Skip to main content
Studie onthul wat telegeneeskunde in SA laat werk

Studie onthul wat telegeneeskunde in SA laat werk

Corporate Communication and Marketing [Alec Basson]
29 Julie 2025

In ʼn land waar openbare gesondheidsgeriewe dikwels oorbelas word en oor beperkte hulpbronne beskik, het telegeneeskunde — die gebruik van tegnologie soos video-oproepe, apps of aanlyn platforms om gesondheidsorgdienste en -konsultasies van ʼn afstand te verskaf — ʼn belangrike reddingsboei geword wat aan baie Suid-Afrikaners toegang tot primêre sorg bied.

“Dit is derhalwe belangrik om telegeneeskundedienste vir primêre sorg sodanig aan te pas dat dit pasiënte se vertroue wen en behou — veral in die lig van die sensitiwiteit aangaande gesondheidsverwante behoeftes. Verskaffers kry die betekenisvolle geleentheid om pasiënte te ontvang en behandel wanneer hulle dikwels op hulle kwesbaarste is en hulle moet dit altyd met die grootste sorg en respek doen," sê dr Grethe van Tonder, wat onlangs haar doktorsgraad in Ondernemingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.

“Ons moet verstaan wat die dryfvere in pasiënte se unieke kontekste is wat sal meebring dat hulle aanhou om (app-gebaseerde) telegeneeskundedienste vir primêre sorg te gebruik. Só sal ons kan verseker dat hierdie soort dienslewering Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel op die lange duur aanhou bevoordeel," voeg Van Tonder by.

Sy het as deel van haar studie gefokus op die Kena Health-app wat deur Kena Health ontwikkel en in 2022 bekend gestel is. Dit verbind gebruikers via teks, oudio of video met verpleegkundiges, dokters en geestesgesondheidspraktisyns en bied mediese raad, diagnoses, voorskrifte, siekbriefies, verwysings en geestesgesondheidsberading — alles sonder dat afsprake gemaak hoef te word.

Nuwe faktore

Haar studie het twee nuwe (app-gebaseerde) faktore geïdentifiseer wat die aanvaarding van telegeneeskunde vir primêre sorg beïnvloed, spesifiek met inagneming van die konteks van Suid-Afrika se openbare sektor: die persepsie van privaatheid en van sorg. Hierdie persepsies is nie in vorige teorieë ingesluit as moontlike faktore wat die aanvaarding van telegeneeskunde beïnvloed nie.

Volgens Van Tonder verwys die persepsie van privaatheid na die mate waarin ʼn individu ʼn telegeneeskundediens as minder of meer privaat as aangesig-tot-aangesig konsultasies ervaar.

“Waar vorige literatuur telegeneeskunde dikwels meer privaatheidsrisiko's vergeleke met persoonlike konsultasies assosieer, het die studie bevind dat pasiënte die waargenome privaatheid van app-gebaseerde telekonsultasies verkies het bo aangesig-tot-aangesig konsultasies by openbare klinieke, wat die algemene verwysingsraamwerk van die deelnemers aan die navorsing was.

“Toe die data ingesamel is, het deelnemers verduidelik dat app-gebaseerde konsultasies 'anonimiteit' moontlik maak omdat pasiënte nie gesien hoef te word nie — soos wanneer teks- of stemoproepe eerder as video gebruik word. Voorts kon ander mense nie hulle gesprekke met die gesondheidsorgpraktisyn afluister nie, anders as in talle openbare gesondheidsgeriewe met beperkte hulpbronne. Deelnemers het hierdie omstandighede as deurslaggewend vir hulle aanvaarding van die app-gebaseerde telegeneeskundediens beskou."

Van Tonder sê pasiënte se persepsie van sorg het die sterkste statistiese uitwerking op hulle aanvaarding van telegeneeskundedienste gehad. Dit omvat aspekte soos empatie, vriendelikheid en respek wat met die ervaring van die diens geassosieer word.

“Deelnemers het herhaaldelik gesê hulle ervaring van behandeling deur die app-gebaseerde telegeneeskundediens het baie verskil van waaraan hulle gewoond was by openbare gesondheidsorgfasiliteite, soos klinieke, waarop hulle gewoonlik sou staatmaak as telegeneeskunde nie beskikbaar was nie.

“Hulle het bygevoeg dat oorbelaste openbaregesondheidsgeriewe dikwels meebring dat pasiënte nie privaat met ʼn gesondheidsorgpraktisyn kan praat nie. Personeel is geneig om onbeskof en haastig te wees en bied pasiënte nie ʼn kans om hulle simptome en bekommernisse volledig te verduidelik nie.

“Gevolglik voel pasiënte dikwels dat hulle nie gerespekteer word nie en dat die gesondheidsorgpraktisyn ʼn diagnose gemaak het sonder om voldoende oor hulle werklike behoeftes of bekommernisse uit te vra."

Luister

Van Tonder sê deelnemers het ook beskryf hoe mediese personeel hulle uitgeskel of berispe het, wat hulle dikwels laat voel het hulle word geoordeel en dat hulle skaam gevoel het oor die rede vir hulle besoek aan die openbare gesondheidsgerief.

“In teenstelling met gereelde sodanige ervarings, het deelnemers hulle interaksie met gesondheidsorgpraktisyns op die Kena Health-app as presies die teenoorgestelde beskryf. Dié hoogs positiewe persepsie van sorg verklaar hulle aanvaarding van, tevredenheid met en bereidwilligheid om met die gebruik van dié diens vol te hou."

Die studie het bevind dat pasiënte se ervaring van opregte sorg tydens konsultasies met gesondheidsorgpraktisyns via die Kena Health-app die sterkste statistiese uitwerking op hulle aanvaarding van hierdie telegeneeskundediens gehad het. Dit het voorts ʼn statisties beduidende uitwerking gehad op hulle tevredenheid met en algemene vertroue in hierdie tipe lewering van primêre sorg.

“Of die konsultasie nou per teks, telefoonoproep of video plaasgevind het, het talle deelnemers gesê die gevoel dat daar na hulle geluister en vir hulle omgegee is, deurslaggewend vir hulle aanvaarding van die diens was."

Apteekdienste

Van Tonder sê haar studie kan verskaffers van primêre gesondheidsorg via app-gebaseerde telegeneeskunde help om hulle dienste volgens pasiëntspesifieke behoeftes aan te pas, met inagneming van pasiënte se unieke kontekste en verwysingsraamwerke om die faktore aan te pak wat die grootste invloed op hulle aanvaarding van so ʼn diens sou hê. Die insigte kan ook ander gesondheidsorgverskaffers bevoordeel wat app-gebaseerde telegeneeskundedienste by hulle bestaande aanbod wil voeg.

Sy sê al word ʼn digitale platform gebruik, moet verskaffers van primêre gesondheidsorg tydens konsultasies fokus op die menslike vermoë om empatie, vriendelikheid en opregte sorg te toon om pasiënte se vertroue in en tevredenheid met sulke app-gebaseerde telegeneeskundedienste te versterk.

Gevra wat sy aan die gebruik van telegeneeskunde wou verander, veral met inagneming van die openbare gesondheidsektor, het Van Tonder gesê apteekdienste kan in die toekoms by die diensaanbod ingesluit word. “Hoewel app-gebaseerde telegeneeskunde vir primêre sorg toegang tot konsultasies en voorskrifte verbeter, kan pasiënte wat tipies op die openbare sektor staatmaak steeds uitdagings ondervind om hulle voorgeskrewe medikasie te bekom.

“Die toevoeging van ʼn apteekdiens wat medikasie aflewer kan pasiënte help om vinnig toegang tot noodsaaklike medikasie te kry, wat vinniger herstel ná konsultasies bevorder."