig besig om die ondernemings wat gemaak is, te implementeer.
Die onderbou van hierdie ooreenkoms is die Universiteit se aandrang op menswaardigheid. In hierdie verband sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier: "Vir ons is die fundamentele kwessie menswaardigheid. Ons beskou dit as ononderhandelbaar, en ons verwag van ons eksterne diensverskaffers om hierdie waarde te onderskryf. Ons wil nie geassosieer word of ooreenkomste sluit met enige diensverskaffer wat nie op die menswaardigheid en welwees van sy werkers ag slaan nie." Die US is ook daartoe verbind om die verskillende eksterne diensverskaffers waar nodig te ondersteun om te verseker dat al hulle werkers wat dienste op universiteitskampusse lewer met menslikheid behandel word.
As deel van die ooreenkoms het die Universiteit Stellenbosch:
- onmiddellik 'n moratorium geplaas op alle nuwe vorms van uitkontraktering;
- 'n eenmalige betaling van R2 000 gemaak aan alle werkers van eksterne diensverskaffers wat op universiteitskampusse geplaas was en deur die protesaksie geraak is. Hierdie proses is teen die einde van Desember 2015 afgehandel.
- onderneem om van Maart 2016 'n subsidie aan uitgekontrakteerde werkers op ons kampusse te betaal wat tans minder verdien as R5 000 per maand (koste vir die maatskappy/cost to company). Die subsidie sal pariteit verseker met die 2016-minimumtoetreevlak van R5 000 per maand (koste vir die maatskappy) vir 'n US-werknemer. Hierdie proses is aan die gang.
- 'n onafhanklike hulplyn geskep waar werkers klagtes kan aanmeld, wat die US dan direk met die onderskeie werkgewers sal opneem;
- 'n eksterne fasiliteerder aangestel om die Welwees-kantoor by te staan met onderhoude met voormalige werknemers van die US wat sedert 1994 uitgekontrakteer is. Die oogmerk is om werkers die geleentheid te gee om die impak van die uitkontraktering op hul lewens en die verwante benadeling te kan aanmeld. Hierdie onderhoude sal die basis vorm van 'n voorstel oor gepaste en bekostigbare regstelling wat aan die Rektor se Bestuurspan voorgelê sal word vir oorweging. Die sperdatum vir die voltooiing van die ondersoek is die einde van Februarie 2016.
- 'n proses in werking gestel vir die evaluering van ' lewensvatbare kontraktering', waarna die beste praktyk bepaal sal word vir wanneer die kontrakte van huidige eksterne diensverskaffers verstryk. Op daardie stadium sal al die lewensvatbare opsies oorweeg word in die besluitneming oor hoe die bepaalde diens in die toekoms aan die US gelewer sal word.
- ook verlede jaar in ooreenstemming met die ooreenkoms gesprekke geïnisieer met die bestuur van huidige eksterne diensverskaffers.
Prof De Villiers het ook 'n formele beroep op eksterne diensverskaffers gedoen om toegeeflik te wees teenoor werkers wat aan die protesaksie deelgeneem het en teen wie dissiplinêre aksies ingestel is. Hoewel die US nie betrokke kan raak in die interne dissiplinêre prosesse van eksterne diensverskaffers nie, tree die US ondersteunend op deur die konteks van die protesaksies te verduidelik en vir toegeeflikheid te vra. "Ons is bekommerd oor die swaarkry van werkers wat uit diens gestel is, en ons doen alles in ons vermoë om hulle sake, sommige op appél en ander by die CCMA, so spoedig moontlik te help afhandel. In hierdie verband speel die US ook 'n aktiewe rol om alternatiewe opsies te ondersoek, byvoorbeeld mediasie tussen werkers en hul onderskeie werkgewers, om sover moontlik 'n gunstige uitkoms tussen die twee partye te bewerkstellig.
Die taakspan wat aangestel is om te verseker dat die ooreenkoms ten volle geïmplementeer word, vergader weer op 8 Februarie 2016.
Aanvullend tot die werk van die taakspan het prof De Villiers ook die volgende aangekondig:
- 'n Onafhanklike ondersoek na die morele, sosio-ekonomiese en finansiële aspekte, asook die nie-finansiële oorwegings van kontraktering. Die bevindinge sal in verdere gesprekke deur die Rektor se Bestuurspan opgeneem word en sal dringend afgehandel word, met inagneming van die behoefte vir 'n sektorwye benadering in die hoër onderwys tot hierdie komplekse saak.
- 'n Colloquium vir personeel en studente waar die verskillende kwessies rakende kontraktering gedebatteer kan word. Die colloquium sal as platform dien vir verskillende standpunte, en morele en sosio-ekonomiese oorwegings sal deeglik verreken word. Die standpunte wat tydens die colloquium geformuleer word, sal ook aan die RBS gekommunikeer word.