Skip to main content
US-graduatus seëvier ná talle struikelblokke

US-graduatus seëvier ná talle struikelblokke

Corporate Communications Division/Rozanne Engel
04 April 2019

Dit kan soms moeilik wees om by die universiteitslewe aan te pas en onlangse statistieke van Statistieke Suid-Afrika toon dat meer as vyftig persent van Suid-Afrikaanse eerstejaars opskop. Maar vir Jessica Fouche was dit nooit 'n opsie om deel van hierdie statistiek te word nie, selfs toe sy deur diep waters gegaan het gedurende haar akademiese reis aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Sy is gedurende haar eerstejaar met 'n skaars leergestremdheid gediagnoseer wat haar punte aansienlik benadeel het. “Op skool is ek altyd as die slim een beskou, die gedrewe een. Maar toe ek my voete op die kampus sit, het dit vinnig verander. My vroeë assesseringspunte was uiters swak; my ouers het gevoel dat daar 'n ander rede hiervoor as net die gewone aanpassingsprobleme moes wees. Met behulp van die US se Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling (SSVO) en 'n betroubare opvoedkundige sielkundige is ek vir die eerste keer met 'n leergestremdheid gediagnoseer."

Nadat sy gediagnoseer is, het Fouche die nodige hulp en ondersteuning van die Universiteit ontvang om haar te help om haar studies te bestuur en haar punte te verbeter. Sy is egter later ook met 'n angsversteuring gediagnoseer, wat haar akademiese vordering verder benadeel het. Dit, tesame met die besef dat die BRek-program waarmee sy besig was, nie regtig die rigting was wat sy wou volg nie, het haar voorgraadse studies nog verder gekompliseer.

“Nadat ek met die angsversteuring gediagnoseer is, het ek besef ek sou óf die volgende tien jaar moes spandeer om hierdie doelwit te bereik – net om aan mense te bewys dat iemand met 'n leergestremdheid dit kan doen; of ek kon my doelwitte heroorweeg en 'n drastiese verandering maak. Ek het die hele prospektus van die Universiteit deurgewerk en al die kursusse omkring wat aanklank gevind het by die persoon wat ek ontdek het ek eintlik is sedert ek by die universiteit aangekom het – iemand wat meer waarde aan mense as syfers heg, iemand wat dit geniet om daar te wees vir ander. Met behulp van die SSVO en verskeie psigometriese toetse het ek besluit om van rigting te verander."

Fouche moes heraansoek doen vir toelating tot 'n BCom in Industriële Sielkunde aan die US. Sy is in 2016 hertoegelaat en het met haar nuwe studierigting begin.

“Ek is in my finale jaar getroud, ek was swanger gedurende die eerste helfte van die jaar en 'n nuwe mamma gedurende die tweede helfte, terwyl my man 700 km weg van ons af as 'n ingenieur by 'n mynmaatskappy gewerk het. Dit is net 'n wonderwerk dat ek dit reggekry het om my studies te voltooi! Dit het hope deursettingsvermoë, talle aansporingsgesprekke van familielede en baie logistieke beplanning gekos. Van die opsies wat my ouers en my man met my bespreek het, was om my studies tydelik te onderbreek. Maar in my kop was dit eenvoudig net nie 'n opsie nie. Ek is deur vyf jaar van uiterste uitdagings en was vasbeslote om klaar te maak."

Getrou aan haar woord, en ná baie omwentelinge en struikelblokke, het Fouche Donderdag, 4 April haar BCom-graad in Industriële Sielkunde by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se gradeplegtigheid (groep B) ontvang.

“As ek nou terugkyk, lyk dit onmoontlik, maar die feit dat ek al hierdie uitdagings oorkom het, maak hierdie graad 'n uitsonderlike prestasie. Ek dra dit op aan my ma wat vir my die voorbeeld van deursettingsvermoë gestel het en wat nooit opgehou het om in my te glo nie." ​