US se toppresteerders by Rektorstoekennings gevier
Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs sy topstudente gevier toe die jaarlikse Rektorstoekennings tydens ʼn prestigeryke aandgeleentheid oorhandig is. ʼn Rooitapyt-verwelkoming en lewendige musiek deur Solomon Mathipa het die atmosfeer help skep vir dié geleentheid wat die US se leierskorps, akademiese personeel en studente byeengebring het om die prestasies te vier van 84 studente wat op verskeie gebiede uitgeblink het.
Die tema van die 2024-toekennings, “Bemagtiging van Intellekte, Bemagtiging van Gemeenskappe: Dromers, Doeners , Verskilmakers," het dwarsdeur die aand weerklink, met leiers wat die kollig laat val het op die US se missie om individuele potensiaal vir kollektiewe vooruitgang te bevorder.
Die tema strook met die US se strewe, het prof Wim de Villiers, Rektor en Vise-kanselier, in sy openingsopmerkings gesê. “Wat hierdie aand uitsonderlik maak, is nie net die erkenning van sukses nie, maar die viering van veerkragtigheid, die vermoë om in die aangesig van teëspoed deur te druk, om aan te pas en om sterker te word," het hy gesê.
“Ons het ten doel om ons studente te bemagtig om daardie groei uiteindelik tot voordeel van hul gemeenskappe aan te wend. Of dit nou in die akademie, as leiers, in sport of in diens is, elkeen van julle het die krag van individuele potensiaal as ʼn katalisator vir kollektiewe vooruitgang getoon. Onderrig, persoonlike groei en ontwikkeling is die fondamente waarop ons ʼn meer inklusiewe, regverdiger en blinker toekoms bou. Almal van julle aan wie ons vanaand erkenning verleen, is nie net dromers nie. Julle is beslis ook doeners en verskilmakers wat ongetwyfeld jul gemeenskappe, jul beroepe en die wêreld as geheel gaan vorm," het De Villiers afgesluit.
Holistiese studente-ervaring
In sy toespraak het prof Deresh Ramjugernath, Adjunk-visekanselier: Leer en Onderrig, verdere konteks oor die belang van die Rektorstoekennings verskaf. Hy het gesê studente se reis gaan nie net oor die formele kurrikulum nie. “Dit gaan oor die holistiese studente-ervaring by die instelling, en hoe dit van jou die burger maak wat ons voorsien dat die land nodig het."
Ramjugernath het die belangrikheid van toekennings vir uitnemendheid op die US se kalender benadruk en gesê dit vier studente se harde werk en uitsonderlike prestasies. Hy het ook die kardinale rol van toegewyde personeel erken in die bevordering van ʼn koesterende omgewing wat studente in staat stel om hul volle potensiaal te bereik. Ramjugernath het ʼn uiteensetting verskaf van die benoemings wat vir vanjaar se toekennings ontvang is: 131 aansoeke in verskeie kategorieë, insluitend akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en diens aan studente.
Een van die hoogtepunte van die aand was die oorhandiging van ʼn spesiale toekenning van die Studenteraad (SR). Die US se studenteleiers het Kallie Sauls, Koördineerder: Statutêre Befondsing by die Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings aan die US, vir sy uitstaande bydraes erken.
Sauls speel ʼn deurslaggewende rol om studente te ondersteun om toegang tot hoër onderwys te kry, het Phiwokuhle Qabaka, uittredende SR-voorsitter, gesê. Sy het ʼn roerende huldeblyk gelewer waarin sy Sauls geprys het vir sy onwrikbare toewyding om studente te help en hom beskryf het as ʼn onvermoeibare kampvegter wat “berge sal versit" om te verseker dat hul stemme gehoor en in hul behoeftes voorsien word.
Sauls het passievol gepraat oor die transformerende krag van samewerking en bemagtiging en die gehoor aangemoedig om voort te gaan om ʼn impak te maak, hetsy deur hulpbronne en kundigheid te deel of bloot daar te wees om ander te lei en te ondersteun.
ʼn Aand om te onthou
Nog ʼn aangrypende oomblik wat met hartlike toejuiging ontvang is, was toe dr Elmien Sinclair, Hoof van die Eenheid vir Akademiese Voorligting en Ontwikkeling aan die US, die Toekenning vir Akademiese Veerkragtigheid oorhandig het. Hierdie prys word na goeddunke van die Rektor toegeken aan ʼn student wat merkwaardige toewyding en veerkragtigheid getoon het om beduidende uitdagings tydens hul akademiese reis te oorkom.
Die ontvanger, Siziphiwe Ligebhu, ʼn BSc Fisioterapie-student in haar finale jaar, het sedert ʼn jong ouderdom ʼn komplekse gesinsdinamiek ervaar, insluitend hartseer, finansiële ontberings en beperkte ouerondersteuning, het Sinclair verduidelik. Ondanks hierdie struikelblokke het Ligebhu met haar studies deurgedruk. Sinclair was vol lof vir haar “sagmoedige volhardingsvermoë en durf", wat haar in staat gestel het om merkwaardige vordering te maak terwyl sy aan haar persoonlike en akademiese doelwitte toegewyd gebly het.
Ligebhu het gesê sy is diep dankbaar en geraak deur dié erkenning vir haar deursettingsvermoë. “Ek het my ma verloor toe ek op laerskool was en later is die vrou wat my ondersteun het, ook oorlede. Dit het my nogal baie geraak en 2022 was akademies gesproke ʼn baie moeilike jaar, maar ek het deur die swaarkry heen nooit oorweeg om my studies te los nie," het sy gesê.
Die aand is deur ʼn atmosfeer van opgewondenheid gekenmerk soos wat studente mekaar geluk gewens en saam met hul gesinne fees gevier het. Vir Lize Theunissen, ʼn BSc-meestersgraadstudent in voedselwetenskap, het haar benoeming vir ʼn akademiese prys heeltemal uit die bloute gekom. “Toe ek die e-pos ontvang het, het ek gedink dit is per ongeluk aan die verkeerde persoon gestuur!" het sy gesê. “Dit is ʼn groot eer om op hierdie manier erkenning te ontvang. Dit is ʼn inspirasie en motivering om my bes in die laaste jaar van my proefskrif te doen."
Vir Nealan Hangford, ʼn mediese student in sy vierde jaar aan die US se Tygerberg-kampus, en sy ma, Lizbe, het die Rektorstoekenning vir Uitnemendheid in Leierskap as “ʼn wonderlike beloning" gekom ná jare van toewyding en opoffering. Nealan se pa se stryd met bipolêre versteuring het hom geïnspireer om medies te studeer, het hy verduidelik. “Ek het besluit om ʼn psigiater te word sodat ek eendag in ʼn posisie sal wees om mense met geestesgesondheidskwessies te help en beleid in die openbare gesondheidsektor te beïnvloed," het hy gesê. Die ondersteunende omgewing aan die US het bygedra tot sy akademiese sukses en prestasies as studenteleier, het Nealan bygevoeg.
Lizbe het gestraal toe sy haar seun gelukwens. “Vanaand is ek ʼn verskriklike trotse ma. Nealan is die eerste lid van ons gesin wat universiteit toe is en hy sal die eerste dokter in die gesin wees. Almal is so opgewonde vir hom en baie, baie trots," het sy gesê.
ʼn Dogter van twee bekende US-alumni was ook op die lys van akademiese presteerders. Dhania Schultz het in haar honneursjaar as dramastudent ʼn toekenning vir akademiese uitnemendheid ontvang. Haar ouers, die akteurs Waldemar en Ira Schultz, het ook drama aan die US gestudeer. Waldemar het Dhania vergesel en het die hele aand gegloei van trots.
FOTO: Dr Elmien Sinclair en prof Wim de Villiers het die Toekenning vir Akademiese Veerkragtigheid aan Siziphiwe Ligebhu oorhandig. (Foto: Stefan Els)