Skip to main content
Prof Hassan Mahomed bied leierskap vir die Provinsie se COVID-19-stryd

Prof Hassan Mahomed bied leierskap vir die Provinsie se COVID-19-stryd

FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Tyrone August
17 Augustus 2021

Die COVID-19-pandemie hou ernstige uitdagings in vir openbare gesondheidskenners. Vir buitengewone professor Hassan Mahomed, wie op die voorgrond betrokke is met die koördinering van die respons in die Wes-Kaap, was ʼn besondere veeleisende tydperk.

Mahomed, wie ʼn gedeelde posisie beklee by die provinsiale gesondheidsdepartement en die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid by die Universiteit Stellenbosch se Departement van Globale Gesondheid, was van die begin af betrokke by die stryd om die verspreiding van die virus te bekamp.

“Vroeg in 2020 het ons gesien hoe gevalle reg oor die wêreld toeneem," onthou hy. “Ek en my kollegas het reeds in Februarie – voordat ons ons eerste gevalle gehad het – begin om inligtingsessies vir ons personeel te hou om hulle attent te maak van hierdie globale bedreiging en hulle voor te berei vir gevalle in die Wes-Kaap.

“Teen Maart het ons ons eerste gediagnoseerde geval van COVID-19 gehad – iemand wat van ʼn oorsese reis af terug gekeer het.

“Teen daai tyd het die nasionale Departement van Gesondheid en die Nasionale Instituut van Oordraagbare Siektes al riglyne ontwikkel en opleiding in provinsies gebied, waarvan ek deel was. Van toe af was ek betrokke by die koördinering van die provinsie se respons tot die COVID-19-pandemie."

Mahomed is die voorsitter van ʼn maandelikse vergadering van die COVID-19 uitbreek-responsspan wat response koördineer, en dien ook op ʼn seniorbestuur tegniese komitee wat tans maandeliks twee keer vergader om tegniese ondersteuning aan die provinsiale leierskap te bied oor hoe om te reageer.

Sy werk het ondermeer die ontwikkeling van ʼn inentingstrategie vir die provinsie ingesluit as deel van “ʼn voorlopige gids om beplanning rondom die implementering van die COVID-19-inentingsprogram aan die gang te sit."

Die provinsiale regering het daarna vir Mahomed gevra om ʼn span van kenners in die provinsie saam te stel om oor inenting te adviseer, en dié groep word nou die Wes-Kaap COVID-19-Inentingkenners Adviesgroep genoem.

Hierdie groep sluit entstof-kenners, gedragskenners, etiekkenners en verteenwoordigers van die gemeenskap in. “Dit adviseer die provinsie oor ʼn verskeidenheid van kwessies," sê Mahomed.

“Die kenner-adviesgroep het baie sukses behaal in terme van regverdigheid – hulle het verseker dat regverdigheid in terme van toegang tot entstowwe op die provinsie se agenda geplaas word. Ons het die provinsie duidelik daarvan bewus gemaak dat ons toegang tot entstowwe aan die armste en kwesbaarste gemeenskappe moet verseker," sê Mahomed.

“Die provinsie het ʼn aantal prosesse in plek gesit waar hulle met gemeenskapsorganisasies skakel en plaaslike spanne het wat registrasie vir inenting in arm gemeenskappe ondersteun en toegang fasiliteer."

Hy voeg by: “Die tweede belangrike area is om tegniese advies aan die provinsie te gee in terme van moeilike kwessies rondom die administrasie van inentings – wie kwalifiseer om ingeënt te word, en sekere van die etiese kwessies rondom hoe die inentingsprogram geïmplementeer behoort te word, sodat diegene met ʼn hoë risiko en dié wat die kwesbaarste is, geprioritiseer word.

“Een van die grootste uitdagings van die inentingsprogram is die beperkte voorraad, en een van die groot etiese kwessies tot dusver was: hoe prioritiseer ʼn mens? Die komitee het omvattend geadviseer, vanuit beide ʼn tegniese en etiese standpunt, oor hoe om hierdie kwessie te benader."

Mahomed gee te kenne dat die verspreiding van verkeerde inligting ʼn besondere probleem is: “Dit is ʼn globale uitdaging, vir beide COVID en COVID-entstowwe – hoe verseker jy dat die bevolking behoorlik ingelig word oor entstowwe en die inentingsproses?

“Ons reaksie is hoofsaaklik om nie met individue wat die bron van verkeerde inligting is te skakel nie, maar wel met die algemene publiek – eerstens om die verspreiding van verkeerde inligting te ontmoedig, maar hoofsaaklik om ʼn alternatiewe narratief te verskaf, en dit was om te sê: dat inenting werk, en dat entstowwe grotendeels baie veilig is."

Mahomed lewer kommentaar oor die derde golf van die COVID-19-pandemie met ʼn mengsel van aanmoediging en hoopvolheid: “Die wetenskap van COVID-19 het geëvoleer. Ons moes aanvanklik moeilike besluite maak sonder genoeg inligting oor hoe die virus optree en hoe dit versprei. Ons het die afgelope jaar baie geleer."

Mahomed is goed geposisioneer om ʼn leidende rol te speel om hierdie uitdaging aan te spreek. Hy het by verskeie plaaslike hospitale gewerk nadat hy sy MBChB in 1985 by die Universiteit van Kaapstad (UKS) voltooi het. Hy het in 1996 ʼn Meestersgraag in gemeenskapsgesondheid by UKS gedoen voordat hy in 1998 by die Stad Kaapstad aangesluit het as ʼn epidemioloog – die eerste posisie van sy soort by die munisipaliteit.

In Desember 2012 het hy by die Wes-Kaap Departement van Gesondheid aangesluit in ʼn posisie wat geaffilieer is met die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Buiten en behalwe dat hy na die provinsie se gesondheidsbehoeftes moet omsien, bied Mahomed – wat ʼn PhD in openbare gesondheid in 2013 by UKS voltooi het – oor onderrig aan voorgraadse en nagraadse studente aan die Universiteit Stellenbosch.

Volgens Mahomed is daar baie lesse te leer van die wetenskaplike gemeenskap se spoedige reaksie tot COVID-19. “Ons moet leer van die spoed waarteen COVID​-19-entstowwe ontwikkel is en kyk hoe ons dit kan toepas op ander toestande," sê hy.

“Ons het al tuberkulose-, MIV- en diarree-epidemies vir ʼn lang tyd. Baie van hierdie siektes is voorkombaar. Kom ons kyk wat ons kan leer uit ons reaksie tot die COVID-19-pandemie om van die ander siektes aan te spreek."

Maar vir nou is die dringendste uitdaging om die verspreiding van COVID-19 te beperk. “Daar is altyd die risiko van COVID-19-virusvariante in die agtergrond," sê Mahomed. “Hoe vinniger ons ingeënt word, hoe beter. Ons hoofboodskap is: hou aan om die normale infeksiebeheer maatreëls te volg, soos om fisiese afstand te hou, maskers te dra en hande te was; vermy byeenkomste; en ondersteun die inentingsprogram.

“ʼn Belangrike kwessie is dat almal verantwoordelikheid moet neem en ons solidariteit moet bou – om onsself as ʼn gemeenskap te sien, waar ons mekaar help. As almal die voorkoming- en beheermaatreëls volg, sal ons ʼn manier hê om die verspreiding van die siekte te beperk."