
SA se topmatrikulant vir 2021 op pad na US
Sedert Ulrich le Roux van die Hoër Jongenskool Paarl as die land se Nasionale Senior Sertifikaat-toppresteerder vir 2021 aangewys is, voel alles ietwat onwerklik. Maar een ding weet hy vir seker: Hy’s op pad na die Universiteit Stellenbosch (US) en kan nie wag om ’n Matie te word nie. Met ’n ouer broer wat onlangs ’n graad in Bestuursrekeningkunde aan die US voltooi het, ken Ulrich reeds die kampus, en hy’s klaar mal daaroor. “Ek weet hoe fantasties die algehele ervaring is – van die klasse tot die koshuis tot die studentelewe. My broer het dit geniet om daar te wees, en ek het altyd geweet dis die kampus vir my.” Ulrich sal Aktuariële Wetenskap studeer en in die koshuis Eendrag tuisgaan. Bietjie meer as ’n wiskundeprys Toe hy die e-pos van die Departement van Basiese Onderwys ontvang om hom na die toppresteerdersgeleentheid te nooi, het Ulrich nie ’n benul gehad dat hy as topkandidaat aangewys sou word nie. “Ek het gedink ek sou net ’n prys vir wiskunde kry,” sê hy. Ulrich en sy ma, Karen, het op 19 Januarie 2022 ’n vroegoggendvlug na Gauteng gehaal om minister Angie Motshekga se aankondiging van die matriekuitslae by te woon. “Ons is SABC toe geneem vir onderhoude en het daarna ’n proeflopie gedoen van die volgende dag se prysuitdeling,” vertel hy. “Die volgende oggend was daar ’n ontbyt saam met minister Motshekga en haar adjunk, en ’n paar uur later is ons terug na die SABC-ateljee in Aucklandpark vir die eintlike prysgeleentheid.” “Dit was betreklik gespanne,” beskryf hy die atmosfeer by die geleentheid. Toe hy as die land se toppresteerder aangekondig word, was hy terselfdertyd verstom en verheug. “Ek was geheel en al uit die veld geslaan, en ook baie dankbaar dat al die harde werk die moeite werd was.” Ulrich was ook dankbaar vir die geleentheid om medeleerders van oor die hele Suid-Afrika te ontmoet. “Daar was leerders van elke provinsie wat almal regtig goed gevaar het. Hoewel ons nog nooit vantevore ontmoet het nie, het ons prestasies ons saamgebind. Dit was wonderlik om oor ons planne vir die volgende paar jaar te kon gesels.” ’n Erewag van trotse onderwysers, medeleerders en selfs die burgemeester van die Paarl het hom ingewag toe hy ná sy tuiskoms by sy skool aankom om sy uitslae te vier. Deurgedruk ondanks Covid Hy het Covid-19 opgedoen net voordat hy sy Junie-eksamen moes aflê. Dit was ’n ernstige terugslag, en hy moes binne ’n beperkte tyd verskeie vraestelle inhaal. Sy eksamenrooster was propvol, maar hy het vasberade voortgegaan en deurgedruk. “Ek kon nie ten volle op een vak op ’n slag konsentreer nie. Dit was moeilik.” Oor die geheim vir sy sukses sê hy: “My doel aan die begin van die jaar was net om hard te werk, maar om ook tyd in te ruim vir ontspanning. Ek het nie na spesifieke punte gestreef nie. Ek wou nie enigsins spyt wees oor hoe ek die jaar benader nie. “Ek het elke dag sorgvuldig beplan. Aan die einde van elke dag gedurende die eindeksamen het ek ’n lys gemaak van alles wat ek die volgende dag moes leer. Ek was realisties met my doelwitte, so ek het nooit oorweldig gevoel nie. Ek het ook tyd gemaak om boeke te lees wat niks met my leerwerk te doen gehad het nie, na musiek of potgooie te luister, en na YouTube-video’s te kyk.” Sedert hy die matriekeksamen voltooi het, het Ulrich weer begin oefen. Sy gunstelingtydverdrywe is musiek en om niefiksie oor enigiets van die effektebeurs tot sielkunde te lees. “Ek glo hoe meer jy leer, hoe beter toegerus is jy vir sukses in die wêreld.”