
Prof Rong-Jie Wang help om SA se energiedoeltreffendheid, kragopwekkingsvermoë te verbeter
Prof Rong-Jie Wang van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurwese by die Universiteit Stellenbosch het onlangs sy professorale intreerede, getiteld 'Elektriese masjientegnologie: Innovasie en navorsing' gelewer. Wang het aan die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking verduidelik hoe sy navorsing oor elektriese masjientegnologieë kan help om die plaaslike bedryf internasionaal meer mededingend te maak en die land se energiedoeltreffendheid en kragopwekkingsvermoë te verbeter.
Vertel ons meer oor jou navorsing en waarom u in hierdie spesifieke vakgebied belangstel.
My navorsingsgebied is in elektriese ingenieurswese. My navorsing het op tegnologie-ontwikkeling, formulering van ontwerpteorie en -strategie, die ontwikkeling van numeriese simulasietegnieke en kritiese prestasie-evaluering van spesiale elektriese masjiene gefokus. Ek het gedurende my nagraadse studie aan die Universiteit van Kaapstad in elektriese masjiene begin belangstel. My onderwerp het oor 'n liniêre hibridiese permanente magneetmotor gehandel wat ek baie interessant gevind het.
Beskryf die toepaslikheid van jou werk, veral in ons Suid-Afrikaanse konteks.
Elektriese masjiene word algemeen in groot Suid-Afrikaanse nywerheidsektore soos energie, mynwese en die chemiese en vervoerbedryf gebruik. Hulle speel 'n sentrale rol in die nuwe industriële revolusie wat deur die ontwikkeling van e-mobiliteit en hernieubare energiestelsels aangedryf word. Die navorsing en kommersiële ontwikkeling van elektriesemasjientegnologieë kan die internasionale mededingendheid van die plaaslike bedryf versterk, energiedoeltreffendheid en kragopwekkingskapasiteit verhoog en tot werkskepping in Suid-Afrika bydra.
Vertel ons meer van jou navorsing se impak.
My navorsingswerk oor aksiale kragstroom-permanente magneetmasjiene (wat vir kragopwekking en toepassings in elektriese voertuie gebruik word), lynstoot-permanente magneetmotors (geskik om laetraagheidslading aan te dryf) en elektriese masjiene met magnetiese ratte (vir windkrag en e-mobiliteitstoepassings) word algemeen erken en na verwys deur eweknie-navorsers. Die manuskrip wat ek saam met proff JF Gieras en MJ Kamper geskryf het, Axial Flux Permanent Magnet Brushless Machines (Springer 2004, tweede uitgawe in 2008), was die eerste boek in Engels wat geheel en al aan aksiale kragstroom-permanente magneetmasjiene gewy is. Volgens springer het die boek “… sy tydloosheid en waarde onder 'n wye leserskap op die navorsingsgebied van elektriese masjiene bewys".
Vertel ons watter aspekte van jou werk jy die meeste geniet.
Ek geniet navorsing oor ontluikende innoverende tegnologieë en om met skrander jongmense te werk.
Die pandemie het ons werks- en leefwyse verander. Hoe het jy gemotiveerd gebly gedurende hierdie tyd?
Ja, dit was 'n uitdagende tyd vir die meeste van ons. Dit het gehelp om bereikbare doelwitte te stel en deur aanlyn vergaderings in aanraking te bly met kollegas en studente.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat ander mense nie sal verwag nie.
Hoewel my passie ingenieurswese en wetenskap is, stel ek ook in sommige vakke in die geesteswetenskappe soos literatuur en geskiedenis belang. Ek was op hoërskool op verskeie veldwerktoere onder leiding van my geskiedenisonderwyse om antwoorde te probeer vind oor die tragiese afsterwe van 'n antieke Chinese keiser.
Vertel ons wat u in u vrye tyd doen wanneer u nie met lesings en navorsing besig is nie.
Ek geniet dit om flieks te kyk, bordspeletjies saam met my kinders te speel en om ver ente in die berge of op die strand te gaan stap.