Skip to main content
US-studente beïndruk met navorsing oor nie-alkoholiese wyne

US-studente beïndruk met navorsing oor nie-alkoholiese wyne

Daniel Bugan
01 Februarie 2022

US-studente onder leiding van dr Hélène Nieuwoudt en prof Chris Pentz het beïndruk met hul navorsing oor nie-alkoholiese wyne by die Ultimate Beverage Show wat verlede naweek in die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum aangebied is.

Die geleentheid, wat as vertoonkas vir die land se beste plaaslik vervaardigde kleinmaat-drankies gedien het, het besoekers die kans gegee om 'n wye verskeidenheid te proe en te koop. Hulle kon ook meer te wete kom oor die verskillende tegnieke wat gebruik word om drankies en geurkombinasies te skep.

In 'n werksessie met die titel "Low, Lower, Zero: Unpacking de-alcoholised wines," het Sinazo Qwebani en Lethabo Maesela, meestergraadstudente van die Suid-Afrikaanse Druiwe- en Wynnavorsingsinstituut (SAGWRI) in die Fakulteit AgriWetenskappe, meer vertel oor hul navorsing oor onderskeidelik nie-alkoholiese stil- en vonkelwyne. Markus Filter, wat onlangs sy meestersgraad in die Departement Ondernemingsbestuur voltooi het, het uitgebrei oor die verbruikersperspektief met betrekking tot nie-alkoholiese wyne. Prof Pentz van die Departement Ondernemingsbestuur en dr Nieuwoudt van SAGWRI is medestudieleiers van Qwebani en Maesela. Pentz was ook die studieleier van Filter.

Qwebani en Maesela het gevallestudies aangebied wat 'n stel kommersieel beskikbare nie-alkoholiese wyne ondersoek het. Dié wyne is aan die begin van 2020 gekies en  deur altesaam 52 bedryfskenners (onder wie uitvoerende bestuurders, wynmakers, handelsmerkbestuurders en gehaltebeheerbestuurders) by nege wynkelders blind geproe en beoordeel.

Die fokus van Qwebani se gevallestudie was die sensoriese profilering van Suid-Afrikaanse nie-alkoholiese stilwyne (nie-vonkel). Die studie het die kwaliteit van die aroma, voorkoms en smaak van hierdie wyne ondersoek.

Haar studie het tot die gevolgtrekking gekom dat hoewel Suid-Afrikaanse nie-alkoholiese wyne “op die regte pad is, sal wynmakers hul aandag by die motiveerders van wyngehalte moet bepaal om te verbeter waar nodig".

Maesela se gevallestudie was gemik op nie-alkoholiese vonkelwyn wat uit volsterkte (alkoholinhoud) basiswyn geproduseer word en dan aan die de-alkoholiseringsproses onderwerp word vóór karbonering en bottelering.

“Ons beskik nie oor voldoende formele studies wat op die sensoriese profiele van spesifiek Suid-Afrikaanse nie-alkoholiese wyne fokus nie. Dié studie was daarop ingestel om dit te verstaan," het sy verduidelik.

“Die bevindinge het die volgende getoon: daar was geen groot kommer oor voorkoms nie en die meeste van die eienskappe wat deur die paneellede aangehaal is, was positief. Wat aroma betref, was die resultate goed en sommige nie so goed nie, met 'n gemiddelde van 3,8 tot 4,6 uit sewe punte. Die algehele resultaat vir smaak was tussen 4,8 en 6,1 uit 10 punte, wat gemiddeld is. Verskeie positiewe kwaliteiteienskappe is deur die paneellede uitgelig, alhoewel negatiewe eienskappe soos waterigheid en 'n gebrek aan geur ook geïdentifiseer is."

​Sy het gesê haar navorsing bied nuttige inligting en hulpmiddels wat wynprodusente kan gebruik om ingeligte verbeterings aan te bring.

Filter het gesê hoewel laer- en nie-alkoholiese drankies al 'n geruime tyd beskikbaar is, blyk dit dat belangstelling onlangs drasties toegeneem het.

“Dit word toegeskryf aan 'n groter fokus op geestesgesondheid en welstand en gesondheid in die algemeen."

Hy het egter gesê daar is nog sekere uitdagings wat die bedryf die hoof moet sien om voordeel te trek uit hierdie tendens.

“Navorsing het die belangrikste vier potensiële uitdagings uitgelig, naamlik smaak, prys, die stigma verbonde daaraan om nie alkohol te drink nie en 'n gebrek aan bewustheid en beskikbaarheid."

Filter het gesê produkte soos lae- en nie-alkoholiese bier is suksesvol, maar nie-alkoholiese wyne kry baie minder aftrek.

“Ons moet kyk na die mees geskikte mark vir nie-alkoholiese wyne. As deel van my studie het ek Generasie Y-verbruikers geïdentifiseer as een van die aantreklikste markte vir nie-alkoholiese wyn. Dis omdat hulle die grootste deel van die bevolking uitmaak, groter koopkrag het en geneig is om die besluite van ander te beїnvloed.

“Om verbruikers se optrede met betrekking tot nie-alkoholiese wyn te verstaan, het die studie na drie fundamentele aspekte van verbruikersgedrag gekyk: emosies, voorkeure en persepsies. Hierdie inligting is baie belangrik vir navorsingsontwerpmetodologie."

Gustav Fouché, besturende direkteur van BevZero, 'n maatskappy wat hom by die de-alkoholisering van wyn, bier en spiritualieë bepaal, het ook aan die werksessie deelgeneem. Sy praatjie het al die aspekte van de-alkoholisering gedek.

  • ​​Foto: Vlnr is mnr Gustav Fouché​, besturende direkteur van BevZero; dr Hélène Nieuwoudt van die South African Grape and Wine Research Institute (SAGWRI); meestersgraadstudente Lethabo Maesela en Sinazo Qwebani; prof Chris Pentz van die Departement Ondernemingsbestuur; en Markus Filter, wat onlangs sy meestersgraad in daardie departement voltooi het.